Tommy Lessing

2016/10/09

 

Ons het verlede week gekyk na ‘n Lewe van Dankbaarheid en hoe ons dit kan lewe. Hierdie week kyk ons na ‘n Leefstyl van Danksegging. Hoekom dan ‘n Leefstyl? Wanneer ons na die Skrifte kyk, word dit duidelik dat ‘n Leefstyl van Danksegging, noodsaaklik is vir effektiewe geloof. Ons kom die woord Danksegging teen in Fil 4:6 

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Ons sien hier dat Danksegging deel vorm van die Gebed van Smeking of Petisie. Die woord vir Smeking (deesis) wat hier gebruik word, is dieselfde woord wat ons vind in Jak 5:16(b) 

Die vurige gebed (deesis) van ‘n regverdige het groot krag.

Ons leer dus uit Fil 4:6 dat jy kan nie vurig bid of by God petisie as jy nie eindig met Danksegging nie. Dit is nie sommer net ‘n sinnetjie hierdie nie. Hierdie sin bevat ‘n belangrike geestelike beginsel. Dawid het die beginsel verstaan en met groot sukses gebruik. Die Psalms is vol daarvan. Eers sal hy sy lot bekla en by God smeek om hulp, maar hy het elke Smeekpsalm afgesluit met Danksegging of Lofprysinge. Hoekom? Want die een vorm deel van die ander. Kyk bv na Psa 22:21-22  (22:22)

 Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit. U het my gebed verhoor! Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys.

Hoekom is Danksegging dan so belangrik? Ek glo dat ons die antwoord vind in Hebr 11, daardie belangrike hoofstuk oor die geloof. Ons lees hier dat Abraham se vrou, Sara, ‘n baie belangrike aspek van geloof verstaan het: Heb 11:11

 (11)  Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, [hoekom?] omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het.

Uit die voorbeeld van Sara leer ons dat ons nie werklik kan glo as ons nie Hom getrou ag wat dit beloof het nie. Jy kan bid en smeek, en jy moenie ophou om te bid en smeek – totdat  jy ‘n ervaring van deurbraak in jou gees beleef nie. Daarna kom die danksegging – hoekom? Want Hy is getrou wat dit beloof het. Die geheim lê opgesluit in die woord ag. Ag jy werklik vir God getrou, of is jy nie bereid om jou lewe te waag vir Hom nie?

‘n Leefstyl van Danksegging

Ons sien dus dat Danksegging belangrik is vir geloof. Maar hoekom ‘n Leefstyl? Om dit te verstaan, moet ons kyk na Fil 4:4

Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!

Jy kan jou nie altyd in die Here verbly as jy nie ‘n Leefstyl van Danksegging lewe nie. Jy kan ook nie ‘n Leefstyl van Danksegging lewe as jy nie ‘n Leefstyl van Onderwerping lewe nie. Om dit te verstaan, moet ons verstaan dat God slegs in beheer kan wees van die areas in ons lewens waar ons Hom toelaat om in beheer te wees. Wanneer ons Hom toelaat om in beheer te wees, dan moet ons soos Sara gedoen het, Hom getrou ag wat dit beloof het. Dit beteken dat ons, waar ons vir God in beheer gestel het, Hom moet dank en loof en prys vir alle dinge – goed sowel as sleg – wat in daardie area van ons lewens gebeur. Hoekom? Want deur Hom te dank en te loof, bewys ons prakties dat ons Hom in beheer gestel het en dat ons bereid is om ‘n risiko te neem weens ons geloof.

Hoe om te Veg met die Skild van Geloof

 

(Kyk na die greep uit die video vanaf ongeveer 12:00 tot 16:00 om ‘n beeld te vorm van hoe om ‘n skild in ‘n offensiewe situasie te gebruik.)

 

Wanneer ons begin om ‘n Leefstyl van Danksegging te lewe, omdat ons vir God in al hoe meer areas van ons lewens in beheer stel, sal Sy bonatuurlike krag ons red en lei in elke situasie. Hierdie agtergrond is ook belangrik wanneer ons geestelike oorlog voer. Het jy geweet dat ‘n skild nie slegs ontwerp is as ‘n veilige skuiling nie? Wanneer mens na die geskiedenis van oorlog kyk, word dit duidelik dat skilde nie net defensiewe wapens was nie. Dit was in baie gevalle die hoof aanvalswapen. Die swaard was, in teenstelling met die algemene aanvaarding, die sekondêre wapen. Wanneer ons ‘n Leefstyl van Danksegging lei, dan leer ons om die Skild van Geloof nie net as ‘n defensiewe wapen aan te wend nie, maar ook as ‘n offensiewe (of aanvals-) wapen.

Ook in geestelike oorlogsvoering kan die skild gebruik word, nie slegs as ‘n veilige skuiling nie, maar as ‘n aanvalswapen. Ek glo dat een van die tegnieke wat gebruik kan word, is deur die aanwending van ‘n Leefstyl van Danksegging. Wanneer ons begin om ‘n Leefstyl van Danksegging te lewe, begin daar drastiese veranderinge in ons lewens plaasvind:

1.      ‘n Leefstyl van Danksegging stel God in beheer van ons lewens

Deur God te dank (en selfs te loof) in goeie sowel as slegte situasies, druk ons in praktiese terme ons geloof uit dat Hy ‘n beloner is van die wat Hom soek (Heb 11:6). Ons bely daardeur ons afhanklikheid en kinderlike vertroue in Hom dat Hy alles ten goede sal laat uitwerk vir die wat Hom liefhet (Rom 8:28). ‘n Leefstyl van Danksegging neutraliseer al die vurige pyle wat die Bose teen jou afvuur. (Ef:6:16). Die Skild van Geloof word gebruik om die duiwel te weerstaan en dan moet hy vlug.

2.      ‘n Leefstyl van Danksegging verkrummel Satan se strategie teen jou

Ons leer van Satan se strategie teen jou in Joh 10:10

(10)  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die eerste gedeelte van hierdie Skrif maak die duiwel se strategie teenoor jou, bekend. Hy sal altyd een of meer van hierdie drie areas in mense of in verhoudings aanval.

Steel = Besittings en Finansies

Slag = Gesondheid (fisies, sielkundig en geestelik)

Verwoes = Verhoudings (hy verwoes huwelike, verhoudings tussen pa’s en seuns, ma’s en dogters, suster en suster, broer en broer, beste vriend en beste vriend, selfs mense se verhoudings met God verwoes hy)

Wanneer hierdie tipe aanslae in ‘n mens of gesin se lewens werk, is die uiteinde daarvan altyd ‘n poging om God se Liefde en Sy Gewilligheid om te help, verdag te maak. Die aanvallers sal altyd probeer om ‘n vraagteken agter God se integriteit te plaas.

Satan se doel is om ons op ‘n plek van moedeloosheid, angs, stres en depressie te bring. Sy vurige pyle is ontwerp om te intimideer en ons hoop te vernietig.

Lees wat ons in leer in Heb 10:39

Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.

Wanneer ons ‘n Leefstyl van Danksegging lewe, druk ons, ons geloof in God se gewilligheid om ons te help, uit. Dit laat ons staande bly, selfs onder groot druk. Ons onttrek nie terug tot verderf nie. Ons geloof laat ons staan totdat ons lewe in oorvloed ervaar. Die Skild van Geloof vernietig Satan se strategie en laat hom in sewe rigtings voor jou uitvlug. Deut 28:7

Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.

3.      ‘n Leefstyl van Danksegging stel Vermoë vry

Onthou jy hoedat Sara deur geloof krag ontvang het om swanger te word? Sy het God se beloftes ernstig opgeneem en daardeur is die onvrugbaarheid in haar lewe gebreek. ‘n Leefstyl van Danksegging breek onvrugbaarheid. Nie net fisies nie, maar ook op ander gebiede. Sukkel jy met jou finansies? Begin om God in beheer te stel van jou finansies. Begin om Hom te loof en prys en te dank vir elke slegte situasie en onbetaalde rekening. Begin om te luister wanneer die Heilige Gees jou deur jou gewete lei oor jou finansies. Jou onvrugbaarheid sal breek. Soos wat jy begin toelaat dat God beheer neem, sal Sy goedheid en wysheid jou bring van ‘n plek van droogte tot ‘n plek van lewe in oorvloed. Hoekom? Want Jesus belowe dat Hy gekom het om lewe in oorvloed te gee. En soos Sara, moet ons Hom getrou ag wat dit beloof het.

Ps 37:5  Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;

Bemoediging

Begin hierdie week om jou Skild van Geloof te gebruik teen die strategie en planne van Satan. Veg terug. Wanneer jy in beheer is van jou lewe, kan die duiwel planne maak teen jou en jou oorwin. Stel God in beheer. Leef ‘n Leefstyl van Danksegging en ervaar God se bonatuurlike krag in jou lewe.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.