En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. (Heb 12:5-8)

God se kinders kan nooit weer op enige wyse vir hulle sondes gestraf word nie, want God het hulle reeds gestraf in die persoon van Christus. Christus het die volle straf vir al hul skuld geneem, en nie die geregtigheid of die liefde van God kan dit wat Christus reeds betaal het, weer vereis nie. Straf kan nooit met ‘n kind van God gebeur nie. In die geregtelike sin kan hy nooit voor God vir straf gebring word nie. Terwyl die sonde wel nie gestraf kan word nie,  terwyl die Christen nie veroordeel kan word nie, kan wel hy getugtig word. Hy  sal nooit voor God se regsbank as ‘n misdadiger kan staan en gestraf word vir sy sonde nie. Nogtans staan hy ​​nou in ‘n nuwe verhouding – dié van ‘n kind teenoor sy ouer; en as kind kan hy getugtig word as gevolg van sy sonde. Dwaasheid is gebonde in die harte van al God se kinders en die staf van die Vader moet daardie dwaasheid uit hulle uithaal. Dit is noodsaaklik vir ons as God se kinders, om die verskil te ken tussen straf en tugtiging.

Straf en tugtiging sal heel waarskynlik baie dieselfde voel vir die een wat dit ontvang. Lyfstraf wat byvoorbeeld deur ‘n hof opgelê is sal net so seer wees as ‘n pak slae wat deur ‘n liefdevolle ouer gegee word. Straf en tugtiging verskil nie so veel in die aard van die straf nie, maar dit verskil eerder in die bedoeling van die strafgewer en sy verhouding met die persoon wat gestraf word. God straf die sondaar weens sy eie rekening, want die loon van die sonde is die dood. Die gelowige word egter nie weens eie rekening gestraf nie, dit is op Christus se rekening dat die gelowige getugtig word; en dit om hom goed te doen. Hy lê die staf op vir sy kind se eie voordeel; hy het goeie bedoelings teenoor die persoon wat die tugtiging ontvang. Terwyl straf ontwerp is vir die sondaar wat God se aanbod hardnekkig verwerp, is tugtiging vir die persoon wat getugtig word, se eie geestelike wins en voordeel. Daarbenewens word straf in toorn op die sondaar gelê. God straf hom in toorn, maar as Hy sy kind tugtig, is dit in liefde, deur die hand van liefde. God tugtig nie sonder rede nie, want Hy sien dat, as ons onbeperk sou voortgaan, ons smarte oor onsself sal bring wat duisendvoudig groter as die smarte wat ons sal ly deur Sy ligte beproewinge, en die sagte vingers van Sy hand. Daarom moet elke gelowige dit duidelik verstaan dat, ongeag wat sy omstandighede of moeilikhede mag wees, dit nooit die gevolg van straf sal wees nie. Geen kind van God moet ooit sê, “Nou straf God my vir my sonde ” nie.

Jy verstaan die basis van jou verlossing nie as jy so sou praat nie. God kan dit nie weer doen nie. Hy het dit reeds gedoen:   “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. “(Jes 53:5) Hy tugtig jou en straf jou nie; Hy verbeter jou,  Hy slaan jou nie in toorn nie. Daar is geen warm ontevredenheid teenoor jou in Sy hart nie. Daar is geen woede in sy nie bors, Hy haat jou nie, Hy het jou nog steeds lief. Dit is eenvoudig omdat hy jou liefhet, want jy is een van Sy kinders, daarom tugtig Hy jou.

Ag die tugtiging nie gering nie

Die eerste keer dat ‘n kind van God ‘n hou van sy Vader se hand ontvang, kan hy moontlik omdraai teen sy eie tere Vader en murmureer: “Hoekom moet ek hierdie ding deur gaan? Waarom word ek so gestraf en verdruk? Wat het ek gedoen om so geteister te word? “Jy sal jou dalk verwonder dat ‘n man wat die genade van Christus in sy hart het, so praat;  maar in werklikheid sê ons almal so – dalk nie altyd met die woorde van ons lippe nie, maar tog wel met  die gedagtes van ons harte, want ons gaan sit en sê: “Ek is ‘n mens wat   ellende ken – ek is meer beproef en was al langer en meer benoud as baie ander Christene. Niemand word ooit getugtig soos ek is nie. ” En ons kyk rond met die oog van jaloesie en ons roep: “Daardie man is gelukkiger as ek! Hy het baie minder hartseer en lyding.” Ons is geneig om ons eie toestand in die ergste plek te stel, en beskryf onsself maklik as die mees verdrukte van al God se mense. Alhoewel ons vandag moet bloos om dit te sê, is dit tog waar. Daar is nou net soveel murmureerders in die midde van Israel, as wat daar was in die kamp van Israel van ouds. Baie van ons was al dwaas genoeg om, as ons van ons eiendom verloor het, uit te roep, “Ag! God neem alles weg waarvoor ek so hard gewerk het. Hy slaan my met een slegte ding na die ander. Hy is sekerlik ‘n onbarmhartige God.  Ons het almal al so gemurmureer, daarom moet ons vandag luister na die vermaning: ” My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie.” Ons verag God se tugtiging, wanneer ons daarteen murmureer.

Ons minag tweedens ook die tugtiging van die Here wanneer ons sê daar is geen nut daarin nie. Daar is sekere dinge wat met ons in die lewe gebeur, wat ons dadelik toeskrywe aan die Voorsienigheid. As ‘n oom van ons byvoorbeeld sterf en ons vyftig duisend Rand nalaat, wat ‘n barmhartige daad van  die Voorsienigheid sou dit nie wees nie! As iets buitengewoon in ons besigheid gebeur, en ons skielik ‘n fortuin bekom, sou dit ‘n geseënde Voorsienigheid wees! As in ‘n ongeluk sou beland, en ons word bewaar, en ons ledemate is nie gebreek nie, is dit altyd die beskerming van die Voorsienigheid. Maar veronderstel nou net dat ons vyftig duisend Rand verloor, sou dit nie ook die Voorsienigheid wees nie? Gestel ons besigheid misluk, sal dit nie ook die die Voorsienigheid wees nie? Gestel dat ons tydens ‘n ongeluk ‘n ​​been breek  – is dit nie ook die Voorsienigheid nie? Daar is die moeilikheid: Dit is altyd die Voorsienigheid wanneer dit ‘n goeie ding is. Maar hoekom is dit nie die Voorsienigheid wanneer dit nie gebeur soos ons wil nie ? Waarlik, dit is so; want  as die een ding deur God beveel word, so is die ander. Dit staan immers geskrywe, ” Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge. “ Jes 45:7

Ek bevraagteken dit of ons nie die tugtiging van die Here minag as ons voorvalle van voorspoed stel bo voorvalle van rampspoed nie. Dit is sekerlik moeilik om te verwerk, maar tog behoort voorvalle van rampspoed net soveel dankbaarheid by ons te bring as wat voorvalle van voorspoed sou doen. As dit nie is nie, oortree ons die opdrag in 1 Thess 5:18  , Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. “ Maar ons sê, van watter nut sal so ‘n rampoed wees vir my?  Ek kan nie sien dat dit op enige manier vir my siel nuttig kan wees nie. Toe daardie ding gebeur het, het ek in genade gegroei, maar nou het hierdie iets al my ywer gedemp. Nou net was ek op die berg van versekering, maar God het my na die dal van vernedering gebring. Hoe kan dit vir my goed wees? ‘n Rukkie gelede het ek rykdom gehad, en ek het vrylik uitgedeel vir die Koninkryk van God. Nou het ek niks nie.” Watter nut kan daar wees vir my in dit? Ons minag die tugtiging van die Here as ons sê dat dit nie van nut is nie.

Ons minag laastens die tugtiging van die Here, wanneer ons nie ernstig probeer om daardeur te verander nie. Baie mense is al gedissiplineer deur God, en die dissiplinering was tevergeefs. Ek weet van mense wat sonde vasgevang was. God, deur die toepassing van dissipline, het hulle op hulle sonde gewys maar hulle het dit nooit daarna reggemaak nie. Dit is ook om die tugtiging van die Here te minag. As ‘n pa sy kind tugtig en die seun doen dieselfde ding weer direk daarna, dan wys dit dat hy sy pa se tugtiging minag.

Maak seker dat,  indien jy agterkom dat God jou dalk tugtig, jy die rede soek uitvind. Is die vertroostinge van God nie meer so ‘n vertroosting vir jou nie? Dan is daar een of ander rede daarvoor. Het jy dalk die vreugde verloor wat jy eenkeer gevoel het? Dan is daar ‘n rede daarvoor. ‘n Mens sou nie die helfte soveel gely het as ons maar na die oorsaak daarvan gesoek het nie. Ek het al ver ent mank geloop omdat daar ‘n klippie in my skoen was, maar ek het nie opgehou om dit uit te haal nie. Die gevolg was dat my voet ‘n blaas gekry het en dit was nie vir my baie lekker nie. Baie Christene loop jare lank mank weens die klippies in sy skoen, maar as hy net sou ophou loop om eers na hulle te soek, sou hy baie vinniger verligting gekry het. Wat is die sonde wat jou pyn veroorsaak? Kry dit uit en neem die sonde (klippie) weg.

Tugtiging is weens ons verhouding met ons Vader

Kinders van God wat verstaan dat hulle in ‘n verhouding met hulle Hemelse Vader staan, sal altyd die krag vind om hulle omstandighede of probleme te kan verdra. Hulle vind dat daar genoeg lig in hulle harte is, selfs in die diepte van die duisternis. Waar die wêreld duisternis het, het ons lig. Waar hulle nie hoop het nie, het ons hoop. Waar hulle op hulle eie is en daar niemand is om te help nie, het ons ‘n Hemelse Vader wat genoeg vir ons omgee om ons soos Sy eie kinders te tugtig wanneer ons dit nodig het. Want ons is seuns van die Allerhoogste, en nie onegte kinders nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.