Tommy lessing

29/05/2017

Vandag mediteer ons op die Woord van God soos wat ons dit lees in

Heb 12:22-29  Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele,  (23)  by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,  (24)  en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.  (25)  Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.  (26)  Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.  (27)  En hierdie woord: nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.  (28)  Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.  (29)  Want onse God is ‘n verterende vuur.

Ons teksvers vir vandag is Hebr 12:29, ‘Onse God is soos ‘n verterende vuur’.

Dit behoort daarom nie ‘n verrassing te wees dat daar gereelde verwysings in die Bybel is na hoedat God as ‘n vuur verskyn het nie en daardeur mense se lewens onherroeplik verander het nie.

Die Vuur van God bring mense na hulle skeppingsdoel

Moses het God as ‘n verterende vuur ervaar terwyl hy skape opgepas het by die berg Horeb. Ons lees daarvan in

Exo 3:2-10  Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!  (3)  En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.  (4)  Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.  (5)  En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.  (6)  Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.  (7)  En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.  (8)  Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.  (9)  En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.  (10)  Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.

Die eerste ding wat ek sien, is dat die Vuur van God, mense na hulle skeppingsdoel neem. Hier is Moses, besig om skape op te pas en sy lewe te lewe. Sy geskiedenis het ook nie goed gelyk nie: Hy was ‘n banneling uit Egipte, waar die Egiptenaars sy lewe gesoek het en sy eie mense hom verwerp het. Hier, in ‘n vreemde land, het hy met moeite vir hom ‘n lewe gebou as ‘n vreemdeling.  Skielik verskyn die Vuur van God en verander Moses van ‘n skaapwagter na een van die mees prominente figure in die Bybel.

Die Vuur van God bring beskerming

‘n Paar hoofstukke later, in Exodus 14, sien ek die tweede ding wat die Vuur van God doen: Dit bring beskerming:

Ex 14:10-24  Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep.  (11)  En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het?  (12)  Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.  (13)  Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.  (14)  Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.  (15)  Toe vra die HERE vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek.  (16)  En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek.  (17)  En Ek, kyk, Ek sal die hart van die Egiptenaars verhard, sodat hulle agter hulle aan gaan. En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag, aan sy strydwaens en aan sy ruiters.  (18)  En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My verheerlik aan Farao, aan sy strydwaens en aan sy ruiters.  (19)  En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;  (20)  so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.  (21)  Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ‘n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.  (22)  En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant.  (23)  Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek—al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters—die see in.  (24)  En in die môrewaak het die HERE, in die vuur— en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.

Die Israeliete was baie benoud. Agter hulle was die duiwel en voor hulle was die diep blou see. Het jy ook al so gevoel? Of dalk voel jy vandag so? Die Israeliete het benoud gebid en met Moses gestry. Toe maak Moses hulle rustig en belowe hulle dat God hulle sal help. Let op dat Moses op hierdie stadium nog geen woord of kennis gehad of God hulle wel sou help nie.  Al hulp wat hy gehad het, was sy verhouding met God. Uit die kennis van sy verhouding, het  Moses die volk bemoedig. Eers nadat Moses die volk bemoedig het, het God met Moses gepraat en instruksies gegee oor wat hy moet doen.

Sê saam met my:

Die Here stry vir my

Die Here beskerm my

Die Vuur van God verwar my vyande!

Die Vuur van God bring oordeel

Ons teksvers vandag in Heb 12:29 is dat ‘ons God soos ‘n verterende vuur [is]’. In die tweede boek van Konings sien ek die derde ding wat die Vuur van God doen. Hier vind ons ‘n sekere Israelietiese koning, Ahasia. Hy het eerder die god van Elam, Baal-sebub, geraadpleeg as wat hy na die wil van God gesoek het. In 2 Kon 1 vind ons hoedat die vuur van God oordeel gebring het:

2 Kon 1:2-17  En Ahásia het deur die tralievenster in sy bo-kamer, in Samaría, geval en siek geword. Toe stuur hy boodskappers uit en sê vir hulle: Gaan raadpleeg Baäl-Sebub, die god van Ekron, of ek van hierdie siekte gesond sal word.  (3)  Maar die Engel van die HERE het vir Elía, die Tisbiet, gesê: Maak jou klaar, gaan op, die boodskappers van die koning van Samaría tegemoet, en spreek met hulle: Gaan julle, omdat daar glad geen God in Israel is nie, om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg?  (4)  Daarom dan, so sê die HERE: Van die bed waar jy op geklim het, sal jy nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe. En Elía het gegaan.  (5)  En toe die boodskappers by hom terugkom, sê hy vir hulle: Waarom kom julle nou terug?  (6)  En hulle antwoord hom: ‘n Man het opgekom ons tegemoet en aan ons gesê: Gaan terug na die koning wat julle gestuur het, en spreek met hom: So sê die HERE: Stuur jy, omdat daar glad geen God in Israel is nie, om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? Daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.  (7)  Daarop sê hy vir hulle: Hoe was die voorkoms van die man wat opgekom het julle tegemoet en hierdie woorde met julle gespreek het?  (8)  En hulle antwoord hom: ‘n Man met ‘n harige mantel en omgord met ‘n leergord om sy heupe. Toe sê hy: Dit is Elía, die Tisbiet!  (9)  En hy het ‘n owerste van vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En toe hy na hom opklim, terwyl hy juis op die top van die berg sit, sê hy vir hom: Man van God, die koning spreek: Kom af!  (10)  Toe antwoord Elía en sê aan die owerste oor vyftig: As ek dan ‘n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het vuur van die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.  (11)  En hy het weer ‘n ander owerste oor vyftig met sy vyftig na hom gestuur; en die het begin spreek en vir hom gesê: Man van God, so sê die koning: Kom gou af!  (12)  Daarop antwoord Elía en sê vir hulle: As ek ‘n man van God is, mag daar vuur van die hemel neerdaal en jou en jou vyftig verteer! En daar het die vuur van God uit die hemel neergedaal en hom met sy vyftig verteer.  (13)  En hy het weer ‘n owerste van ‘n derde vyftig met sy vyftig na hom gestuur. En die derde owerste oor vyftig het opgeklim en aangekom en op sy knieë voor Elía gebuig en hom gesmeek en vir hom gesê: Man van God, laat tog my lewe en die lewe van u dienaars, hierdie vyftig, kosbaar wees in u oë!  (14)  Kyk, vuur het van die hemel neergedaal en die eerste twee owerstes oor vyftig met hulle vyftig verteer; maar laat my lewe nou kosbaar wees in u oë!  (15)  Toe sê die Engel van die HERE vir Elía: Gaan saam met hom af; wees nie bevrees vir hom nie. En hy het opgestaan en saam met hom na die koning afgegaan  (16)  en met hom gespreek: So sê die HERE: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg—is dit omdat daar glad geen God in Israel is om sy woord te raadpleeg nie? —daarom sal jy van die bed waar jy op geklim het, nie afkom nie, want jy sal sekerlik sterwe.  (17)  En hy het gesterwe volgens die woord van die HERE wat Elía gespreek het.

Miskien wonder jy ook oor wat vir jou voorlê  in die toekoms. Dalk doen jy soos koning Ahasia en lees die ‘sterre voorspel’ of besoek jy ‘n fortuinverteller. Die Vuur van God toets harte en bring oordeel. As jy die Vuur van God in jou lewe wil ervaar sodat jy saam met Hom kan wandel, en jy is skuldig daaraan dat jy raad by ander gode gaan soek het, is vandag ‘n goeie dag om dit te bely en God se vergifnis te vra.

Die Vuur van God stel die krag van God vry

Die vierde en laaste ding waarna ons vandag kyk, is dat die Vuur van God, die krag van God vrystel.

Israel het onder koning Agab afvallig geraak en die nasie het die god Baal gedien. Hulle het later nie meer in die krag of teenwoordigheid van hulle eie God geglo nie. Ons ken almal die verhaal hoedat Elia die volk uitgedaag het. Hulle moes 450 profete van Baal bring en hy, Elia, sou alleen as profeet van God teenoor hulle staan. Elke groep moes dan n bul op altaar voorberei vir ‘n offer, maar hulle mag nie ‘n vuur gemaak het nie. Die profete van Baal moes eerste gaan maar nadat hulle die hele dag lank tot Baal gebid het, was hulle steeds onsuksesvol.

Ons lees die res van die verhaal in 1 Kon 18:28-39  En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het.  (29)  En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie.  (30)  Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was.  (31)  Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—  (32)  en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy ‘n sloot gemaak rondom die altaar, ‘n ruimte vir omtrent twee mate saad,  (33)  en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê.  (34)  Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen,  (35)  sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak.  (36)  En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het.  (37)  Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer.  (38)  Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.  (39)  En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!

Vuur in die Nuwe Testament

In die NT word die Heilige Gees dikwels met vuur geassossieer. Johannes skrywe in Matt 3:11  Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

Hierdie woorde het natuurlik letterlik in vervulling gekom met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster: Hand 2:1-4  En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.  (2)  En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.  (3)  Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.  (4)  En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Ondervinding het geleer dat, net soos in die Ou Testament, die Heilige Gees steeds ‘n verterende vuur is:

Sy vuur in jou hart bring jou na jou skeppingsdoel: Nadat die apostels met die Heilige Gees vervul is, het hulle, wat eenvoudige vistermanne was (Hand 4:13  En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd.), die evangelie met vrymoedigheid gespreek en die totale bekend wêreld aangeraak met hulle boodskap:  Hand 4:33  En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.

Sy vuur bring beskerming: Hand 16:25-26  En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.  (26)  En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.

Sy vuur bring oordeel: Hand 5:1-5  Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop,  (2)  en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.  (3)  Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?  (4)  As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.  (5)  En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.

Sy vuur stel die krag van God vry:

Hand 2:41-43  Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.  (42)  En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.  (43)  En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind.

Bemoediging

Ons het gesien hoedat Johannes geprofeteer het dat gelowiges gedoop sal  word met die Heilige Gees en met vuur. Onse God is soos ‘n verterende vuur. Hy is ‘n jaloerse God wat nie jou hart wil deel met ander gode nie.

In Hand 2:38  sê Petrus, ‘Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.’

Hier is ‘n duidelike orde wat gestel word om die gawe van die Heilige Gees te ontvang. As jy nie seker is of jy wedergebore is nie, vra iemand om jou te help. As jy nog nie gedoop is nie, vra jou leraar om jou te doop. Vra dan vir God dat jy ook die gawe van die Heilige Gees wil ontvang.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.