Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?

Tommy Lessing

2017/02/19

Dit is algemeen in die volksmond bekend dat die hel ‘n plek van straf is waar mense vir ewig in ‘n vuur brand nadat hulle dood doodgegaan het, as hulle nie goed gelewe het nie. Wanneer ons oor die Hel praat, dan is dit nodig dat ons ook moet kyk of hierdie aanname waar is.  Om dit wat kompleks is, beter te verstaan, moet ons soms eerste kyk na dit wat eenvoudig is. Daarom gaan ons vandag kyk na, wat ek glo, Hel in sy eenvoudigste vorm is. So, wat is die hel?

In die laat negentigerjare het ‘n internet maatskappy in Kaapstad stadig maar seker gegroei tot die grootste uitgewer van digitale sekuriteit sertifikate vir veilige e-handel buite die Verenigde State. Toe Verisign vir Thawte gekoop het vir R4 biljoen in Februarie 2000, het dit alreeds 42% van die wêreld se veilige e-handel bedieners beskerm met sy sekuriteit sertifikate. Die eienaar van Thawte was op daardie stadium slegs 26 jaar oud. Wat sou hy met R4 biljoen doen op so ‘n jong ouderdom? Een ding wat die Kapenaaars destyds aan die gons gehad het, was dat hy vir elkeen van die 57 werknemers van Thawte, ‘n miljoen rand bonus gegee het. Dit sluit die twee kantoor bedieners en die tuinwerker in!

Hierdie jong biljoener het wêreld bekend geword toe hy die eerste Afrikaner geword het om na die ruimte te reis. Sy naam was Mark Shuttleworth.

Nou mag u wel vra, ‘Wat het Mark Shuttleworth se storie te doen met ‘n preek oor die hel?’ Dit is ‘n goeie vraag wat ‘n antwoord verdien. Kom ek verduidelik: Mark het die dag waarop hy die geld vir sy werknemers gegee het, ‘n buitengewone dag genoem. Dit was ‘n dag waarop hy die droom wat hy vir hulle gehad het, kon laat realiseer. Ek kan my self indink hoe opgewonde Mark moes voel toe die dag aangebreek het! Die gebeurtenisse van daardie dag laat my dink aan die vers in die Bybel wat God se hart vir die mens openbaar. Dit is in Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Net soos Mark goeie gedagtes teenoor sy werknemers gekoester het, koester God goeie gedagtes aangaande ons. Soos met Mark, gaan daar ook ‘n dag vir ons aanbreek waarop God sy droom vir ons laat realiseer. Lees net wat sê die Bybel in 2 Pet 3:9  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. God se bedoeling was van die begin af nooit dat daar ‘n tyd of ‘n plek of ‘n toestand moet wees waar Sy Skepsels sonder Hom moet wees nie. So ‘n toestand sou waarlik hel wees vir die mense.

‘n Hippotese oor ‘n keuse

Kom ons keer terug na Mark Shuttleworth se verhaal, en kom ons veronderstel dat, so ongeveer ‘n maand voordat die groot transaksie beklink is – het iemand by Thawte bedank. In hierdie situasie, sou daardie persoon dan uit vrye wil al sy aansprake of die voordele en voorregte om ‘n werknemer by Thawte te wees, verbeur het. Uit vrye wil, sou hy vervolgens ook sy aanspraak op die R1 miljoen wat al Thawte se werknemers ‘n paar maande later ontvang het, verbeur het. Mark het, net soos God – ‘n droom gehad vir sy werkers – ongeag wat hulle posisie was. Sê nou maar net dat Mark voor die tyd met daardie werker gepraat het en aan hom vertel het dat hy nog groot planne vir hom het, maar die werker het desondanks al Mark se mooi praat, steeds bedank – dan was daardie werker se verbeuring van die R1 miljoen die gevolg van sy eie keuse. Wanneer jy kies om nie meer ‘n pad saam met iemand te stap nie, dan kies jy ook om uit te mis op enige en alle voordele wat jy sou ontvang het indien jy gekies het om wel die pad saam met so iemand te stap. Dit staan in die Bybel ook so geskrywe. Ons lees in Amos 3:3  Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?

Hel is die noodwendige gevolg van jou vrywillige keuse

God sal nooit iemand dwing om hemel toe te gaan teen sy sin nie. Indien Hy dit sou doen, sou die hemel vir daardie persoon hel wees.

Daar sal ‘n tyd aanbreek wanneer selfs genade nie meer uitgestel kan word nie. Wanneer mense daarop bly aandring om van jou weg te kom en dat hulle jou nooit weer wil sien nie, sal die vriendskap noodwendig eendag moet eindig. Mense wat onberoulik en finaal so oor God voel, se besluit sal dan deur God gerespekteer word en hulle sal gestuur word na ‘n plek (Jesus noem dit die buitenste duisternis) sonder God se gemanifesteerde Teenwoordigheid sodat hulle, hulle keuses kan uitleef.

Teen die agtergrond van Mark Shuttleworth se verhaal, het dit nodig geword om kyk na ‘n sekere verduideliking oor die hel wat Jesus gegee het. Maak jou Bybel saam met my oop by Mat 8:12  Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Jesus se woorde bevat belangrike leidrade oor hoe die hel in die eerste plek ‘n vrye keuse is, en in die tweede plek ‘n gevolg van daardie keuse is. Wanneer mens Jesus se woorde interpreteer teen God se eienskappe, word dit maklik en duidelik.

God is Lig –  sonder Hom is daar duisternis

Ons lees in 1Joh 1:5(b)  God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

Jesus beskryf die Hel as ‘n duisternis wat so erg is dat daar ‘n geween sal wees en ‘n gekners van tande. Hoekom is daar hoegenaamd so ‘n buitenste duisternis as dit dan nie God se hart is nie? Dit is omdat persone wat gekies het om sonder God te wandel, noodwendig alles wat deel is van God se eienskappe, verbeur. God is Lig. Sonder God is daar nie lig nie. Duisternis is die afwesigheid van lig. Wanneer God afwesig is, is Lig outomaties afwesig. Selfs wanneer dit baie donker is, is daar steeds ‘n graad van lig. Wanneer jy teen God kies, dan kies jy self om geheel en al sonder lig te wees. Dit is omdat lig deel is van Wie God is. Geen God – geen lig! Ons sien dus dat daar noodwendig ‘n buitenste duisternis is omdat God Homself daar onttrek het sodat die mense wat vrywillig en finaal teen Hom gekies het, hulle keuse kan uitoefen om sonder Hom te lewe. Die buitenste duisternis is daarom die gevolg van die afwesigheid van God.

God is Liefde – daarom ‘n geween en gekners van tande sonder hom

Ons lees in 1 Joh 4:8  Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

Ons lees ook van ‘n paar eienskappe van Liefde in 1 Kor 13. Die liefde is byvoorbeeld lankmoedig en vriendelik. Die liefde reken ook die kwaad nie toe nie. Sulke dinge sal mens nie vind waar God nie is nie, want God is liefde. Wanneer God Sy Teenwoordigheid onttrek, sal die manifestasie van Liefde ook onttrek. Mense wat in daardie duisternis vasgevang is, sal sonder empatie of genade wees vir andere wat hulle daar mag raakloop. Elkeen sal net aan homself dink. Onbeheersde woede aanvalle wanneer iemand onverwags in die donker teen jou raak, sal algemeen wees.

Ons lees verder in 1 Joh 4:18  Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

In die Arktiese Sirkel is daar vir tydperke van tot 4 maande baie min of geen sonskyn nie. Vir daardie hele 4 maande is dit net een lang, yskoue nag.  Die Eskimo gemeenskappe daar, veral hulle jeug, word dan swaar deur depressie geteister. Daar is byna niks om te doen nie, want om in die sneeustorms in daardie duisternis te verdwaal is baie gevaarlik. Die selfmoordsyfer in die tye van Arktiese Duisternis, is baie hoog. Die nimmereindigende duisternis beinvloed duisende mense daar tot swartgalligheid.

Sonder God se Liefde en omring deur ‘n duisternis wat permanent so erg is dat jy dit byna kan voel, sal vrees en paniek hoogty vier. Die eerste paar dae sal jy dalk nog oorleef, maar daarna sal die voortdurende duisternis, die krete en gille om jou en die vrees en angs jou in ‘n staat van permanente wanhoop en depressie los.

Hel in sy eenvoudigste vorm

Die Hel kan dus beskrywe word as ‘n staat waarin mense wat onberoulik gekies het om nie met God geassossieer te word nie, hulleself sal bevind nadat die Wit Troon Oordeel waarvan ons lees in Open 20:11-15, plaasgevind het. Hel in sy eenvoudigste vorm is God se manier om mense se vrywillige keuse tot ‘n lewe sonder God, te respekteer. Daar is wel ‘n straf element in die Hel ook. Volgende week kyk ons verder na wat die Bybel ons leer oor die Hel.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.