Die Hel en Straf

Tommy Lessing

2017/02/26

Ons het verlede week afgesluit deur te sê dat die Hel, in sy eenvoudigste vorm, is God se manier om mense se vrywillige keuse tot ‘n lewe sonder God, te respekteer.

Madalyn Murray het die titel gehad van ‘Amerika se mees gehate persoon’. Sy het dit met trots gedra. As ‘n passievolle Marxis en ateïs, was sy instrumenteel in die geveg teen openbare gebed in Amerika en het dit reggekry dat sedert 1963, openbare gebed in Amerika verbied is. Sy het ook die groep ‘American Atheists’ begin, wat baie populêr geraak het en sy was sterk pro-aborsie.  Haar seun, William, is tans 70 jaar oud. Hy het in 1980 tot bekering gekom. Madalyn was glad nie beïndruk nie en het in die openbaar gesê dat sy ‘n post-natale aborsie op William uitvoer. Sy bekering tot God het hom vir haar geplaas ‘beyond human forgiveness’. Toe sy later jare vermoor is deur ‘n oud-werknemer van ‘American Atheists’, was sy steeds onberoulik en finaal in haar keuse teen God. God sal Madalyn se keuse daarom moet respekteer en Sy Teenwoordigheid eendag van haar moet onttrek.

Hierdie week kyk ons verder na wat die Bybel ons leer oor die Hel.

God is genadig, maar God is ook Regverdig

Iemand vertel verlede week vir my ‘n interessante voorval uit haar lewe. Haar dogter het verlede Vrydag gesê dat hulle nie huiswerk gekry het vir die naweek nie. Daardie Maandag het dit toe aan die lig gekom dat hulle ‘n toets gehad het waarvoor sy moes leer. Maandag aand moes die dogter aan haar ma verduidelik hoekom sy gejok het en die gevolge daarvan dra. Hierdie verhaal illustreer God se verhouding met ons. Daardie Mamma is passievol oor haar dogter. Nadat sy gesondig het, moes die ma die sonde straf. Dit is die vereistes van Regverdigheid. Maar, sy het nie opgehou om lief te wees vir haar dogter nie. Sy was nog net so lief vir haar dogter voordat sy gesondig het as nadat sy gesondig het. Dit is die vereistes van Liefde. Die Mamma was genadig en wil die kind straf nie. Die sonde moet nietemin steeds gestraf word.

Regverdigheid, net soos Liefde, is een van God se eienskappe. God is genadig en Hy wil die mens nie straf nie. God is egter ook regverdig en Hy moet die sonde straf. Die Bybel leer ons in Rom 6:23  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

Die loon van die sonde is die dood. Dit is hoekom die eerste dood (fisiese of liggaamlike dood) in die wêreld ingekom het, in die eerste plek. Indien die mens sy volle straf self sou moes dra vir sy sonde, sou niemand gered kon word nie. Die Bybel bevestig dit in Rom 3:23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Deur Jesus Christus se verlossingswerk aan die kruis, het God dit moontlik gemaak dat die sonde gestraf is maar die mens gespaar is. Paulus verduidelik dit in Rom 3:24  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Omdat God die sonde moet straf, maar die mens wil spaar, reik Hy Sy hand uit na die mensdom deur die werk van Christus aan die kruis. Sou jy egter besluit om Sy hand weg te klap en die aanbod nie te aanvaar nie, dan sou jy self die straf vir jou sonde moet dra. Die loon van die sonde is die dood – en sodoende sal jy aan die tweede dood deelagtig word: om vir ewig afgesonder te wees van God se Teenwoordigheid.

Die Hel en Straf

Mens sal geneig wees om te vra, na aanleiding van die voorbeeld van die ma en haar dogter wat ek gebruik het, dat die straf wat die kind moes verduur, slegs tydelik was en nie ewig nie. Hoekom sal God dan mense ewiglik straf vir tydelike sondes? Die punt is dat Hel nie soveel straf is nie, as wat dit ‘n plek sonder God se Teenwoordigheid is nie. Die geween en gekners van tande kom daarvan om vir ewig sonder God te lewe. En dit was daardie persoon se vrye keuse. God straf dus nie tydelike sondes met ‘n ewige straf nie. Nee, mense kies eerder ‘n ewige lewe sonder God.

Kindermolesteerders, verkragters, mensehandelaars en rowers wat mense op brutale wyse aanrand en soms vermoor, is algemeen in ons land. Soms word hulle gevang en soms nie. Sommige van hulle is spyt dat hulle gevang is, maar hulle sal weer verkrag of roof en moor as hulle die kans kry. Sommiges het opregte berou oor wat hulle gedoen het. Hulle neem God se aanbod tot vergifnis aan en verander hulle lewens. Daardie rowers en moordenaars wat hardnekkig kies om aan te hou met wat hulle doen, is deel van ‘n groep wat beslis die loon vir hulle sondes self sal moet betaal, want Regverdigheid vereis straf. Mense wat vermoor is, se bloed roep bv. om wraak. Ons lees daarvan in Open 6:9-10  En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.  (10)  En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?

Mense word egter nie in die hel gegooi omdat God nie van hulle hou nie of omdat Hy ‘spiteful’ is want Hy kry nie Sy sin nie. Ons het verlede week reeds in 2 Pet 3:9 gesien dat dit God se wil is dat almal tot bekering sal kom en dat niemand verlore moet gaan nie.  In Matt 25:41 sê Jesus dat die Hel is eintlik bedoel vir die Satan en sy gevalle engele. Nee, mense gaan in die hel beland uit eie keuse – ‘n keuse waarby hulle volstaan het selfs nadat hulle gewaarsku was.  Die Bybel noem sekere groepe mense wat gestraf gaan word vir hulle dade indien hulle nie hulleself daarvan bekeer en van Christus se aanbod gebruik maak nie. Ons lees daarvan in Open 21:8  Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

Weens beperkte tyd kan ons net baie kortliks stilstaan by die groepe wat genoem word. Let daarop dat hierdie lys nie noodwendig volledig is nie: Vreesagtiges is diegene wat nie kans sien om hulle leefstyl te verander of hulle besittings te verloor ter wille van die Evangelie nie. Dit is ook diegene wat die Evangelie oorspronklik aanneem maar wat dit later verloën in tye van versoeking (Luk 8:13). Ongelowiges is diegene soos ateïste en agnostici wat weerstand bied teen die Evangelie en steeds weier om te glo selfs in die gesig van oorweldigende getuienis. Gruwelikes is hulle wat, verlei deur hulle luste, allerhande bose dinge doen soos bv. Baba verkragtings. Hoereerders – die griekse woord pornos sluit in: seks voor die huwelik, seks buite die huwelik en prostisusie. Leuenaars is hulle wat ‘n valse godsdiens verkondig wat teenstrydig is met die Evangelie soos wat Johannes beskrywe in 1 Joh 4: 2-3.

Wie gaan dan Hel toe en wie nie?

Die Hel is nie ‘n plek waarheen mense gaan wat eintlik goeie ouens is, maar net verkeerd geglo het nie. Hel is ook nie ‘n plek waarheen mense gaan wat net ‘n bietjie meer oortuiging nodig gehad het voordat hulle vir Jesus sou kies nie. Hel is ‘n plek van ewige verbanning uit God se Teenwoordigheid. Diegene wat hulleself daar bevind, sal daar wees omdat hulle ‘n bewuste keuse uitgeoefen het. Hel is vir mense wat glo dat hulle die middel van die wêreld is en wat teen alles is waarvoor God staan. Dit is presies wat Satan en sy demone oor hulleself glo en die keuse wat hulle uitgeoefen het.

Die bekende skrywer Lee Strobel vra, ‘Wat moet God doen? As Hy sê sou dit maak tog nie saak nie (en almal op die ou einde red), is Hy nie meer ‘n God om bewonder te word nie. Dan is Hy of immoreel of ‘positively creepy’ (om Lee se woorde te gebruik). Hoekom? Want dan het ek mos verniet moreel en goed gelewe. Dan kan ek ook mos geloop en moor en verkrag het soos wat ek wou, want ek is dan in elk geval gered op die ou einde. Nee! Vir God om enigsins anders te reageer as om mense toe te laat om te lewe sonder Hom, sou impliseer dat Hy Homself sou verraai.

Die Bybel is duidelik oor wie hel toe gaan en wie nie hel toe gaan nie. Ons lees in Joh 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Die woord glo beteken nie bloot intelektuele ineenstemming nie. Dit beteken dat jy sodanig oortuig is dat Jesus Christus jou Verlosser is, dat jy jou totale leefstyl en oortuigings daarvolgens aanpas. Ek sluit af met die woorde van die bekende skrywer CS Lewis: “There are only two kinds of people in the end: those who say to God, ‘Thy will be done,’ and those to whom God says in the end, ‘Thy will be done.’”

One thought on “Die Hel – Deel 2

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.