God het bonatuurlik ingegryp en vir Josua en die Israeliete gehelp om Jerigo in te neem. Jerigo was ‘n stad wat baie goed beskerm was. Dit was bekend as ‘n fort of ‘n vesting. Hy is nie net magtig om ons te help nie, Hy is ook gewillig om dit vir jou en vir my te doen. Kyk net wat belowe Hy in 2 Kor 10:4-5  want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,  (5)  terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus…

Die Skrif sê dat ons toegerus is om vestings neer te werp. Ons Jerigo is [on]gelukkig nie vleeslik nie, daarom is ons wapens ook nie vleeslik nie. Die Jerigo in jou lewe is nietemin ook ‘n vesting. Miskien sukkel jy met ‘n verslawing, of met jou gesondheid of met jou verhoudings. Dalk is dit jou finansies. Wat dit ookal mag wees, dit is sterk, net soos die fisiese Jerigo vir Israel sterk was. En net soos Israel, gaan jy ‘n bonatuurlike daad van ‘n bonatuurlike God nodig hê om jou te help. Ons het waarskynlik almal al die definisie gelees van geloof in Heb 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Wanneer ‘n mens vir ‘n rukkie die pad gestap het as ‘n kind van God, dan kom mens gou agter dat dit nie altyd heeltemal so maklik is om te glo nie. Geloof vereis ‘n vaste vertroue op die een wat vertrou moet word. Baie mense sukkel nietemin om God met ‘n vaste vertroue te vertrou. Ons lees dat die Josua en die Israeliete vir Jerigo oorwin het deur geloof: Heb 11:30  Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. Hulle vertroue was onwrikbaar vas in die Woorde van God [of instruksies] wat Josua vir hulle gegee het; en hulle het dit stiptelik gevolg. Daardie geloof of vaste vertroue in God was die krag agter die gebeure by Jerigo.

Gehoorsaamheid is die fondasie van geloof

Tog vind ons dat gehoorsaamheid aan God se Woord of instruksies, een van die moeilikste dinge is vir ‘n Christen om te doen. In sy brief aan die Christene in Rome verwys Paulus spesifiek na hierdie probleem: Rom 7:18  Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.

Hoekom is dit so moeilik? Paulus beskrywe dat as volg in Gal 5:16-17  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;  (17)  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Die vleeslike verstand is ons verstand wat ons daagliks gebruik. Ons reguleer dit self en besluit self wat ons gaan aanneem en wat nie. Jy sal gehoorsaam wees aan die begeerlikhede van die vlees of aan die Woord van God. Die woord ‘vlees’ soos dit in die Skrif gebruik word, verwys eenvoudig na ons liggaam – ons vyf fisiese sintuie. As jy die begeerlikhede van die vlees bly vervul, sal dit jou naderhand doodmaak. Dit is ongelukkig ‘n harde waarheid: As jy vleesgesind is, sal jy deurentyd na die luste van die vlees wil wandel. ‘n Geesgesinde ingesteldheid daarteenoor, bring weer lewe en deurbrake. Hoekom?

Om ‘n kragtige Christen te wees, moet jou gees, opgelei in die Woord, in beheer wees van jou verstand en liggaam. Die bevelsketting (‘chain of command’) is gees (hart) – siel (verstand) – liggaam (vlees). Die woorde gees en hart kan wederkerig gebruik word; die woorde siel en verstand kan wederkerig gebruik word; en die woorde liggaam en vlees kan wederkerig gebruik word. Jou verstand moet gehoorsaam wees aan wat jou hart dit beveel, en jou hart moet deur die Heilige Gees opgelei wees in lyn met die Woord van God.

Paulus sê dat die vlees begeer teen die gees (die menslike gees, die hergebore gees van ‘n man) en die gees teen die mens se vlees. Die gees van ‘n mens vereis dat die vlees hom gehoorsaam, maar die vlees is onwillig om sy beheer te gee. Voordat ‘n man wedergebore word, oorheers sy vleeslike (liggaamlike) begeertes sy lewe heeltemal en so sal dit voortgaan, tensy sy verstand deur God se Woord vernuwe word. Sy vlees sal probeer om voort te gaan om ongehinderd en ongereguleerd te leef, aangesien dit jare lank die vryheid gehad het om dit so te doen. Wanneer ‘n mens se verstand nie vernuwe word nie, trek sy gees eenkant toe, na die begeerte van die Heilige Gees; maar sy liggaam en sy gedagtes probeer om te lewe soos hulle nog altyd geleef het, na die wêreld se orde van dinge: Rom 7:22-24  Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens;  (23)  maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.  (24)  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Toe die mens weergebore is, het sy gees ‘n nuwe skepsel geword in Christus Jesus, maar sy verstand en liggaam het onveranderd gebly. Nou is sy gees reg met God, maar sy verstand en liggaam moet opgelei word om gehoorsaam te wees aan sy gees. Daarom  leer ons dat ons elke gedagte gevange moet neem in gehoorsaamheid aan Jesus Christus.

Geloof en Vrees

Die mens word gelyktydig in twee verskillende rigtings getrek. Om iets te stoot of te trek, het mens krag nodig. Krag word uitgedruk in die fisika as enige interaksie wat die beweging van ‘n voorwerp verander. Die formule vir Krag is Massa x Versnelling. Teen hierdie agtergrond, kan ons geloof sien as ‘n krag. Ons daaglikse gedrag of optrede word bepaal deur die uitwerking of krag van ons geloof om die beweging van ons gedrag te verander.

Geloof is nie ‘n verstandelike krag nie. Dit is ‘n geestelike krag. Geloof is ‘n tasbare krag. Geloof sal dinge verander. Geloof sal ons liggaam verander. Dit sal ons verstand verander; en dit sal ons hart verander. Geloof sal selfs omstandighede verander. Geloof is nie die produk van rede of logika nie; dit is die produk van die wedergebore menslike gees. Dit is nie die produk van die verstand nie, maar die produk van die hart. Al wat nodig is, is om genoeg Geloof (Krag) uit te oefen ten einde die beweging van ons gedrag of oortuigings te verander. Die hoeveelheid geloof of krag wat ons kan uitoefen, is direk afhanklik van ons gehoorsame uitvoering van God se instruksies of Sy Woord – dit is dieselfde geestelike krag wat die fisiese mure van Jerigo tot ‘n val gebring het!

Teenoor Geloof staan Vrees. Vrees is niks anders nie as Negatiewe Geloof. Dit verwag altyd die ergste. Wanneer Vrees genoeg Krag (stoot of trek) uitoefen, sal dit, net soos geloof, ook ons gedrag of oortuigings verander. Baie van ons emosies en gevoelens word bepaal deur vrees omdat die wêreld waarin ons leef, op die krag van vrees werk. Die gevolg van redenasie buite die Woord is bekommernis. Wanneer jy buite die grense van God se Woord begin redeneer, sal jy outomaties begin om bekommerd wees. Wat gebeur as dit gebeur? Wat gebeur as dit gebeur? Wat gaan ek doen as dit nie gebeur nie? Net soos Geloof, is Vrees ook ‘n geestelike krag. Vrees is ook sterk genoeg om ‘n uitwerking te hê op die fisiese dinge rondom ons.

Die krag van vrees is ‘n tasbare krag. Sal vrees die menslike liggaam verander? Jesus het gesê dat mense se harte sall beswyk van vrees en spanning van die dinge wat oor die wêreld gaan kom. Vrees sal die kleur van ‘n man se hare verander. Dit sal die kleur van ‘n man se vel verander. Vrees sal sy fisiese liggaam verander. Dit sal hom siek maak. Vrees sal hom in ooreenstemming bring met die wêreld. Dit sal sy gedagtes beheer. Vrees sal sy liggaam doodmaak.

Vrees en Angs aktiveer Satan op die manier waarop Geloof God aktiveer. Waarom aanvaar die wêreld nie die logika dat as vrees ‘n geestelike krag is wat ‘n man siek sal maak nie, dan sal geloof, die teenoorgestelde geestelike krag, hom gesond maak? As die krag van vrees ‘n mens kan gevange neem, dan kan die krag van die geloof hom mos bevry. Waarom het ons baie vertroue in vrees en nie in geloof nie? Dit is omdat ons redeneer buite die Woord van God. Ons redeneer volgens die wêreld se orde. Aan die ander kant redeneer geloof deur die Woord van God.

Wat moet ons doen?

Ef 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  (9)  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Alles in hierdie vers is ‘n gawe van God. Genade is ‘n gawe van God, Verlossing is ‘n gawe van God; en die Geloof om Verlossing te ontvang is ‘n gawe van God. Hierdie geloof is die gawe van God; dit is nie van jouself nie. Dit is nie ‘n menslike of sielkundige geloof nie. Die geloof wat na jou oorgedra is, is gebaseer op God se eie geloof. Daar is ‘n vorm van sielkundige menslike geloof of vertroue wat deur die verstand en ervaring verkry word. Dit is ‘n vertroue in wesenlike dinge wat sou glo, byvoorbeeld, “Ek sal op hierdie stoel sit en dit sal nie breek nie.” Dit is nie die geloof waarvan ons praat nie.

Die Bybel praat van ‘n gawe van God se geloof wat aan jou gegee is om te hou. Dit is joune. Dit woon binne jou gees. Dit is daar om ontwikkel en gebruik te word in jou daaglikse lewe. Die regverdiges sal deur die geloof lewe. God het aan jou hierdie kragtige geloof gegee om jou in hierdie lewe te onderhou. Dit is so kragtig dat selfs ‘n bietjie so groot soos ‘n mosterdsaad ‘n berg kan optel en in die see kan gooi. Elkeen wat die nuwe geboorte ontvang het, elkeen wat Jesus die Here van sy lewe gemaak het, elkeen wat wedergebore is, het reeds hierdie geloof in hom gehad – anders kon hulle nie wedergebore word nie.

Wat jy en ek moet doen, is om ons geloof te ontwikkel deur dieselfde te doen as wat die Josua en die Israeliete gedoen het by hulle Jerigo – ons moet ons verstand en liggame heroplei tot gehoorsaamheid in God se Woord totdat die krag van ons geloof sterker word as die krag van ons vrees; dan sal die mure van ons Jerigo ook val.

2 thoughts on “Die Krag agter Jerigo

  1. Goeie more. Heel toevallig op jul pragtige verwerking van die Jerigo mure afgekom. Dit het my baie geseën. Dis die boodskap wat ek vandag wou hoor. Mag ander wie die artikel lees, ook daardeur gestig word. Vrede en seën. Trudie

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.