Tommy Lessing

2016/09/04

Jan Malan was ‘n suksesvolle sakeman. Sy dag het al vroeg in die oggend begin en hy het dikwels eers laatnag tuis gekom. Toegegee, daar was die golf en ‘n paar nagte by die klub saam met die manne – maar hy het hard gewerk en ‘n ruskans verdien – altans, so het hy geredeneer. Jan het hard gewerk en hard gespeel –en altyd om te wen. Dieselfde het gegeld toe hy met Jana getrou het. Sy was nie net asemrowend mooi nie, sy het ‘n sagte hart gehad en hom gedien asof hy ‘n koning was. Dit het hom gepas. Die wêreld het gedink dat hulle ‘n sprokies huwelik gehad het.

Eendag het Jan ‘n CD van ‘n vriend ontvang. Hoewel hy as ‘n reel nooit na sulke cd’s luister nie, het iets hom getrek om die cd te luister. Die spreker was dinamies en die inhoud boeiend. Die man het egter iets gesê wat hom bygebly het. Hy het gesê dat liefde nie ‘n gevoel was nie, maar ‘n daad van jou wil.

Oor die volgende paar dae het die sin hom baie begin pla. Liefde was nie ‘n gevoel nie, maar ‘n daad van jou wil. Jana was pragtig ja, maar hy kon nie sê dat hy liefde vir haar gevoel het nie. Nie meer nie. Tog het sy hom soos ‘n koning bly dien, al het hy haar afgeskeep en al was hy altyd ongeduldig met haar. Dalk het sy dit verstaan. Liefde was nie ‘n gevoel nie, maar ‘n daad van jou wil. Jan het skuldig begin voel omdat hy altyd so besig was. Hulle vakansie by Plet was om die draai en hy het hom voorgeneem om vir daardie twee weke geen selfoon oproepe te beantwoord nie en geen eposse te lees nie. Dit sou baie moeilik wees, maar hy was altyd trots op sy selfbeheersing.

Gedurende die vakansie het Jan by sy voorneme gehou. Aan die begin het sy vrou gedink dat hy iets verkeerd gedoen het. Met die tyd egter het haar agterdog stadigaan plek gemaak om die nuwe man in haar lewe te geniet. Die kinders wou weet wat van hulle pa geword het. Na ‘n paar dae het hulle ook oorgegee en dit was of ‘n droom waar geword het.  Een aand, kort voor die vakansie, het Jana ontsteld met Jan gepraat. Sy was kort voor die vakansie vir ‘n ondersoek by die dokter. Het sy dalk ‘n ernstige siekte onder lede? Gaan sy binnekort sterf? Hoekom was hy so sorgsaam en bedagsaam teenoor haar?

Jan het ‘n knop in sy keel weggesluk en dapper geglimlag. “Nee, my vrou” het hy geantwoord. “Daar is niks fout met jou waarvan ek weet nie. Die fout was al die tyd by my. Ek het tot nou toe net bestaan. Maar vandat ek geleer het dat liefde nie ‘n gevoel is nie, maar ‘n daad van jou wil, het ek begin lewe!”

Die Probleem met mense

Ons lewe in ‘n tyd van ongekende swaarkry vir die mensdom. Die Westerse wêreld is baie onafhanklik en individueel in hulle denke. “God help those who help themselves” is die gunsteling Bybelvers in Slimwees 1 vers 1. Die realiteit is egter dat ons baie meer afhanklik van mekaar is, as wat ons besef. Dit is maklik om te dink dat ons sal regkom sonder ander mense. Ons strewe na onafhanklikheid in alles het begin om ons interafhanklikheid van ander mense te ondermyn. Hierdie probleem het ook ingesluip in die huwelik.

Hoekom wil ons so graag onafhanklik wees? Wat is dit met ons mense?

Ek glo dat die probleem Vrees is.Ons is bang om andere toe te laat in die binnekamers van ons harte. Ek glo dat die wortel is dat ons bang is dat mense sal sien wie ons regtig is en ons nie meer sal aanvaar nie. Ons bang om nie deel van die groep te wees nie. Daarom het ons begin om mure om ons te bou. Mense naby aan ons kan verby sommige skanse kom, maar die binneste van ons harte is veilig beskerm agter dik mure. Ons maskers en sosiale gedrag help ons om te oorleef in ‘n wrede wêreld daarbuite. Bewustelik of onbewustelik is daar altyd die vraag,

“Sal mense my nog aanvaar as hulle my werklik ken?”

“Sal ek nog welkom wees by my werk? Sal my pelle my nog wil ken?” In die huwelik word die maskers baie moeiliker om voor te hou, want ons ken mekaar te goed. Ons hanteer dit met onbeskofdheid, koudheid of oordrewe goedheid en warmte.

Tog, al is ons hoe bang dat mense die werklike jy sal leer ken, is dit slegs deur jouself te openbaar dat andere jou werkik en sonder pretensies sal kan liefhet.

Die ongemaklike waarheid is dat ons nooit ware intimiteit sal kan ervaar as ons nie onsself aan mekaar openbaar nie. Mens kan intimiteit net ervaar tot op die vlak waar jy bereid is om jouself te openbaar aan andere. Ons wil graag dat andere ons moet lief hê, maar ons steek onsself weg agter allerhande skanse. Die teenoorgestelde is ook waar van jou beste vriend of huweliksmaat. Hulle is ook bang vir verwerping, so hulle lewe ook agter mure en met maskers. Hoekom? Want hulle is ook bang. Tog, in die meeste gevalle, sal mense net meer van jou hou in plaas daarvan dat hulle jou sal verwerp.

Indien ons, ons swakhede meer sou openbaar, sou andere gemakliker by ons voel. Hulle sou voel dat ons ook net mense is, net soos hulle. Daarom sal hulle eerder meer tyd bo so ‘n persoon wil deurbring as om hom te verwerp.

Elkeen van ons het ‘n ‘dark side’, al gee ons voor dat ons perfek is.

Deur nie bang te wees om jou ‘dark side’ te wys vir iemand wat intiem naby jou is nie, sal ons hulle nie bang maak vir wie ons is nie. Dit sal hulle eerder help om ons beter te verstaan en ons ‘inner demons’ te oorwin.

Die mens is werklik ‘n snaakse wese. Ons sal eerder dat iemand hou van ons wanneer ons nie is wie ons werklik is nie, as om onsself aan hulle te openbaar. As ons nie gewillig is om hierdie vrees vir verwerping te oorkom, sal daar altyd ‘n mate van eensaamheid binne ons wees. Jy kan dan in ‘n kamer vol vriende wees en steeds eensaam voel. Jy kan met iemand wonderlik getroud wees en steeds eensaam voel. Die feit dat niemand ons ooit mag ken soos wat ons werklik is nie, kan ons die meeste eensaam van alles maak. Die eensaamheid vorm ‘n groot ‘black hole’ binne ons. Niks kan dit vul nie.  Verslawings is die gewildste manier hoe ons hierdie eensaamheid probeer oorkom. Ons raak verslaaf aan eet, koop, series, drank, sigarette en ‘n reeks dinge omdat die eensaamheid ons mal wil maak. Nie eers ‘n seks verslawing kan ons genees nie, want dit is nie intiem nie en ons gee voor om die ander deelnemer te beindruk.

Intimiteit

Intimiteit is egter nie nie fisies of emosioneel nie. Dit is multi-dimensioneel en word opgemaak uit die vier aspekte van menswees: die fisiese, die emosies, die intellektuele en die geestelike dimensies. Dit is daarom belangrik om te verstaan hoedat Intimiteit hierdie vier aspekte van ons menswees raak.

1. Fisiese Intimiteit

Gen 2:24  Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

Fisiese intimiteit is maklik. ‘n Piksoen of ‘n handdruk is vir die meeste mense aanvaarbaar. Maar fisiese intimiteit kan maklik gemanipuleer word. Seksuele kontak kan ook maklik gemanipuleer word. Daar is iets omtrent die intimiteit van seks wat mense geheimsinniglik aan mekaar verbind. Ek glo dat ons nog nie eers begin het om te verstaan wat die invloed van seksuele intimiteit op ons meeswees is nie. Dit is belangrik om te verstaan dat alle verhoudings ‘n fisiese aspek het. Selfs al as jy per Skype of telefoon praat met iemand wat jy nog nooit ontmoet het nie, ervaar jy daardie persoon deur jou fisiese sintuie. Ons fisiese liggame is die manier waarop ons met die wêreld om ons kontak het.

2. Emosionele Intimiteit

Die tweede aspek is emosionele intimiteit. Ons lees in Spr 18:24 Maats kan jou breek, maar daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer.

Hierdie vlak van intimiteit is heelwat moeiliker om te bereik as fisiese intimiteit. Dit vereis ‘n weerloosheid en nederigheid waarmee baie van ons ongemaklik is, veral aan die begin van ‘n verhouding. Dit neem daarom baie meer tyd om emosioneel intiem te raak met iemand.

Ons soek moes die heeltyd na die vangplek, die ‘catch’.

Watter agenda het daardie persoon, hoe wil hy of sy my hierdie keer misbruik? As ons in die verlede seergekry het of verraai is, word emosionele intimiteit nog moeiliker. Tog is dit moontlik, deur ietsie kleins te doen elke keer wanneer jy iemand ontmoet, om iets van jouself aan daardie persoon te openbaar. Deur bv. elke keer vriendelike te groet, openbaar jy iets van jouself. Deur iemand te help dra aan daardie swaar pakkie, openbaar jy iets van jouself. Deur nie net te oordeel nie, maar eers ‘n pad te stap saam met iemand, openbaar jy iets van jouself. Emosionele intimiteit word baie keer openbaar as jy ingesteld is om die mense om jou se liggaamstaal.

3. Intellektuele intimiteit

Die derde aspek van intimiteit neem ook ‘n langer tyd om te bereik as die fisiese. Intellektuele intimiteit vereis sowel ‘n verskeidenheid as ‘n aantal ondervindings. Dit word bereik wanneer ons daardie diep gesprekke het, soos wat is die sin van die lewe, glo jy in ‘n God, is daar iets soos liefde, of hoekom is koffie lekkerder as tee. Rut het intellektuele intimiteit verstaan. Ons lees in Rut 1:16 Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;

Intelektuele intimiteit word meestal vinnig bereik aan die begin van ‘n verhouding, want julle wil mekaar graag leer ken. Dit is egter moeiliker om te onderhou en dit neem meer moeite en beplanning om dit te handhaaf namate ‘n verhouding vorder.

Wanneer ons ‘n omgewing skep waar mense kan gesels sonder dat daar ‘n reg of verkeerd is, dan blom intellektuele intimiteit. Die geheim is nie om iemand anders se idee te beoordeel of dit reg of verkeerd is nie, maar om te probeer verstaan hoekom hulle so begin glo het in die eerste plek.

Die einddoel van intellektuele intimiteit is om te verstaan hoe die ander persoon dink, wat hom of haar motiveer, dryf en inspireer.

4. Geestelike intimiteit

Hierdie laaste vlak van intimiteit is ook die skaarste vlak van intimiteit. Paartjies wat dieselfde dink oor die lewe en paartjies wat totaal van mekaar verskil oor die lewe, het al hierdie vlak bereik. Geestelike intimiteit begin met respek vir jou maat. Die einddoel daarvan is dat jy alles sal doen wat jy kan om jou maat te help om sy of haar se beste moontlike potensiaal te bereik.

Geestelike intimiteit vereis nie ooreenstemming met alle sake nie, maar dit vereis wel ooreenstemming met die rede hoekom ons elkeen bestaan. Wanneer jy onbaatsugtig besig is om jou maat te help die beste weergawe van hulleself te bereik, is besig met geestelike intimiteit.

Dit kan bereik word nie net tussen getroude paartjies nie, maar selfs tussen ‘n werknemer en ‘n klient. Mense wat geestelike intimiteit verstaan, verstaan God se onbaatsugtige liefde vir die mens. Ons lees van geestelike intimiteit in Jer 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Die Skrif hierbo spreek van iemand wat jou wil help om die beste weergawe van jouself te wees. Geestelike intimiteit vereis selfloosheid teenoor selfsug, dit vra opoffering teenoor bymekaarmaak. Geestelike intimiteit is die moeilikste om te bereik, maar ook die mees vervullendste. Wanneer ons geestelik intiem kan raak, is dit vir ons maklik om tyd saam met God deur te bring en dit te geniet.

Bemoediging

Ek wil jou bemoedig, gaan hierdie week en ondersoek die vier vlakke van intimiteit in jou intiemste verhouding. Vir getroude paartjies, maak tyd om elke week by minstens een vlak van intimiteit uit te kom. Oorkom jou vrees vir jouself, openbaar jouself aan andere en begin om die lewe te geniet wat God vir jou gegee het.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.