Ek onthou hoedat, as kind, ons gesin per geleentheid na die stortingsterrein buite ons dorp gegaan het. My pa het op daardie stadium oudhede versamel en verkoop en destyds was daar sulke verlate gedeeltes op die terrein waar daar nog baie waardevolle oudhede rondgelê het. Dit was veral die ou bottels en items uit die oorloë wat my pa geïnteresseer het. Ou ammunisie, houtbokse, koeldrankbottels en die mooiste gedraaide glasbottels – almal uit die 40-er en 50-er jare (dalk selfs vroeër) – het orals rondgelê en dit was behoorlik ‘n skattejag om te sien wie die meeste ‘skatte’ kon bymekaarmaak.

Die Engelse woord ‘scrutinize’ beteken om te ondersoek of te deursoek. Die konteks waarbinne ons hierdie woord normaalweg gebruik, is bv. wanneer iemand jou vra om jou lewe te deursoek (scrutinize). Dan beteken dit ons moet ons lewens sorgvuldig deursoek vir slegte en negatiewe dinge wat nie daar behoort nie; en dit is dan waar ons fokus is.

Scrutari

Ek het egter op ‘n alternatiewe oud-Romeinse konteks daarvan afgekom en dit het my so baie geseën. Die Latynse woord waarvan die Engelse woord ‘scrutinize’ afstam, is ‘scruta’; wat o.a. ‘gemors’ of ‘vuilgoed’ beteken. In die Romeinse tye het die Romeine die woord ‘scrutari’ gebruik wanneer hulle verwys het na wat ons seker vandag beter ken as ‘asblik-grawers’ – mense wat vullishope of asblikke deursoek. Dit laat ons met ‘n beeld van iemand wat vuil, armoedig en onwaardig is. Dit is egter nie die volle betekenis van die woord nie. ‘Scrutari’ beteken – ‘mense wat vuilgoedhope sorgvuldig deursoek met die doel om dit wat waardevol is, daaruit te herwin’. ‘Scrutari’verwys nie net na armoedige, onwaardige mense wat in die vullishope van die lewe vasgevang is nie. ‘Scrutari’verwys ook na ‘n persoon of persone wat opsetlik deur vullishope sif om na waardevolle items te soek! Die fokus is dus nie op die slegte en negatiewe nie. Die fokus is eerder op dit versteek is in die vullishope – amper soos ‘n skattejag! Dit is teen hierdie agtergrond wat ons luister na die verhaal in Johannes 4:1-42.

Die verhaal van die vrou by die put

Dit was ‘n warm somersdag en die Midde-Oosterse son het onverbiddelik op die Man se kop gebrand. Sweet het deur sy wenkbroue gesypel en Sy oë het lugspieelings in die verte gesien speel. Om sake erger te maak, het Hy al vanaf sonop saam met sy vriende gereis. Nou was die son direk bokant sy kop. Dit was middagete en hulle was honger. Terwyl sy vriende na die dorpie daar naby gegaan het om middagete te kry, het die Man aanhou bly stap na die plek waar die Heilige Gees gewys het dat Hy moet gaan.

Die Man het by ‘n put gekom met ‘n muurtjie wat bo-op die grond op die tipiese wyse van die Midde-Ooste gebou was. Hy het net op die muurtjie gaan sit om vir Sy vriende te wag toe daar ‘n vrou aangeloop kom. Dit was nie die gewone tyd om water te haal nie, en dit was ongewoon dat ‘n vrou juis hierdie tyd alleen alleen daar sou aankom. Maar hierdie vrou was anders. Die Bybel sê sy het van die klein dorpie Sigar daar naby gekom. Sigar was in Samaria – ‘n plek wat die Jode vermy het as hulle kon maar die roete na Galilea was deur Samaria en die Man en Sy vriende het geen keuse gehad as om daardeur te gaan nie. Die put was ongeveer ‘n halwe kilometer buite die dorp, naby die punt waar twee handelsroetes bymekaar gekom het. Reisigers van regoor Israel het geweet dat dit ‘n plek was waar hulle in die middel van die woestyn van die heerlike vars, koel water kon drink wat sowat 40 meter onder die oppervlak gevloei het.

Jesus het nie nodig gehad om deur Samaria te reis nie. Die Jode het Samaria vermy so ver hulle kon. Hy kon, soos baie ander Jode, met ‘n ompad gereis het na Galilea, maar Hy het gegaan omdat die Heilige Gees Hom gelei het. Hier sien ons dat niks per toeval gebeur in hierdie storie nie. Elke detail  was deel van die uitwerking van God se wil. Die warm dag, Jesus se dors, die put, en die vrou wat oënskynlik nagelaat het om die vorige aand water te gaan haal.  En dit is volgens my ‘n baie belangrike punt. Jy sien, die vrou  het nie na Jesus gaan soek nie. Al wat sy wou hê, is water. Maar Jesus het na haar gaan soek. Jy moet na Samaria toe gaan as jy Samaritane wil bereik. ‘n Brandweerman kan nie net buite die brandende huis staan en roep na die mense binne nie. Hy moet ingaan en hulle gaan uithaal. Net so vermy Jesus nie Samaria nie. Hy het ingegaan en haar gaan haal. Alhoewel sy dit nie geweet het nie, het hierdie vrou ‘n “goddelike afspraak” gehad met die Seun van God.

Jesus het vir die vrou om water gevra. Sy donker oë het haar deursoekend aangekyk en sy het skielik baie selfbewus gevoel. Soos die vrou in haar tipiese Samaritaanse kleredrag verbaas na Jesus gekyk het, het daar ​​vier onsigbare mure tussen hulle gestaan waarvan sy intens bewus was. Daar was ‘n godsdienstige muur, want die Samaritane het ‘n godsdiens bedryf wat sterk deur die Jode afgekeur was. Tweedens was daar ‘n geslagsmuur, want die tradisie was dat Joodse mans nie sommer gesprekke met vreemde vrouens aanknoop nie. Derdens was daar ‘n rassemuur, want die Jode het die Samaritane as van ‘n minderwaardige ras beskou en hulle verafsku. Laastens was daar ‘n morele muur, want die vrou het ‘n immorele leefstyl gelei.

Al hierdie dinge het Jesus gelukkig nie verhoed om met die vrou te praat nie. Hy was ‘n goddelike ‘scrutari’ of skattejagter; en tussen die vuil van haar lewe en tussen al die redes hoekom Hy haar moes vermy, het Hy die skat binne haar raakgesien. Sy het water vir haar liggaam kom soek, maar Hy het Water vir haar siel vir haar gebied.

Wat kan ons leer uit die verhaal

Ek glo dat die vrou by die put in baie opsigte weerspieel hoe ons bewus is van die mure wat tussen ons en God staan.

  1. Net soos sy, is ons so onder veroordeling of gefokus op die dinge wat behoort te keer dat ons God se Teenwoordigheid ervaar, dat ons God se afspraak met ons mis. Miskien sit jy vandag en jy voel so skuldig oor dit of dat of hierdie ding of daardie ding en dit het soveel mure om jou gebou dat jy ongelowig staan wanneer God die dag met jou wil praat.
  2. Alle mense is waardevol vir God, selfs al is hulle uitgeworpenes en selfs al is daar baie redes hoekom God hulle moet vermy. Samaria was ‘n onrein plek, tog het Jesus haar daar gaan besoek en die waarde in haar na vore gebring.
  3. God is bereid om deur die dinge wat jou diskwalifiseer, te breek sodat Hy jou kan uitred en help.
  4. Die vrou by die put is naamloos. Niemand weet tot vandag toe wie sy was nie. Jy het nie nodig om ‘n somebody te wees voordat God jou raaksien nie.

Wat moet ons doen?

Jesus se lewe op aarde stel vir ons die perfekte voorbeeld. Die verhaal van die vrou by die put leer vir ons dat Hy ‘n skattejagter is wat nie bang is om Sy hande vuil te maak sodat Hy die skatte kan huis toe bring nie. Ek is vas oortuig dat daar elke dag baie mense rondom ons is met wie God ‘n afspraak het. Ek is ook vas oortuig dat, net soos wat Jesus gebruik was, die Heilige Gees jou ook wil gebruik om ‘n ‘scrutari’ te wees – iemand wat deur die mure en die vuil sal kyk en die skatte binne ander mense sal raaksien.

Die Lewende Water wat Jesus vir die vrou aangebied het, is vandag nog beskikbaar vir elkeen wat daarvan wil drink. Die Heilige Gees soek mense wat bereid is om saam met Hom na die skatte te soek. Jy hoef nie te loop en dweep met die Bybel onder jou arm nie, maar doen daardie ekstra bietjie moeite met die mense om jou. Nooi hulle saam kerk toe of selgroep toe. Vra hoe gaan dit en stel belang. En as die tyd reg is, wees wakker om ook die Lewende Water aan hulle te gee.

One thought on “Die Vrou by die Put

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.