Martin Collins haal in sy preek oor beproewinge, die Russiese filosoof Alexander Solzhenitsyn aan, wat die ontwikkeling van mense in die Ooste en die Weste in die wêreld van die 20ste eeu waargeneem het. Alexander het bevind dat, “‘n Feit wat nie betwis kan word nie, is die verswakking van die menslike karakter in die Weste, terwyl dit in die Ooste stewiger en sterker geword het. Ons is deur ‘n geestelike ontwikkeling wat Westerse ervaring ver vooruit is. Die voortdurende kompleksiteit van lewe in die skaduwee van die dood, het sterker, dieper en meer interessante persoonlikhede geproduseer as dié wat gegenereer word deur die tradisionele Westerse leefwyse. ” In hulle sekulêre omgewing het die Oosterlinge geleenthede vir karakterontwikkeling gevind wat ons nie in die Weste het nie..

Beproewinge word ​​in die moderne frase verstaan as langdurende lyding of angstigheid. Alhoewel die woord ‘beproewing’ ‘n negatiewe konnotasie vir die meeste mense het, is dit ‘n noodsaaklike element van die lewe. Dit bestaan ​​rondom ons in verskillende vorme. Die werk en frustrasies op ‘n plaas is bv. nie vreemd vir ‘n boer nie. Die storm op see is te verwagte deur die matroos. Sweet is nie ‘n verrassing vir die konstruksiewerker nie. Op dieselfde wyse is die beproewinge van hierdie wêreld ook nie onvoorsiens vir die kinders van die Here nie.

So, waarom dink ons ​​gewoonlik dat God ons straf (of ons verwaarloos) wanneer ons deur probleme geteister word? Ons sien dat beproewinge nuttig en winsgewend is vir die kind van God. Die verlore seun het bv. nie gedink om terug te keer na sy pa se huis tot nadat hy in die varkhokke verneder was nie. Hagar was hoogmoedig onder Abraham se dak en het haar meesteres verag; maar in die woestyn het sy sagmoedig en nederig geleer word. Jona het miskien lekker op die boot geslaap, maar in die groot vis se maag het hy geleer om te bid met vurigheid. Koning Manasse het as ‘n liberalis in Jerusalem gewoon en die grootste sondes gepleeg; maar toe hy in Babel in die gevangenis geboei was, het sy hart omgedraai om na die HERE te soek.

Reg deur die Bybel vind ons verwysings na plekke waar die Here ons louter soos wat goud of silwer gelouter word, bv.:

Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. (Ps 66:10)

 Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk? (Jer. 9:7)

 En in die ganse land, spreek die HERE—twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God! (Sag 13:9)

 Die Kinders van die Here mag dalk sê: “Dit is goed om ons te vertel wat die Vuuroond van die Here doen; maar ons wil darem ‘n mate van troos ook daarin hê.”

Die eerste troos wat ons vind, is die troos van die teks in Jes. 48: 10 “…I have chosen thee in the furnace of affliction.” God sê: Ek het jou uitverkies in die oond van ellende. Die vuur is warm,  maar Hy het my gekies; die oond brand, maar Hy het my uitverkies; hierdie kole is warm, maar Hy het my uitverkies, dit is ‘n plek waar ek nie van hou nie, maar Hy het my uitverkies.

Voordele om in die Vuuroond van die Here te wees

Is daar dan voordele vir ons om in die Vuuroond van die Here te wees? Ek is seker daarvan dat dit wel voordelig moet wees, want God sal nie diegene vir wie Hy lief het, daarin plaas as dit nie tot groot voordeel vir hulle sal wees nie.

Dit louter ons

Die eerste voordeel is dat dit ons louter. Die bekende prediker Charles Spurgeon vertel hoedat hy op ‘n keer na ‘n skeepsbouwerf in Glasgow geneem was.  Hy het gesien hoedat hulle die metaal in ‘n smeltoond smelt en soos water in houers gooi, waar die onsuiwerhede bo-op die gesmelte metaal gedryf het en afgeskep is. Hy merk tereg op dat die onsuiwerhede nie verwyder sou kon word as die metaal nie eers in die oond gesit en gesmelt is nie. Dit is die voordeel van die oond vir God se mense: dit smelt, beproef en maak hulle suiwer. Hulle ontslae raak van hul onsuiwerhede; en as ons maar kan ontslae raak daardeur sal ons bereid wees om al die ellende in die wêreld te ly.

Sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus (1Pet 1:7)

 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. (Op 3:18)

Dit smee ons

Die tweede voordeel is dat dit ons smee. Gesmelte metaal of goud word, nadat dit gesuiwer is, in vorms gegooi en daarna is dit gereed om gesmee of afgewerk te word tot die voorwerp wat die smid in gedagte het. Wanneer is ‘n persoon gereed om gesmee te word? Wanneer hy sê, “Nie meer my wil nie Here, maar U wil.” Jy is gereed om gesmee te word wanneer jy gewillig is om selfs dit wat kosbaar is vir jou, op te gee as dit nodig sou wees; om God se wil vir jou te bereik. Daar sou nie goeie mense in die wêreld wees as dit nie was nie vir probleme nie.

Dit vernietig ons vyande

Nog ‘n voordeel van God se Vuuroond, is dat dit ons vyande aanval en selfs kan vernietig. Onthou julle die verhaal van die tien plae in Egipte? Oor die plaag van die bose swere lees ons in

Eks 9:8-11 Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao; en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland. So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan mense en diere. En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars.

Onhou julle die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego? Nebukadnésar het beveel dat die oond sewe keer warmer verhit moes word as gewoonlik. Daarna het hy aan sy dapperste manne opdrag gegee om die drie manne vas te bind en in die oond te gooi.  Nebukadnésar het hierna gesê: “Het ons nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie? Kyk, ek sien vier manne los loop in die middel van die vuur, en die vierde is soos die Seun van God. ” Nebukadnésar het ‘n fout gemaak en die vuur te warm gemaak. Dit is net wat ons vyande dikwels doen as hulle oor ons praat en aan almal vertel  ons swakhede. In hulle poging om God se diensknegte af te breek, maak hulle ook die vuur eerder te warm en niemand glo hulle nie; en in plaas daarvan om enige skade te doen, maak net die mans dood wat God se kinders in die vuur gewerp het.

Die Vuuroond van ons eie Keuses

Ek voel dat ons nie die reeks kan afsluit sonder om te praat oor die vuuroond van ons eie keuses nie. Dit gebeur soms dat mense besluite neem wat nie goed deurgedink is nie of eenvoudig swak besluite is. Iemand bedank dalk sy werk om ‘n eie besigheid te begin en dan werk dit nie uit nie. Iemand anders verkoop dalk hulle huis of verhuis na ‘n ander dorp of land en dan werk dit nie uit nie. Hulle beland dan in die nood en begin bid dat God hulle moet help. Hulle verwagting is gewoonlik dat God ‘n wonderwerk vir hulle moet doen en as dit dan nie gebeur nie, dan raak hulle kwaad vir God of neem Hom kwalik vir hulle situasie. Hulle ervaar Hom dan as moedswillig omdat hulle glo dat Hy kan help maar nie wil help nie. Ek noem dit die Vuuroond van ons eie Keuses.

Net soos met die Vuuroond van die Here, sal daar nie altyd onmiddellik of oornag ‘n antwoord op jou situasie kom nie. In sommige gevalle kan dit wel so wees, maar my ondervinding is dat dat in die oorgrote meerderheid van situasies; God ons wel help maar dat daar ‘n tydperk in die vuuroond is voordat daar ‘n verandering of verbetering waargeneem kan word. Ek het bv. al opgemerk dat iemand so blind is vir die foute wat hy of sy gemaak het, dat hulle hoegenaamd niks uit die situasie geleer het nie. My persoonlike waarneming was dan dat ek, uit liefde vir die persoon, hom of haar liewer vir ‘n langer periode in daardie moeilike situasie sou wou sien eerder as wat daar onmiddellike verligting sou kom en hulle ‘n kort rukkie later weer deur ‘n soortgelyk situasie moet gaan weens hulle [voortgesette] besluite. Ek het ook al opgemerk dat daar, in antwoord op hulle gebede, geleenthede soos werksaanbiedinge oor mense se pad kom wat mense nie aanneem of gebruik nie en wat dan eintlik die uitkoms uit hulle situasie sou kon wees.

My slotgedagtes hieroor is dat ons verantwoordelik vir ons eie keuses in die lewe is. Die Here Jesus is nie soos ‘n goeie feetjie wat net Sy towerstaffie waai en dan is al jou probleme op ‘n einde nie. Hy sal jou help wanneer jy Hom om hulp vra, maar dit mag soms tyd neem en soms mag dit van jou vereis om ‘n totale ander rigting in te slaan. Ek glo wel dat ons moet ophou om vir God kwalik te neem vir die gevolge van ons eie besluite. Hy kan nie nou skielik op een of ander geheimsinnige manier verantwoordelik raak vir my probleme net omdat ek gevra het vir Sy hulp nie. Dit is nog steeds my probleem. Hy sal my wel help, maar ek bly steeds verantwoordelik vir my besluite en die gevolge daarvan.

Wat moet ons doen?

Miskien is jy tans in ‘n vuuroond situasie. Gaan ontleed dit en kyk of jy in die Vuuroond van die Here of in die Vuuroond van jou eie Keuses is. Bely dan aan God as jy Hom begin kwalik neem het vir jou situasie. Vra Hom om jou te help en kyk uit vir Sy hulp, maar moenie Hom kwalik neem as dit te lank neem na jou sin om te verander nie. In beide gevalle sal jou geloof jou red, want  “uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Ef 2:9)”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.