Tydens die Eerste Wêreldoorlog was Suid-Afrikaanse troepe opgeroep om die Britte te help in die oorlog in die dorp Longueval, Frankryk. Uit die meer as 4 000 troepe wat Delville Woud verdedig het, het slegs 750 oorleef. Die Suid-Afrikaanse brigade is beveel om die woud te beset om die Britse troepe te help beskerm wat pas die aangrensende dorp Longueval geneem het. Die besetting het op 15 Julie 1916 amptelik begin. Die Duitsers het nie so maklik tou opgegooi nie en  vyandelike artillerie  het die bos verwoes, teen ‘n tempo wat met tye tot 400 kartetse per minuut was. Dit het die woud in sy totaliteit verwoes en daar het byna net boomstompe van die woud oorgebly. Die “Laaste Boom” is die enigste oorlewende berkeboom in Delville Wood, of “Devil’s Wood” soos dit ook in die Britse weermag bekend was. Hierdie enkele berkeboom is die enigste boom wat die Slag van Delville woud oorleef het, en het sedert die oorlog steeds aanhou bly groei. Die boom, ook bekend as “The Last Tree”, vorm deel van die Delville Woud Oorlogsmuseum en besoekers sal opmerk dat die stam besaai is met die skrapnel van artillerie.

Toe ek die verhaal van die laaste boom lees, het ek dadelik gedink aan ‘n ander oorlog waarvan ek in die Bybel gelees het, ‘n oorlog waarvan daar ook ‘n aandenking oorgebly het. Ons lees daarvan in

Ex 17:8-16 Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring. Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as ‘n aandenking in ‘n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg. En Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die HERE! Oorlog het die HERE teen Amalek van geslag tot geslag.

Hier is drie gedagtes wat ek kortliks wil deel:

Moses se altaar

Die eerste is dat ons lees in vers 15 dat Moses na die slag ‘n altaar gebou het. Net soos die Laaste Boom, was die altaar bedoel om die mense aan iets belangrik te herinner. Ons kry ‘n leidraad oor wat hierdie belangrike iets was, in die naam wat Moses aan die altaar gegee het: “Die Here is my banier.” Hierdie besondere Naam van God het al wêreldwyd bekendheid verwerf in sy Hebreeuse vorm: Jehovah Nissi.

‘n Banier is iets wat ‘n bepaalde groep mense identifiseer en verenig. Byvoorbeeld, ‘n militêre vlag of standaard word soms ‘n banier genoem. ‘n Banier funksioneer ook as ‘n fokuspunt vir troepe in ‘n geveg. Die Israeliete sê: “Die Here is my banier”. Dit was ‘n manier om hulself te identifiseer as die volgelinge van die Here God. Wanneer hulle fokus op die banier, is hulle verenig in hulle geloof. Wanneer die Here ons banier is, is dit soos die oorwinningsvlag wat na afloop van  die stryd gehys word. Dit vertel aan die wêreld dat ons oorwin het onder die vlag wat daarbo wapper.

Die simbool van Amelek

Edmund Burke, wat ’n lid van  die Britse Parlement was, het gesê, “The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.”   Die tweede gedagte is dat Amelek nie net ‘n fisiese nasie was nie, maar ook dat dit ‘n simbool is van die bose en slegte dinge (‘evil’) in die wêreld. Ons lees dat die Here gesê het dat Hy die nagedagtenis van Amelek heeltemal sal uitdelg. Hoekom het die Here so sterk daaroor gevoel? Die ‘Pulpit Commentary’ sê dat die spesifieke sonde van Amalek was,

  1. Dat hy God se mense aangeval het en God nie gevrees nie;
  2. Dat hy geen medelye of kompassie gehad het met sy eie mense nie; en
  3. Dat hy die kinders van God van agter af aangeval het toe hulle swak en moeg was.

Dit is vandag nog net so. Die motor of die stoof of die geyser sal mos altyd breek wanneer jy dit die minste kan bekostig. Wanneer jy swak en moeg is, dan sal jy hoor dat jy jou werk verloor het of dat die huis wat julle huur, verkoop is. Die Amelekiete van die lewe sal jou altyd van agter af aanval, jou in die rug steek of jou in die hakskeen byt. Die Here sê hier dat Hy aanstoot neem daaroor en daarom sal Hy vir Sy kinders veg.

Die Laaste Boom in Delville Woud is vir ons ‘n gedenkteken dat ons nie moet moeg word om te baklei teen die boosheid – die ‘duisternis van hierdie eeu’ – nie. Daardie soldate het hulle posisie teen ‘n groot prys verdedig, maar uiteindelik is die oorwinning behaal.

Wanneer die kinders van God ophou om passief te wees; wanneer hulle saamkom om te veg teen die boosheid van hierdie eeu, dan is die Laaste Boom in Delville woud; net soos die gedenkteken van Moses; vir hulle ‘n herinnering en ’n banier dat, op die ou end, God se goedheid sal seëvier oor die boosheid in ons wêreld.

Skryf  jou oorwinnings neer

Ek sluit af met hierdie derde en laaste gedagte: Ons lees in vers 14 dat die Here na afloop van die stryd vir Moses opdrag gegee het om die wonderwerk van hulle oorwinning neer te skrywe en dit vir Josua “in te prent” – m.a.w. hy moes dit gereeld vir Josua voorlees totdat daar nooit weer twyfel in Josua se hart sou wees dat God die herinnering van Amelek – die simbool van alle boosheid – sal uitdelg nie. Die rede hoekom ons vandag hier byeen is, is nie net om ons gevalle soldate te herdenk nie. Nee, die Laaste Boom in Delville Woud sê vir ons vandag dieselfde as wat God vir Moses gesê het: Wanneer dit met ons goed gaan of daar ‘n wonderwerk vir ons gebeur het, dat ons dit sal neerskrywe en dat ons dit gereeld sal lees en met mekaar sal bespreek – veral wanneer dit sleg gaan – totdat daar geen twyfel in ons harte meer is dat die Here ons in ons huidige situasie ook sal help en dat ons uiteindelik die finale oorwinning onder die banier van Christus sal behaal nie.

One thought on “Die Laaste Boom

  1. Amen. Wat ‘n posituewe boodskap.
    Wanneer ek hierdie beeld van Moses baie keer in my geestesoog sien, is as ek vir ons predikante bid. Ek glo dat, deur vir hulle te bid, ons hulle rûe sterk hou en hulle arms hoog. Sterkte

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.