Tommy Lessing

2017/04/16

Nadat Jesus gesterwe het, het Josef van Arimatea en Nikodemus na die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gegaan en gevra of hulle die liggaam van Jesus mag kry om dit te begrawe. Heel eerste moes hulle Hom van die kruis afhaal. Dit was op sigself nie ‘n maklike taak nie. Hulle moes hulle ‘n leer bring om teen die kant van die kruis op te klim. Daarna moes die middelste deel van die liggaam vasgemaak word met toue voordat hulle die hande deur die spykers kon trek om dit los te kry. Daar was nie ‘n ander manier nie want hulle sou op geen wyse die spykers uit die hout kon trek nie. Daarna sou hulle Sy voete op dieselfde manier losgemaak het voordat hulle die liggaam tot op die doeke wat hulle gebring het, kon laat sak het.

By die nuwe graf gebring het wat Josef voorberei het, sou hulle eers al die ou bloed van die liggaam was voordat hulle dit in vars, nuwe linne saam met die speserye wat Nikodemus gebring het, toegedraai het. Jesus se kop was met ‘n aparte, skoon doek toegedraai. Ons kan maar net dink hoe hartseer hulle moes wees terwyl hulle die liggaam skoongewas en al die gesel wonde en ander seerplekke moes sien. Hulle het toe die grafsteen teruggerol tot voor die opening na die graf en met swaar harte weggegaan. Saam met Jesus het hulle ook die droom van ‘n redder en verlosser begrawe.

Die gebeurtenis daarna word beskrywe in Joh 20:1-9  En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was.  (2)  Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.  (3)  Toe gaan Petrus en die ander dissipel uit en kom by die graf.  (4)  En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom.  (5)  En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie.  (6)  Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê;  (7)  en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik.  (8)  Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo.  (9)  Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.

Ons teksverse is verse 6 tot 7, wat ons by hierdie vraag uitbring:

Wat is die boodskap van die grafdoeke?

Die verteller van die verhaal vestig ons aandag pertinent op die doeke binne die graf. Dit is asof hy ‘n belangrike boodskap wil oordra. Wanneer ons in gedagte hou dat die beskuldiging na die tyd gemaak was dat die dissipels die liggaam weggesteek het, raak die boodskap van die grafdoeke opeens meer betekenisvol.

Die doeke was nog daar

Die eerste belangrike ding wat ons opmerk, is dat die doeke nog daar was. Die feit dat die doeke nog daar was, hou ‘n belangrike implikakasie in: Indien die liggaam gesteel was, sou die diewe nie nog tyd verspil het om die grafdoeke van die liggaam af te draai en daarmee saam ook nog te sukkel om die 50kg speserye (Joh 19:39) wat Nikodemus gebring het, daarvan los te kry nie. Onthou dat die lyk se vloeistowwe asook die balseming proses, die grafdoeke sou laat vasplak het teen die lyk en veral teen die menigvuldige wonde. Iemand wat die lyk wou steel, sou nie nog die moeite doen om die liggaam uit die doeke en die speserye los te wikkel nie.

Die doeke was opgerol of opgevou

Die tweede belangrike dinge wat ons opmerk, is dat die doeke, met spesifieke verwysing na die doek wat oor die kop gegooi was, opgerol of opgevou was. Dit dui weereens daarop dat daar nie haas was nie. Iemand wat die lyk vinnig wou verwyder, sou nie nog tyd mors om die grafdoeke netjies op te rol nie. Die kopdoek, wat spesifiek uitgesonder word dat die netjies opgerol of opgevou was, sou eerder eenkant gelê het. Iemand wat die lyk wou gaan wegsteek op ‘n ander plek, sou ook waarskynlik eerder al die doeke (veral die kopdoek) wou saamneem – eerstens omdat dit grillerig sou wees om met ‘n lyk te werk wat die heeltyd na jou staar, en tweedens omdat hulle sou wou vermy om aan die lyk self te raak.

Die doeke was leeg

Die manier hoe die doeke gevind was, is eerder vertellend van iemand wat geslaap, wakker geword en sy bed opgemaak het. Om ‘n redelike afleiding te maak, moet ander redelike afleidings uitgesluit kan word. Die geheime boodskap van die grafdoeke sluit ander redelike afleidings wat mens kan maak, uit, bv:

  • Die liggaam was steeds in die graf en die dissipels het gejok. Vroue in die Nuwe Testamentiese tye, se woord is nie sommer net aanvaar nie. Johannes het, volgens die Joodse tradisie, nie Maria se woorde sommer net op sig aanvaar nie. Ons lees in vers 8 dat hy eers geglo het dat die graf leeg was toe hyself die graf binnegegaan en gaan kyk het. Jesus se vyande kon ook die bewering oor die lee graf maklik weerlê deur slegs na die graf te gaan en self te gaan kyk. Hulle het dit toe ook so gedoen en het saamgestem dat die graf wel leeg was.
  • Die ander redelike afleiding is dat iemand die liggaam skelm verwyder het. Redelike afleidings moet ondersteun word deur feite aangrensend tot die afleiding. In hierdie geval ondersteun die feit dat die dissipels bereid was om gemartel en vermoor te word, eerder die afleiding dat Jesus opgestaan het as die afleiding dat hulle die liggaam gaan wegsteek het.. Ons het ook so pas gesien hoedat die boodskap van die doeke self so ‘n moontlikheid uitsluit weens die proses wat gevolg sou moes word om die doeke los te wikkel van die lyk.

Die Blye Boodskap

Die blye boodskap van die grafdoeke vir my en jou, as gelowiges, is dit: Niemand het Christus se lewe weggeneem van Hom nie. Hy het dit vrywillig neergelê; sodat ek en jy saam met Hom vir ewig kan lewe.  Die geheime boodskap van die grafdoeke word mooi saamgevat in die woorde van ‘n bekende pinkster lied wat lui: “Die graf is leeg, sien die doeke lê, die Here is nie hier nie, Hy het opgestaan!”

3 thoughts on “Die geheime boodskap van Jesus se grafdoeke

  1. Se my of die waar is
    Jesus was n Jood
    As jy n maaltyd saam met die Jode geeet het en jy neem jou doek op jouskoot en vrommel dit op nsa jou ete en sit dit op die tafel ……Beteken dit dat jy nie lekker geeet het nie en nie weer sal terug kom nie.
    as jy die doek opgevou het se jy dankie en ek sal weer terug Kom
    Was die kop doek van Jesus nie deur homself op gevou nie om te se Ek kom weer terug ..
    Ek is Anton aat my weet
    antom@centralmilk.com

    Like

    1. Hi Anton, baie dankie vir jou vraag. Ek het ook so geglo en dit het so mooi geklink. Toe ek begin navorsing doen het vir die boodskap, het ek besef dat dit waarskynlik niks anders as net n mooi legende is nie. Ek mag verkeerd wees, maar my navorsing kon die tradisie nie bevestig nie. Nie een van my Joodse bronne weet van so ‘n tradisie wat in Jesus se tyd (en selfs vandag) in gebruik was nie. Tweedens sou so n belangrike tradisie beslis deel gevorm het van die Joodse Paasete of Seder, wat vandag nog fundamenteel dieselfde is as wat dit in Jesus se tyd was. Dit kom nerens in geen geskrifte voor nie. Totdat ek bewyse tot die teendeel vind, is dit vir my ongelukkig net n mooi legende. Hoop dit antwoord jou vraag!

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.