Tommy Lessing

2016/10/02

Hulle het by die bushalte oorkant haar huis gestaan – twee kinders met jasse wat te groot was vir hulle. “Het tannie nie vir ons ‘n paar ou koerante nie?” het een gevra. Sy wou eers ‘nee’ antwoord, want sy was besig. Sy het aartappels met sous op die stoof gehad en was bang dat dit brand. Haar oog het hulle kaal voete gevang, met uitgesnyde kartonne vir skoensole. ‘Kom binne’, het sy gesê. ‘Dan gee ek vir julle warm sjokolade en ‘n broodjie.’ Hulle nat voete het merke op die leiklipvloer gelaat. Hulle het hulle warm sjokolade in stilte gedrink en hulle broodjies gulsig geeët. ‘As tannie ryk?’ het die dogtertjie gevra? ‘Ekke, ryk? Nee, my kind…’ het sy geantwoord. ‘Tannie se koppies en pierings pas bymekaar’, het die dogtertjie gesê met ‘n verlange wat ver verby honger gekyk het.

Nadat die twee kinders met hulle ou koerante die pad af geslof het, het sy nadenkend die pot met die aartappels geroer. Hulle het toe nooit dankie gesê nie, maar dit was nie nodig nie. Dit wat hulle agtergelaat het, was meer as genoeg. ‘Aartappels met sous, navy blou koppies en pierings wat pas, ‘n man wat lief is vir my. Dit is alles dinge wat pas, en dit maak my ryk.’ het sy gedink. Sy het die stoele weg van die vuurherd geskuiwe en die kinders se koppies gewas. ‘Die voetspore op die vloer moet daar bly,’ het sy gedink, ‘om my te herinner daaraan hoe baie ryk ek is. Daardie vrou het daardie dag geleer om ‘n lewe vol dankbaarheid te lewe.

Iemand het eendag gesê dat Ondankbaarheid die bestanddeel is wat die mooi van die lewe vir ons bederwe. Daardie man het geleer om ‘n lewe vol dankbaarheid te lewe.Die wyse Prediker sê in Prek 10:1 dat dooie vlieë die apteker se salf bederwe.  Ek wonder soms of ondankbaarheid nie die vlieë is waarna die Prediker verwys het nie. Slegte dinge gebeur met almal in die lewe, maar sommiges hanteer dit goed en andere nie. Sommiges sien steeds die skoenlapper in die tuin raak of waardeer dit dat die kar in die oprit gebreek het en nie gisteraand op pad huis toe van die winkel af nie. Die lewe is ‘n konstante stryd vir ons om die groot wit bladsy  met die  paar klein swart kolletjies op raak te sien en nie so te fokus op die paar klein swart kolletjies dat ons die groot wit bladsy miskyk nie.

Die bekende Engelse digter en skrywer Rudyard Kipling se publikasies was op ‘n stadium so gewild dat daar gesê is dat hy tot tien sjielings (ongeveer twintig rand in vandag se terme) per woord gekry het. ‘n Paar mense wat sarkasties wou wees, het toe tien sjielings in ‘n koevert gesit met ‘n nota daarby : “Stuur vir ons jou beste woord.” Hy het toe agter op die nota geskrywe “Dankie” en dit teruggestuur. Hy het ook geleer om ‘n lewe vol dankbaarheid te lewe.

Ons skrifgedeelte is uit

1 Thes 5:18  Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Die vraag is, is dit ooit moontlik om dankbaar te wees in alles? Wel, dit moet wees, want die volgende gedeelte van die sin lees “want dit is die wil van God..” God sal nooit iets van jou verwag wat jy nie kan doen nie, so dit is wel moontlik om in alles dankbaar te wees.

Wat is dan die geheim? Hoe kan mens leer om in alles dankbaar te wees? Ek glo dat Dankbaarheid ‘n vrug is en nie ‘n wortel nie. Dankbaarheid is ‘n gevolg en nie ‘n oorsaak nie. Dankbaarheid kan aangeleer word soos enige ander taak aangeleer kan word.

Ek glo dat Ondankbaarheid ontstaan wanneer ons kyk na die lewens van andere om ons en dan ontevrede of jaloers raak daaroor. Ons wil ook hê wat andere het en dan raak ons onvergenoegd. Ons begin om God te blameer vir die leefstyl wat ons lewe. Kort voor lank is ons met niks tevrede nie. Ondankbaarheid is gewortel in die soeke na eie belang. Kyk wat sê Paulus in 1 Kor 13:4-5

(4)  Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, (5)  handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,

Hier sien ons dat die liefde nie sy eie belang soek nie. Dankbaarheid is ‘n vrug wat groei aan die boom van liefde.  Liefde is nie jaloers op wat andere het nie. Dit gun die son om te skyn oor andere. Die liefde reken die kwaad nie toe nie. Wanneer ons in goddelike liefde lewe, is daar nie plek vir ondankbaarheid nie. Ondankbaarheid onstaan waneer jy jou eie belang soek, wanneer jy na die bure se nuwe motor kyk met jaloesie in jou hart en onvergenoegd raak omdat dit nie met jou ook so goed soos met hulle gaan nie.

Ek glo dat ek die geheim van ‘n lewe vol dankbaarheid ontdek het. Dit is dieselfde geheim wat mense kan help om Angstigheid te oorkom.

Die geheim van Dankbaarheid is fokus. Dankbaarheid fokus op wat jy het. Onvergenoegdheid fokus op wat jy wil hê.

Ons kyk vandag na drie maniere waar ons kan leer om ‘n lewe vol dankbaarheid te lewe.

1.     Hou ‘n ‘Dankbaarheid Joernaal’

Ons is die meeste dankbaar vir veranderlikes is dinge soos finansies, beskutting, vriendskap, ‘n werk, ‘n bed om op te slaap, ‘n werk, ens. Ons weet hierdie dinge, maar ons vergeet daarvan. Hou weekliks ‘n joernaal by van dinge waaroor jy dankbaar is. Deel dit in drie kolomme: Mense | Dinge | Ander. Die res van daardie week, lees jou lysie elke dag aandagtig deur en mediteer daaroor. Skryf volgende week ‘n nuwe lysie en begin weer oor. Navorsing deur dr. Emmons van die Universiteit van Kalifornie het gewys dat mense wat so ‘n dankbaarheid joernaal begin byhou het, binne 10 weke tot 25% gelukkiger was as die kontrolegroep.

2.     Skryf dankie-sê notas

John Kralik was ‘n prokureur wat se praktyk gesukkel het en wat gesukkel het met persoonlike probleme in sy gesin. Hy het ‘n eksperiment begin om vir ‘n jaar lank elke dag ‘n dankie-sê nota vir iemand te skrywe. 365 notas later het hy geleer om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Klein dingetjies wat hy nie voorheen raakgesien het nie, het hy begin waardeer. Sy lewe het vol gelukkigheid geword en dit het mense na hom aangetrek.

3.     Dank God daagliks

Neem ‘n minuut elke dag waar jy God dank vir elke seening in jou lewe. Moenie net aan tydelike dinge dink soos jou gesondheid of finansies nie, maar dank Hom ook vir dinge soos dat Jesus vir jou gesterwe het, vir die beloftes in Sy Woord waarop jy kan staatmaak, dat Hy jou eerste liefgehad, en so meer.

Bemoediging

Dankbaarheid is iets wat so eenvoudig is, maar ook so kragtig. Navorsing het bewys dat dankbaarheid angstigheid en slaaploosheid verminder. Dit bou geloof en gee kwaliteit aan ons lewens. Oktober is die maand van danksegging. Dit is ‘n maand waar ons fees vier en God dank vir Sy goedheid oor ons gedurende die laaste jaar. Ek wil jou bemoedig – verander jou fokus en ervaar hoe jy ‘n lewe van dankbaarheid, vol geloof, kan lewe. Amen.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.