2016/09/26

Tommy Lessing

Wanneer mens kyk na Ongeloof en hoe dit presenteer in mense se lewens, herinner dit ons onwillekeurig aan Jesus se opmerking oor die melaatse Siriese vors, Naaman, wat van melaatsheid genees is. Jesus maak melding hiervan in Luk 4:27  En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër.

Die konteks waarbinne Jesus hierna verwys het, was die Ongeloof van die Israeliete. Om dit beter te verstaan, is dit nodig om bietjie agtergrond oor melaatsheid te bekom. Melaatsheid is nie net ‘n siekte wat die vleis verrot sodat dit van die bene afval nie, dit maak harde stukke vel oor die bestaande vel, amper soos psoriase. Die harde stukke vel vorm ‘n ondeurdringbare laag oor die bestaande vel, waarna die siekte sy bose vernietigingswerk onder  die harde kors vel begin. Jesus het in verband met Ongeloof, ‘n streep getrek tussen ongeloof en melaatsheid. Dit is amper asof daar ‘n parralel bestaan tussen die fisiese (melaatsheid) en die geestelike (Ongeloof).

Ongeloof vorm ook ‘n harde laag om ‘n mens se gees sodat dade van liefde jou emosioneel koud laat. Jy kruip weg agter goeie slagspreuke soos ‘seeing is believing’, maar die waarheid is, dat selfs al sien jy ‘n wonderwerk voor jou oë, sal jy steeds nie glo nie. Net soos fisiese melaatsheid moeilik geneesbaar was in die Bybelse tye, is geestelike melaatsheid ook soms moeilik om te genees. Wanneer die harde kors van Ongeloof vervang word deur ‘n gesonde laag van Geloof, dan raak dit moontlik vir Liefde, Barmhartigheid en Goedheid om jou lewe binne te kom en jou totaal te verander.

Ons teksvers is uit 2 Kon 5:10 Toe stuur Elísa ‘n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees.

Die profeet Elisa het gesê dat Naaman se vlees sal terugkeer. Dit laat my dink toe die Here deur die profeet Esegiël gespreek het in Eze 36:25-26

(25)  Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.

(26)  Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.

Hier is weer melding gemaak van water wat reinig en ‘n harde hart wat vervang word deur ‘n hart van vleis. Die ooreenkoms is te groot om toevallig te wees. Die Here praat van Ongeloof.

Die Jordaan is ‘n beeld van die Woord van God. Dit is dus moontlik om gewas te word in die Woord van God, dan sal jou vlees terugkeer en jy sal rein wees. Binne hierdie konteks het ons alreeds na 3 Skrifte gekyk waarmee ons kan wees om die harde kors van Ongeloof rondom ons gees te verwyder.

4. Kry ‘n Persoonlike Visie

Ongeloof word genees deur Geloof. Die oë van Geloof is Visie. As jy nie ‘n vaste visie het waarheen jy aktief werk nie, lewe jy nie meer nie, jy bestaan net. Visie bring dryfkrag, dit bring energie, dit kweek kreatiwiteit, dit sien oplossings wanneer ander net probleme sien. Ons lees in Jes 43:19

(19)  Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

Die tweede harde skil van Ongeloof wat geplant word, is die idee dat God wel eendag vir jou sal deurbreek. Ons met geduldig wees en wag vir Sy tyd. Hoewel hierdie siening ‘n tyd en ‘n plek het, word dit deur die duiwel en sy trawante gebruik om mense in ‘n staat van visieloosheid te laat ronddrywe. Tog, let op die Skrif: NOU SAL DIT UITSPRUIT!

Geloof verwag aksie. Geloof lewe in die NOU. Geloof ontvang as ‘n voldwonge feit die dinge wat andere nog nie kan sien nie. En wanneer jy ‘n visie het, dan sal God voorsien vir daardie visie. Sonder persoonlike doelwitte met keerdatums is jy net ‘n dromer met ‘n versugting in jou hart.

Laat staan jou ou manier van dink en gryp die nuwe dinge aan wat God vir jou beplan het. Let ek u herinner aan die bekende Skrif in Jer 29:11

(11)  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

God se planne vir jou is goed, ongeag wat in die verlede gebeur het. Al het jou vyand dit reggekry om te kom steel of te slag of te verwoes, staan vandag op en trek ‘n streep: “Nie langer nie, duiwel! Ek het ook ‘n reg om te lewe en nie net te bestaan nie.”

Was jouself met hierdie Skrifte. Kry ‘n visie en begin om ‘n doelwitgedrewe lewe te lei.

5. Jesus het gekom om Lewe in oorvloed te gee

Die vyfde Skrif waaroor ons moet mediteer en onsself mee moet was, is in Joh 10:10

(10)  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die eerste gedeelte van hierdie Skrif maak die duiwel se strategie teenoor die mensdom, bekend. Hy sal altyd een of meer van hierdie drie areas in mense of in verhoudings aanval.

Steel = Besittings en Finansies

Slag = Gesondheid (fisies, sielkundig en geestelik)

Verwoes = Verhoudings (hy verwoes huwelike, verhoudings tussen pa’s en seuns, ma’s en dogters, suster en suster, broer en broer, beste vriend en beste vriend, selfs mense se verhoudings met God verwoes hy)

Wanneer hierdie tipe aanslae in ‘n mens of gesin se lewens werk, is die uiteinde daarvan altyd ‘n poging om God se Liefde en Sy Gewilligheid om te help, verdag te maak. Die aanvallers sal altyd probeer om ‘n vraagteken agter God se integriteit te plaas. Wanneer hulle suksesvol is, het hulle die eerste kieme van geestelike melaatsheid, naamlik Ongeloof, geplant.

Daardie verdagmaking van God se Liefde en Sy Goedheid, is wat die harde skille van Ongeloof begin plant. Hoe kom ‘n mens dit te bowe? Jesus gee die antwoord in die volgende sin. Hy sê dat Hyself jou sal bystaan en jou sal help. Waaraan kan jy dit weet? Want Hy het gekom om lewe in oorvloed te gee.

Is daar ‘n area of areas in jou lewe waar jy tans sukkel met ‘n tekort. Die tekort is nie soveel die probleem nie as dat jy nie regtig glo dat die Here jou gaan help nie. Jy voel moedeloos en die angstigheid ry jou bloot. Jy lê snags wakker en jy eet sleg. Die paniek aanvalle laat jou gereeld na asem hyg.

Hierdie is moontlik die hardste kors van die melaatsheid en die moeilikste om deur te dring. Jesus het gekom om lewe in oorvloed te bring. As dit waar is, is alles wat nie lewe is nie, nie deur Jesus gebring nie. In plaas daarvan om ons kniee stilweg te buig en om met waardigheid te probeer verloor, moet ons die dood, slagting of verwoesting teenstaan in Jesus se Naam.

Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Weerstaan impliseer weerstand, ‘n nie-aanvaarding van die status-quo, ‘n belydenis wat ooreenstem met dade geloof. Jesus het gekom om lewe te gee. Moenie dood langer aanvaar en God daarvoor blameer nie. Jy het lank genoeg toegelaat dat ‘n skadu in jou gemoed gewerp word oor Jesus se Goedheid en Sy gewilligheid om jou te help. Maak in jou hart ‘n besluit om dit NOU te stop.

Bemoediging

Ons het nou reeds al vyf keer ingeduik in die Waters van die Jordaan – Die Woord van God. Ek wil jou bemoedig, dink na en mediteer oor hierdie Skrifte totdat dit deel van jou lewensbeskouiing word. Ek sluit af met hierdie Skrif: Spr 23:7  Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…

Is jou hart met dit wat jy glo oor God? Of is jou hart nie met jou nie? Die enigste manier om dit te oorwin is om te mediteer op die Skrifte in die Woord van God en om toe te laat dat daardie Skrifte jou verander. Dit maak nie saak waar in jou lewe jy nou is nie, God het meer vir jou. Hy wil vir jou wysheid gee sodat jy beter besluite kan neem. Hy wil jou seën sodat jy weer vir andere kan seën. Laat toe dat Sy Waters jou was sodat jou vlees kan herstel en jy weer rein kan word.

One thought on “Gaan was jou sewe maal (2)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.