Tommy Lessing

2017/06/19

Ek het onlangs die verhaal gelees van iemand wat iets besonders vertel het oor haar pa se begrafnis. Sy vertel dat, nadat haar pa onverwags oorlede is, hulle almal in die kerk gesit het tydens die begrafnisdiens. Skielik het haar suster se selfoon in haar handsak vibreer. Sy het gewonder wie haar sou kontak, want al haar vriende het geweet dat sy by haar pa se begrafnis was. Toe sy die boodskap lees, het sy in trane uitgebars. Dle boodskap was, ‘Ek is veilig tuis. Moet jou nie verder bekommer nie. Lief vir jou. Pa.’ Hoewel die sms duidelik aan die verkeerde nommer gestuur was, was die boodskap duidelik en het dit baie berusting vir haar en haar suster gebring.

Dit is egter nie oor menslike vaderskap waaroor ek vandag wil praat nie. Ek wil vandag praat oor die vaderskap van God. Paulus bid ‘n wonderlike gebed waarvan ons lees in Ef 3:14-15  Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus,  (15)  van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang.

Die woord ‘Vader’ in vers 14 is ‘n vertaling van die Griekse woord ‘pater’. Strong se konkordansie definieer die betekenis in die Grieks as ‘iemand wat lewe gee en hom daarna toewy aan daardie lewe’. Dit beteken ook “one in intimate connection and relationship”. Ek dink dat ek sopas beskrywe het wat die definisie van Vaderskap moet wees. Wanneer jy in die Bybelse tye grootgeword het en iemand het jou beskrywe as ‘n ‘pater’, dan was dit wat hulle van jou gedink het. Die realiteit is ongelukkig dat baie van ons grootword sonder dat ons ooit die wonder van toegewyde vaderskap ervaar het. Baie vaders was wel deel van die gesin, maar hulle was ‘afwesige vaders’ wat altyd met iets besig was wat belangriker was as jy. Ander vaders weer, het hulle families verlaat en baie van ons moes sonder ‘n pa grootword. Nog ‘n ander groep moes grootword met vaders wat outoritêr of afbrekend teenoor hulle was. Omdat dit die vader-beeld was waarmee hulle grootgeword het, het dit vir hulle ook die beeld geword van hoe hulle God as ‘n Vader begin sien en ervaar het: God is of Iemand met ‘n sweep wat net regstaan om jou te straf vir elke dingetjie wat jy verkeerd doen, of God is te besig en kan nie nog aandag aan jou ook gee nie, of Hy stel nie regtig belang wat in jou lewe gebeur nie – sulke mense is lief vir die spreekwoord, ‘God helps those who help themselves’.

Die Beeld van God as Vader

Die beeld van God as Vader het deur die eeue heen verdraai geraak sodat mense God nie meer werklik as ‘n Vader begin ervaar het nie. Iets drasties moes gebeur om dit verander. Jesus het die sluier daaroor gelig toe hy gesê het,  Joh 14:6  Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Iemand het hieroor gesê dat Jesus die Weg is, maar die Vader is die Bestemming. Ek wil vandag iets met julle deel wat vir my ‘n ‘eye-opener’ was. Weet julle hoekom Jesus vir ons sondes gely het? Ons dink baiemaal dat dit is sodat ons Hemel toe kan gaan. Petrus gee die rede in 1 Pet 3:18  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;

Hoekom het Christus gely? Om ons na God te bring. Ek dink dat ons as Christene dit soms heeltemal mis. Ons fokus so baie op Jesus en op wat Hy gedoen het, dat ons die doel hoekom Hy gely het, mis. God se doel was nie slegs dat ons na die Seun moes kom nie, maar dat ons deur die Seun na die Vader moet kom.

Ons het gesien dat die griekse woord vir Vader beteken “one in intimate connection and relationship”. Wanneer ons hierdie openbaring oor God kry, voorsien dit in ons emosionele ervaringe sekere dinge wat nie normaalweg in ons verhoudings met ons aardse vader voorsien word nie. Vise-Admiraal Jim Stockdale het met die opening van die Amerikaanse Presidensiële Debat in 1992 twee vrae in sy inleiding gevra. Daardie twee vrae vorm die kern van kinders se verhoudings met hulle vaders. Die eerste vraag is ‘Wie is ek?’ en dit bepaal ons Identiteit en Self-waarde. Die tweede vraag is ‘Wat doen ek hier?’ en dit bepaal ons doel en gee vir ons sekuriteit.  Ons gaan vandag kortliks na hierdie vier behoeftes kyk:

Identiteit

Die eerste behoefte wat deur die Vaderskap van God gevul word, is Identiteit. Verhoudings in moderne gesinne het so erg verbrokkel dat baie mense sukkel met ‘n identiteitskrisis. Navorsing op misdadigers het aangetoon dat meer as 95% van geharde kriminele ‘n swak of geen verhouding met hulle vaders gehad het nie. Wanneer mense nie weet dat hulle vader hulle liefhet en vir hulle omgee nie, dan verloor hulle, hulle identiteit. Het jy al ooit gevoel dat jy net verdra word, maar nie regtig behoort nie? Die engels is ‘tolerated but not loved’? Ek het vandag goeie nuus vir jou! Jy behoort aan die beste familie in die hele wêreld! God verdra nie slegs sy kinders nie, Hy is passievol lief vir elkeen van hulle, en dit sluit jou in! Christene wat ‘n openbaring van God se Vaderliefde gehad het, weet wie hulle is. Hulle identiteit word nie bepaal deur die nuutste modes, sosiale groepe of hulle vriende nie. Hulle wat dat hulle hemelse Vader hulle liefhet, vir hulle omgee en vir hulle in elke situasie sal bystaan en help.

Eie-waarde

Dit bring ons by die tweede emosionele behoefte wat deur die Vaderskap van God vervul word: Eie-waarde. Die oorgrote meerderheid van persone wat in sielkundige of pastorale beradingskamers beland, sukkel met verwerping of minderwaardigheid. Hulle het ‘n lae beeld van hulle self wat hulle in onuitspreeklike angs dompel. Christene wat in ‘n gesonde verhouding met God lewe, verstaan dat hulle na God se beeld geskape is. Hulle het intrisieke waarde, want God het hulle geskape. Intrinsiek beteken dat hulle waarde in hulleself het, of dat net die blote feit dat hulle lewe, waarde aan hulle gee.  As jy dalk sukkel met ‘n lae selfbeeld, of voel dat jy nie waardig is dat God tyd of moeite met jou doen nie, dan het jou Hemelse Vader ‘n boodskap vir jou: 1 Joh 3:1  Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Die God van die Heelal het so ‘n groot liefde vir jou dat Hy jou Sy kind noem!

Sekuriteit

Die derde behoefte wat deur die Vaderskap van God gevul word, is Sekuriteit. God is nie ‘n onbetrokke God nie. Hy is lief vir ons en stel belang wat in die detail van ons lewens aangaan. Kinders wat in geborge huise grootword, bekommer hulle nie oor waar more se kos of klere vandaan gaan kom nie. Hulle vra net, en pa en ma moet net voorsien. Dan is dit ‘n nuwe hokkiestok, of nuwe balletklere, of nuwe rugbytokse, of geld vir fliek. Hulle vertroue in hulle ouers is absoluut. Op dieselfde wyse, sê God, kan ons op Hom vertrou vir ons sekuriteit. Is dit vir jou nuus? Lees dan saam met my in Mat 7:7-11  Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  (8)  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.  (9)  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;  (10)  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?  (11)  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Doel

Die laaste behoefte waarna ons vandag kyk wat die Vaderskap van God vervul, is Doel. Niemand wil lewe sonder ‘n doel nie. Elkeen wil weet dat hy tog ‘n bietjie spesiaal is. Net soos geen argitek ‘n ontwerp sal teken en laat bou sonder dat dit ‘n doel nie, so het Vader God vir elkeen van ons met ‘n doel geskape. Jy is nie maar net daar om die getal vol te maak nie. Jy lewe met ‘n rede. Die bonatuurlike lewe van God vloei deur jou. Die beroemde skrywer Mark Twain het gesê, “The two most important days in your life are the day you are born and the day you find out why.” Weet jy al hoekom jy gebore is? Vra die Here om jou unieke skeppingsdoel aan jou te toon. Hier is solank ‘n leidraad in Ef 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Ons is geskape tot goeie werk wat God alreeds vir ons voorberei het. AL  wat ons moet doen, is om daarin te wandel. Halleluja!

Bemoediging

Miskien luister jy vandag na hierdie boodskap en jy dink, “Ek wens ek kon so ‘n verhouding met God gehad het.” Die goeie nuus is, dat dit wel moontlik is. Die probleem lê nie by God nie. Al wat jy moet doen, is om jou verwerping, jou minderwaardigheid, jou vrese, jou eiesinnigheid en trots – te los en na Hom te gaan. Hy sal jou ontvang soos ‘n Vader en jou koester as Sy eie. Kyk na die belofte in Op 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

As jy wil huis toe kom, na jou Vader toe, dan nooi ek jou uit om hierdie gebed saam met my te bid:

Vader God, ek wil huis toe kom. Ek wil ook iemand hê vir wie ek Pappa kan sê. Ek wil nie langer ‘n weeskind wees nie. Ek bid dat U my nou sal ontvang en my lewe van hierdie oomblik af sal verander. Dankie dat ek nou aan die beste familie in die hele wêreld kan behoort en dat U ook vir my ‘n Vader is. Amen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.