Die enigste oorlewende van ‘n skipbreuk het op ‘n klein, onbewoonde eiland uitgespoel. Hy het angstig tot God gebid om hom te red, en elke dag het hy die horison vir hulp deursoek, maar niemand het gekom nie. Uitgeput, het hy uiteindelik daarin geslaag om ‘n klein hut uit opdrifsels te bou om hom teen die elemente te beskerm en sy paar besittings in te stoor. Eendag, nadat hy teruggekeer het van sy daaglikse soektog na kos, het hy by sy hut gekom net om dit in vlamme te te sien opgaan. Die rook het donker teen die lug uitgebol. Die ergste het gebeur; alles was verlore.

Hy was gebroke van smart en woede. “God, hoe kon jy dit aan my doen!” hy het gehuil. Vroeg die volgende dag is hy wakker gemaak deur die geluid van ‘n skip wat die eiland nader. Dit het gekom om hom te red. ‘Hoe het julle geweet ek was hier?’ het die vermoeide man aan sy redders gevra. “Ons het jou rooksein gesien,” het hulle geantwoord.

Die lewe is ‘n toets

In my eie lewe het ek agtergekom dat God my voortdurend toets. Ek het verstaan dat die Bybel ons leer dat ons getoets moet word, maar ek het gedink dat God die een of ander geheime rede het daarvoor wat ek nooit sal verstaan nie. Eers in my later jare het ek begin begryp dat ‘n goeie bouer of ontwikkelaar altyd eers die integriteit of sterkte van ‘n klaar geboude module sal toets voordat hy ‘n projek verder sal bou of ontwikkel. Toetse in ons lewens is nie ontwerp om die lewe vir ons sleg te maak nie. Dit beteken bloot dat God die integriteit toets van ‘n gedeelte voordat Hy verder bou of ontwikkel in ons lewens. God toets voortdurend mense se karakter, geloof, gehoorsaamheid, liefde, integriteit en lojaliteit. Hy het Abraham getoets deur hom te vra om sy seun Isak te offer. Hy het Jakob getoets toe hy ekstra jare moes werk om Ragel as sy vrou te verdien. Adam en Eva het hul toets in die tuin van Eden misluk, en Dawid het verskeie kere sy toetse van God misluk. Maar die Bybel gee ons ook baie voorbeelde van mense wat ‘n groot toets geslaag het, soos Josef, Rut, Ester en Daniël.

Die Bybel sê in 1 Kor 10:13  Geen versoeking [toets] het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek [getoets] word nie; maar Hy sal saam met die versoeking [toets] ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

As ons verstaan dat die lewe ‘n toets is, besef ons dat elke dag belangrik is. God wil hê dat ons die toetse van die lewe moet slaag, daarom sal Hy nooit die toetse toelaat om groter te wees as die genade wat Hy aan ons gee om hulle te hanteer nie.

Vandag kyk ons na drie toetse van ons geloof: die toets van ons geloof, die toets van ons hoop en die toets van ons liefde.

Ons geloof word deur probleme getoets

Ons lees in Jak 1:2-4  Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge [probleme] val,  (3)  omdat julle weet dat die beproewing [of toets] van julle geloof lydsaamheid [uithouvermoë] bewerk.  (4)  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

Wanneer jy deur sulke toetse gaan, kan jy weet dat dit ‘n geleentheid is vir jou om jou geloof te ontwikkel sodat jy God meer kan vertrou. Pastor Rick Warren noem ‘n paar van hierdie toetse.

Een van die toetse is die druk toets en dit vra die vraag, “Hoe sal jy stres hanteer?” Sal jy van jouself afhanklik wees, of sal jy van God afhanklik wees? Ons leer in Ps 50:15  en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Nog ‘n toets is die volhardingstoets en dit beantwoord die vraag: “Sal ek my verpligtinge nakom?” Die lewe gaan oor die maak van verbintenisse. Die probleem wat ons vandag het, is dat die meeste mense half verplig is aan twee dosyn dinge in plaas daarvan om heeltemal toegewyd te wees aan die een of twee dinge in die lewe wat regtig saak maak vir nou en die ewigheid.

Die prioriteitstoets is die belangrikste toets, en dit vra: “Wie sal eerste in jou lewe wees?” Hoe weet jy of God die eerste prioriteit in jou lewe is? Stel jouself hierdie drie vrae: Waaraan dink jy die meeste? Waarheen gaan jou geld eerste? Hoe spandeer jy jou tyd? Jou antwoorde sal die prioriteite in jou lewe openbaar.

God het ewige beloning vir ons as ons hierdie toetse slaag: Jak 1:12  Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.

Ons hoop word getoets deur ons besittings

Ons leer in Heb 11:1 dat geloof ‘n vaste vertroue is van die dinge waarop ons hoop. Die tweede toets wat ek opgemerk het, is dat ons hoop op God getoets word deur ons besittings en gesondheid. Hoe sal ons reageer wanneer ons besittings van ons weggeneem word en dit vir ‘n tyd lank nie so goed met ons finansies of gesondheid gaan nie? ‘n Bekende toets oor besittings en gesondheid in die Bybel is die verhaal van Job, wat ‘n baie ryk man was en wat al sy besittings en selfs sy kinders op een slag verloor het. Ek het opgemerk dat materiële sukses of spoedige genesing van siekte by baie mense ‘n toets is van hoe sterk hulle geloof is. As dit met hulle swaar gaan, dan voel hulle daar is daar fout met hulle geloof.

Die vervalsing van Bybelse hoop is ‘n voorspoed-evangelie [‘prosperity gospel’] ingesteldheid wat daarop aandring dat ons hoop [die bewys van ons geloof] in materiële besittings, beter gesondheid of groter sukses is. Hierdie soort hoop beskerm ons deur ons omstandighede eerder as die verwagting van God se verlossing. Ons hoop moet  nie in ons besittings of ons gesondheid wees nie.

Bybelse hoop stel nie teleur nie, want die liefde van God is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. … Omdat Christus in jou is, die hoop op heerlikheid (Kol 1:27), kan jy verwag dat die heerlikheid van God weldra in elke area van jou lewe sal skyn, insluitend jou familie, werk, bediening, gesondheid en finansies! Ons lees in Psa 146:5  Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God.

Wat is Bybelse hoop dan? Dit is ‘n vaste vertroue dat God ‘n waarmaker van Sy Woord is. Dit is ‘n onwankelbare hoop in die beloftes van Sy voorsiening:

Fil 4:19  En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Luk 12:22-23  En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.  (23)  Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.

Met elke belofte is daar wel ‘n voorwaarde. God wil hê dat ons moet leer om Hom meer te vertrou sodat Hy ons behoeftes kan vervul en ons lewe kan seën. Ons leer God om meer te vertrou deur ons vertroue op Hom uit te oefen.

Ons liefde word getoets deur mense

Daar is drie woorde vir liefde in die Grieks. Die eerste is filê-oo. Dit is die liefde wat vriende vir mekaar het. Die tweede is ero-oo (soos bv. eroties). Dit is die liefde wat ‘n man en vrou vir mekaar het. Dan is daar agape liefde. Dit is ‘n onbaatsugtige liefde, soos wat God vir die mens het. Paulus praat van hierdie liefde in die hoofstuk oor die liefde in 1 Kor 13.

God gebruik dikwels mense in jou lewe om jou geloof te toets en te strek en te ontwikkel. Ek is seker daarvan dat elkeen van ons meer as een voorval sal kan opnoem wanneer mense ons teleurgestel het. Die lewe is dikwels teleurstellend. Loopbane, huwelike en selfs planne werk nie altyd uit volgens hoe ons hulle beplan het nie. Maar die mees teleurstellende ding in die lewe is mense. Hoekom? Ons word teleurgesteld deur mense omdat ons verwag dat hulle ‘n behoefte sal kan hanteer wat net God self kan ontmoet. Hierdie is ‘n toets! Mense is nie die probleem nie, en dit is ook nie die antwoord op die probleem nie. Die antwoord is God. As jy van ander mense verwag om jou verlosser te wees, sal jy altyd teleurgestel word. Ons leer in Jer 17:7  Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.

Wat volgende?

Dit is maklik om moedeloos te raak wanneer dinge sleg gaan. Maar ons moet nie die moed verloor nie, want God is in ons lewens aan die werk, selfs in die middel van pyn en lyding. Ons lees in Eks 20:5 dat die Here ‘n jaloerse God is. Dit beteken dat Hy ons liefhet en nie graag ons liefde wil deel met ander dinge of afgode nie. Hy wil graag hê dat ons op blindelings Hom sal vertrou soos wat ‘n kind op sy ouers vertrou.

Onthou, die volgende keer wanneer jou hut tot op die grond brand – dit kan dalk net ‘n rooksein wees wat die genade van God na jou roep.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.