Tommy Lessing

2017/08/06

Wie van julle kan die verhaal van Sneeuwitjie of die Slapende Skoonheid onthou? Aan die einde van die verhaal het die pragtige prinses in ‘n diepe slaap geval. Na ‘n lang tyd het ‘n aantreklike prins haar gesien en lief geword vir haar. Op ‘n dag het hy haar gesoen en het sy uit haar diepe slaap ontwaak, en hulle het vir altyd gelukkig saam gelewe. Die verhaal van die Slapende Skoonheid toon in vele opsigte, ooreenkomste met Jesus (die aantreklike prins) en die Kerk (die Slapende Skoonheid). Beide beklemtoon bv. die geveg en die uiteindelike die oorwinning van die Goeie oor die Bose, die krag van onselfsugtige liefde en die gelukkige uiteinde.

Wanneer jy met mense oor hulle God-ervaring gesels, dan is dit verbasend oor hoeveel mense sal rapporteer dat hulle bv. die sang in die kerk geniet, maar nooit werklik ‘n diepe konneksie met God het nie. Hulle sal sê dat hulle die Heilige Gees in geloof ervaar, maar daar is nie per se ‘n persoonlike konneksie nie. Sommige sal weer van hulle private stiltetyd sê dat hulle gereeld probeer bid of Bybel lees, maar dat hulle dit meer doen uit dissipline of gewoonte as wat hulle ‘n bevredigende en opbouende ervaring met God het in hulle stiltetyd. ‘n Ander punt wat vir my opvallend is, is die hoeveelheid mense wat sal rapporteer dat hulle dieselfde vers of hoofstuk uit die Bybel ‘n paar keer oor sal lees, maar daarna geen werklike begrip het van wat hulle pas gelees het nie. Daar is baie mense in die kerk en selfs buite die kerk, wat intelligent en  selfs emosievol oor verhoudings en liefde kan praat, maar wie se harte aan hulle binnekant dood is. Hulle kan oor liefde praat, maar hulle sukkel om dit op geestelike vlak te ervaar. Dit is asof hulle gees aan die slaap is. Die Bybel verwys verskeie kere na so ‘n toestand, bv.

Jes 29:10  Want die HERE het oor julle uitgegiet ‘n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë—die profete—toegesluit en julle hoofde—die sieners—toegebind.

Jes 56:10  Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer.

Mark 13:35-36  Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;  (36)  dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.

Paulus praat ook oor die hierdie toestand in

Rom 11:8  Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.

Die Griekse vertaling vir ‘gees van diepe slaap’ is ‘pneuma katanugeos’. Die woord ‘katanugeos’ verwys na die afstomping van gevoelens in ‘n sekere area weens die afsny van toevoer daarheen (soos bv. ‘n been wat slaap as jy te lank verkeerd sit), of ‘n afstomping wat plaasvind (soos wanneer jy hard met ‘n voorwerp geslaan of aanhoudend op dieselfde plek met iets soos ‘n naald geprik word). Paulus gebruik die woord nie om ‘n fisiese toestand te beskrywe nie, maar ‘n geestelike toestand.

Oorsake van ‘n sluimerende gees

Wanneer ons na hierdie teksverse kyk, dan blyk dit dat die Woord vir ons wil leer dat sekere areas van jou gees afgestomp of aan die slaap kan raak. Die konteks van die woord ‘katanugeos’ lei ons na die moontlike oorsake van wat ons ‘n ‘sluimerende gees’ kan noem:

Afsny van toevoer: ‘n Gebrek aan gesonde versorging en/of positiewe ervarings

‘n Gebrek aan gesonde versorging, liefde en positiewe ervarings kan daartoe lei dat ‘n persoon se gees in ‘n diep slaap verval, net soos ‘n ledemaat aan die slaap kan raak weens ‘n afsny van die bloedtoevoer daarna. Beraders meen dat ‘n sluimerende gees op twee wyses veroorsaak word. Die eerste is as ‘n baba of terwyl die persoon nog baie jonk is en nie die liefde, omgee en versorging ervaar wat hy veronderstel is om te ervaar nie. So ‘n persoon se gees val dan ‘n diep slaap en hy of sy sukkel om liefde of toenadering te hanteer. Hulle is van jongs af agterdogtig as iemand toenadering soek of vriendelik met hulle is. Hulle hou baie keer ook nie van fisiese aanraking nie. ‘n Tweede groep ontvang wel die nodige versorging en liefde maar draai in hulle latere lewens weg van kerkdienste, gebed en intimiteit totdat hulle gees ook in ‘n diep slaap verval. In beide geval is daar gewoonlik ook ‘n verharde hart betrokke en kan sulke persone moeilik simpatie of empatie betoon. In albei gevalle is daar ‘n afsny van toevoer na die gees wat plaasvind, sodat die gees uiteindelik dormant raak en nie meer aktief en lewendig is nie.

 Harde houe wat gevoel afstomp

Die stampe van die lewe kan baie skade bring in ‘n mens se gees. Die tweede oorsaak van ‘n sluimerende gees is harde houe wat toegedien is en dan veroorsaak dat die persoon se gees afgestomp raak. Iemand wat herhaaldelik aan negatiewe ervarings soos molestasie blootgestel is, se gees kan afgestomp raak vir intimiteit en dit kan hulle ervaring met God baie sterk negatief beïnvloed. Baie persone kry bv. ook seer in kerke. Vir sommige persone is die slegte ervaring of ervaringe wat hulle met kerke gehad het, erg genoeg dat hulle gees in ‘n diep slaap verval en dat hulle begin sukkel om ‘n sinvolle en lewendige verhouding met God te handhaaf. Dit is asof die harde houe wat hulle ontvang het, daardie areas in hulle gees afstomp sodat dit nie ontvanklik is vir ‘n diep ervaring met God nie.

 Oormaat van prikkeling

Oormatige prikkeling is die derde oorsaak vir ‘n sluimerende gees wat deur die woord ‘katanugeos’ beskrywe word. Dit kan ‘n mens se gevoelens afstomp, sodat die intensiteit van die prikkeling erger moet raak om dieselfde resultate te behaal. Oormatige prikkelings laat ons dadelik aan verslawings dink. ‘n Bekende voorbeeld is pornografie verslawing of verslawing aan medikasie. Aan die begin is ‘n ligte prikkeling genoeg, maar later moet die prikkeling baie erg raak vir die persoon om enigsins ‘n bevredigende sensasie te ervaar. Sulke persone se gees kan ook afgestomp raak op geestelike gebied weens die prikkeling. Hulle kan bv. die sang tydens aanbidding vreeslik geniet, maar dit bly intellektueel en hulle kan maar net verwonderd rondkyk na ander mense om hulle wat ‘n dieper ervaring met God het. Dit is asof daar weens die oormatige prikkeling, dik eelte gevorm het rondom daardie areas in hulle gees.

‘n Goeie Gewete

Een van die kenmerkte van ‘n gesonde en aktiewe gees is ‘n goeie gewete. Wat is ‘n goeie gewete? ‘n Goeie wete is wanneer ons seerkry vir ons broer of suster en die Here voordat ons ‘n sondige daad pleeg. Die bewustheid van die seer wat dit gaan bring en die skade wat dit gaan aanrig in ons medemens en ons verhouding met God, weerhou ons dan om te sondig. ‘n Goeie gewete sal sterk op ware bekering funksioneer, waar ware bekering die daad is van omdraai en wegstap voordat die voorval gebeur. Ons kan sê dat ‘n goeie gewete voorkomend optree. Berou daarenteen, werk eers nadat die voorval plaasgevind het. Die woordeboek defineer berou ook as ‘sterk gevoelens van skuld’, ‘self-veroordeling’ en ‘skuldgevoelens’. Berou is self-gesentreerd en word ervaar in terme van ons eie mislukking om korrek te handel. Ware bekering word geaktiveer deur die geskenk van liefde. As ek iemand met ‘n goddelike liefde liefhet en my gees is aktief en waaksaam, sal dit my waarsku voordat ek ‘n potensieel sondige handeling uitvoer.

As ‘n persoon se gees egter sluimer, kan dit hom nie waarsku nie. Dit is asof die persoon se ore en oë toegestop is vir die skade wat hulle aanrig.  Persone met ‘n sluimerende gees mag wel oor ‘n aktiewe gewete beskik, maar dit pla hom eers nadat die persoon gesondig het. Dit werk deur die aktivering van die wet in die betrokke persoon. So ‘n persoon se gedagtes en emosies mag wel kragtig reageer op hulle gewete, maar hulle gewetens sal baie selde voor die gebeurtenis kragtig genoeg werk om die gebeurtenis te voorkom. So ‘n gewete maak slegs tot ons sleg of skuldig voel oor ons mislukkings, maar dit sal baie selde tot ware bekering of voorkomende gedrag lei.

In sy eerste brief aan Timotheus, waarsku die apostel Paulus vir Timotheus teen leraars wie se gewetes gebrandmerk of toegeskroei is. Die konteks van die woord wat Paulus gebruik, is vir wanneer mens vee brandmerk met ‘n warm brandyster:

1Tim 4:1-2  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang  (2)  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete…

Die spreekwoord sê mos dat die eerste keer altyd die ergste is, vandaar raak dit makliker om te sondig. Dit is omdat ons, ons gewetens onderdruk in daardie area totdat ons gees nie meer aktief en waaksaam is nie, maar dormant raak.

Slot

Ek glo dat elkeen van ons op die een of ander wyse sukkel met ‘n afgestompte of sluimerende gees minstens in sommige areas van ons geestelike lewens. Ek is ook oortuig daarvan dat die Heilige Gees graag ‘n werk van genesing en restourasie wil doen sodat ons kan wegbeweeg daarvan om God meer op ‘n intellektuele vlak te ervaar tot waar ons Hom meer persoonlik, intens en werklik kan ervaar. Die oplossing vir ‘n sluimerende gees word gevind in

Om ‘n sluimerende gees weer op te wek, is ‘n taak wat erns en toewyding verg. ‘n Gebed in die kerk sal genoeg wees om die proses te begin, maar sal op sigself nie voldoende wees nie. As jy dalk identifiseer met ‘n sluimerende gees en graag ook ‘n aktiewe en waaksame gees wil hê, dan wil ek jou bemoedig om die Here aan te roep in opregte en ernstige gebed om jou gees weer lewend en aktief te maak. Die Bybel leer ons in Jak 5:16 dat die vurige gebed van die regverdige groot krag het.  Gaan sien ‘n pastorale berader en ontvang innerlike genesing vir die voorvalle wat daartoe gelei het dat jou gees aan die slaap val. Spr 4:23 leer ons dat jy jou hart meer as alles moet bewaak. Raak bewus van voorvalle soos harde houe of ‘n geneigdheid om te jouself af te sny van ander as jy deur ‘n slegte tyd gaan. Kry hulp vir jou verslawings. ‘n Goeie strategie is om betrokke te raak by jou gemeente se dissipelskap program en om deel te word van jou gemeente se ondersteuningsnetwerk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.