Palm Sondag is een van die belangrikste dae in die Christelike kalender na Kersfees en Paasfees. Dit is die laaste Sondag voor Goeie Vrydag en is die begin van die ‘Heilige Week’ of ‘Holy Week’, die week met die aanloop van gebeure tot en met die dood van Jesus. Palm Sondag herdenk die triomfantelike binnekoms van Jesus in Jerusalem toe Hy daarheen gegaan het om die Pasga te vier. Die evangelies beskrywe die koms van Jesus op ‘n donkie in die stad in, terwyl die skares kledingstukke en palmtakke oor die straat gesprei en “Hosanna aan die Seun van Dawid” en “Geseënd is hy wat in die Naam van die Here kom ” geskree het; om Hom te vereer as hulle lang verwagte Messias en Koning.

Gedurende Jesus se laaste week op aarde het daar drie belangrike dinge gebeur waarby ons vandag in herinnering terugdink:

Jesus gesalf by Betanië as Koning, Priester en Verlosser

Die eerste gebeurtenis van belang, het in Betanië gebeur, ‘n klein dorpie wat sowat drie kilometer buitekant Jerusalem geleë was. Ons lees daarvan in Joh 12:1-3 

En Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het.  (2)  Hulle het toe vir Hom daar ‘n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was.  (3)  En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.

Ons lees in Matt 26:6  dat Jesus en sy dissipels by Simon die Melaatse se huis oorgebly het vir die Pasga. Betanië was naby genoeg aan Jerusalem dat mens maklik elke dag daarheen kon stap. Maria het, terwyl hulle besig was om aan te sit vir aandete, toe ‘n fles nardusolie geneem en Jesus se hoof en voete daarmee gesalf. Daardie gebeurtenis het die laaste week van Jesus op aarde, amptelik ingelui. Nardus is ‘n plant wat in die Himalaja gebergtes groei en dit is moeilik om genoeg daarvan bymekaar te maak vir algemene gebruik. Derhalwe was dit baie duur en weens die waarde en welriekendheid daarvan, ook gebruik om priesters en konings mee te salf. Die olie self het 300 denarii of ‘n jaar se salaris gekos vir net ‘n halwe liter (500ml)! Toe die dissipels met Maria geraas het om dat sy die duur olie so gemors het, het Jesus vir haar opgekom en gesê dat sy dit gedoen het met die oog op Sy begrafnis (Matt 26:12). Ons sien dus dat die salwing met olie ‘n profetiese aksie was waar Maria vir Jesus toepaslik gesalf het

  • As Koning
  • As Priester en
  • As die Messias

Jesus se Segetog in Jerusalem demonstreer Sy Koningskap

Die tweede gebeurtenis word in die daaropvolgende verse beskryf:

Joh 12:12-15  Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom.  (13)  Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!”  (14)  Jesus het toe op ‘n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:  (15)  “Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom, en Hy ry op ‘n donkie.”

Dit is duidelik dat Jesus Sy Koningskap openlik verklaar het deur hierdie gebeurtenis. Die verhaal van Sy triomfantelike binnekoms in Jerusalem is een van die min voorvalle in die lewe van Jesus wat in al vier Evangelies voorkom.  Jesus het Jerusalem as ‘n oorwinnende Koning binnegegaan en Hy was deur die volk as sodanig beskou, volgens hulle optrede daardie dag. Ongelukkig was die lof wat die mense op Jesus gegee het, nie omdat hulle Hom as hulle Verlosser van sonde herken het nie. Hulle het Hom verwelkom uit hul begeerte na ‘n Messiaanse verlosser, iemand wat hulle in ‘n opstand teen Rome sou lei. Daar was baie wat, hoewel hulle nie in Christus as Verlosser geglo het nie, gehoop het dat Hy moontlik vir hulle ‘n groot Staatsman sou wees. Dit is hulle wat Hom as Koning verwelkom het saam met baie ander mense, wat Hom herken het as die Seun van Dawid wat in die Naam van die Here gekom het. Maar toe Hy in hulle verwagtinge misluk het, het die skare se kreet vinnig verander. Binne net ‘n paar dae  het hulle “Hosanna’s” in “Kruisig Hom!” verander (Lukas 23: 20-21).

Die betekenis van Jesus wat ‘n op donkie gery het en van Sy pad wat met palmtakke versier was, is ‘n vervulling van ‘n profesie van die profeet Sagaria (Sag 9: 9). In Bybelse tye was die gebruik dat konings en edeles wat die stad binnekom, op die rug van ‘n donkievul waarop niemand nog voorheen gesit het nie, gery het. Die donkie was ‘n simbool van vrede; en diegene wat op hulle gery het, het vrede verkondig. Palmtakke was weer die simbool van oorwinning. Die bekende Romeinse skrywer en staatsman Cicero het iemand wat baie oorwinnings behaal het, ‘n ‘man van baie palms’ genoem. Die gooi van palmtakke voor Jesus uit, het aangedui dat Hy die stad in oorwinning binnegekom het.

Die verhaal van die triomfantelike binnekoms in Jerusalem is een van kontraste, en daardie kontraste bevat ook toepassings vir ons as gelowiges.

  • Dit is die verhaal van die Koning wat op ‘n donkie gekom het as ‘n nederige dienskneg, nie op ‘n dapper oorlogsperd nie.
  • Hy het gekom, nie in ‘n koninklike kleed nie, maar in arm en nederige klere.
  • Jesus Hy het nie gekom met mag om aardse konings te oorwin nie, want dit sou net tydelik wees. Hy het gekom om deur liefde, Sy genade vry te stel vir aldie nasies. Sy boodskap is een van vrede met God, nie van tydelike vrede nie.

Jesus se Messiaanse Krag en Gesag word gedemonstreer

Die derde en laaste gebeurtenis waaraan ons vandag dink, is die demonstrasie van Jesus se Mesiaanse Krag en Gesag deur die vervloeking van die vyeboom en die reiniging van die tempel. Markus vertel dat dit gebeur het op die dag na Jesus se binnekoms in Jerusalem op die donkie:

Mark 11:11-14  Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk [net nadat Hy Jerusalem op die donkie binnegekom het]. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.  (12)  Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry.  (13)  Hy sien toe op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien ‘n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie.  (14)  Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Sy dissipels het dit gehoor.

Jesus het ‘n vyeboom vervloek wat vol blare was, maar sonder vrug. Dit het vrugbaar voorgekom, maar dit was basies nutteloos. In die Ou Testament, staan ​​die vyeboom dikwels as ‘n simbool vir die volk van Israel (Jeremia 8:13; Hosea 9:10).  Hierdie verhaal word geplaas net voor die verhaal van Jesus wat die tempel in Jerusalem reinig. Die vervloeking van die vyeboom was Jesus se manier om te sê dat die hele volk geestelik onvrugbaar geword het voor die Here. Hulle het die vorm o f blare van godsdiens gehad, maar nie die realiteit of vrug nie. Hulle het die regte woorde gespreek, maar hulle harte was ver van God.

Daarna het Jesus Sy Gesag in die Tempel gedemonstreer toe Hy dit vir ‘n tweede keer binne drie jaar gereining het. Ons lees daarvan in

Mark 11:15-21  Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi.  (16)  En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie.  (17)  Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.”  (18)  Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na ‘n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.  (19)  Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan.  (20)  Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is.  (21)  Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

Een van die drie verpligte feeste vir die Jode was die Paasfees en Jerusalem het begin om gevul te word deur mense – hulle het van oral af gekom, want dit was die ambisie van elke Jood; waar hulle ook al in die wêreld gewoon het – om ten minste een Paasfees gedurende sy leeftyd – in Jerusalem by te woon. By een so ‘n geleentheid was ‘n opname gedoen van die aantal lammers wat tydens die Paasfees geslag is, en dit was as 256,000 opgegee, wat – as dit korrek was – sou beteken dat daar sowat 2,7 miljoen mense by daardie Paasfees was. Selfs al was die getal ietwat oordrewe, is daar geen twyfel nie dat Jerusalem baie besig was. Daar was baie addisionele soldate in die stad en hulle leiers was senuweeagtig omdat so ‘n groot hoeveelheid mense bymekaar was op een plek. Die Joodse Sanhedrin het gevrees dat ‘n opstand deur die mense die soldate tot aksie sou uitlok. Dit was skaakmat en die Joodse Priesterdom moes hulle onderwerp aan Jesus se gesag, al was dit teen hulle wil.

Wat moet ons doen?

Twee belangrike lesse kom na vore uit vandag se oordenking:

  1. Ons kan fisies by die kerk betrokke wees, betrokke by godsdienstige aktiwiteite en geestelike werke, maar steeds geestelik ver van God af wees. Ons kan in die kerk wees, maar steeds verlore gaan. Ons kan in die kerk wees, maar onverskillig en apaties staan teenoor die gemeenskappe rondom ons.
  2. Ons is en doen volgens wat ons dink en glo. Mense tree op uit hul ware oortuigings; wat dikwels onbewustelik is. Ons huldig dikwels teenstrydige oortuigings, maar een stel van daardie oortuigings sal die ander oorheers. As ek werklik glo dat Christus se Persoon en Werk die grondslag van my veiligheid vorm en betekenis en doel aan my lewe gee, sal ek liefdevol en meelewend teenoor Christus en andere optree.

Aan die ander kant weer (selfs al glo ek in Christus), as ek onbewustelik of bewustelik op ander dinge vertrou vir my geluk of sekuriteit soos geld, posisie, lof, mag of sukses; en glo dat ek moet steun op my eie planne om my te beskerm, sal ek begin optree op selfsugtige en onverdraagsame maniere teenoor die Here en teenoor diegene wat ek as ‘n bedreiging vir my behoeftes en begeertes beskou.

Kom ons bring hierdie laaste week voor Goeie Vrydag deur, deurdat  ons elkeen onsself ondersoek in die lig van die beginsels en die waarheid van die bediening van Jesus Christus.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.