Tommy Lessing

2016/07/31

In Numeri 20 lees ons die verhaal van die Israeliete, waar hulle in die woestyn Sin oorgebly het. Daar was nie water nie en hulle het nie geglo dat God hulle sou help nie. In Ps 78:19-22  lees ons

En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?  (20)  Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het—sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?  (21)  Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en ‘n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel;  (22)  omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.

Drieduisend jaar later het die Seun van God self na die aarde gekom. Hy het baie wonders en tekens gedoen, maar ons sien dat Israel nie verander het nie:

Joh 12:37  En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie.

Hierdie is ook my persoonlike ondervinding. Mense sê maklik dat hulle sal glo as dit of dat gebeur. Wanneer hulle egter wonderwerke voor hulle oe sien gebeur, dan soek hulle ander verklarings daarvoor en glo nie. Tog sê Jesus self dat die Heilige Gees mense sal oortuig van sonde, omdat hulle in Hom nie glo nie:

Joh 16:7-9  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;  (8)  en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:  (9)  van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;

Hier sien ons dat God ongeloof as sonde beskou. Baie Christene voel egter dat ongeloof nie ‘n sonde is nie. Sommiges redeneer dat hulle nie kan help dat hulle nie baie geloof het nie. Sodanige redenasie verwys egter, glo ek, eerder na ‘n negatiewe gemoed as na ongeloof per se. Wanneer iemand nog nooit van die Evangelie gehoor het nie, kan hy ook nie ongelowig wees nie. Mens kan tog nie ongelowig wees teenoor iets waarvan jy niks weet nie. Iemand wat egter die Evangelie ken en daarvolgens leef maar nie daardeur beheer word nie, is ‘n Ongelowige. ‘n Gebrek aan sekerheid van jou redding deur Christus, is ook ongeloof. Die Bybel leer ons in Joh 3:16 dat elkeen wat in Christus glo, die ewige lewe sal beerwe. Deur dit nie te glo nie, is daarom noodwendig oorgeloof.

Wat is ongeloof dan?

Die Aard van Ongeloof

  1. Ongeloof is nie bloot ‘n negatiewe gemoed nie, want ongeloof word as ‘n sonde beskou in die Bybel.
  2. Ongeloof is ook nie die afwesigheid van oortuiging of onkunde nie. Onkunde is wel dikwels ‘n gevolg van Ongeloof, maar dit is nie ongeloof nie.
  3. Ongeloof is die teenoorgestelde van geloof.
  4. Ongeloof is op sy ergste wanneer jy bely dat jy glo, maar nie optree volgens jou belydenis nie. Wanneer iemand bv. bely dat hy glo in die Wederkoms, maar nie sy totale leefstyl en oortuigings daarvolgens inrig nie,is dit Ongeloof. Wanneer iemand redelikerwys oortuig is van die waarheid van iets en dit so bely, maar nie so optree nie, is dit ongeloof.
  5. Ons sien dus dat Ongeloof is ‘n vrywillige produk van jou gedagtes. Ongeloof kan nie iets buite jou beheer wees nie, anders kan jy nie daarvoor help nie en dan kan dit nie sonde wees nie.

Die Effek van Ongeloof

  1. Ongeloof oorwin God se pogings om almal te red: 2Pe 3:9  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
  1. Ongeloof oorwin ook die proses van Heiligmaking. Heiligmaking is niks anders as om onsself oor te gee aan God se waarheid en beloftes nie. Om te dink dat ons gered kan word sonder om die beloftes van God te aanvaar, is om die aard van heiligmaking te mis.
  1. Dit maak ‘geloof uit die hart uit’ onmoontlik, want Heb 11:6 “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag”
  1. Ongeloof maak dit onmoontlik vir Christus om ons te red, want

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

1Jn 5:5  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

  1. Ongeloof is die hoogste graad van disrespek teenoor God. Dit is soos ‘n seun wat universiteit toe gaan met ‘n debietkaart van sy pa wat meer as genoeg fondse vir sy behoeftes het, maar die seun maak ander planne om sy behoeftes te ontmoet..

Twyfel is nie Ongeloof nie!

Hierdie stelling mag jou dalk laat dink! Die waarheid is egter, elkeen van ons twyfel soms. Twyfel word gedefinieer as ‘om onseker te wees’ en ‘om nie ten volle oortuig te wees nie’. Dit is ‘om nie te kan besluit tussen geloof en ongeloof nie’. Twyfel is ‘n ‘tussentoestand’ terwyl die besluitnemer wag om te besluit. Twyfel is nie sonde nie.

Iemand wat twyfel, is nie ten volle oortuig nie en kan nog oortuig word. So ‘n persoon is onseker, nie ongelowig nie.

Ek wil diegene wat twyfel, bemoedig uit Jos 24:15
(15) … kies dan vandag wie julle wil dien…. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

Ongeloof daarenteen, is ‘n vrywillige keuse. Dit is ‘n besluit wat geneem is nadat die persoon die feite wat vir hom of haar belangrik is, in ag geneem het. Iemand wat ongelowig is, het reeds kant gekies. Ongeloof is ‘die afwesigheid van geloof’ , ‘om nie te vertrou nie’ of ‘om te kies om nie te glo nie’.

Glo jy?

Die Israeliete het, nadat God baie wonderwerke in hulle midde gedoen het, vrywillig en blatant gekies om nie te glo nie. God het aanstoot geneem en Sy woede het teen hulle ontvlam. Jesus het baie, baie wonderwerke gedoen. Tog het die mense steeds nie in Hom geglo nie.

Die grootste respek wat ons aan God kan bewys, is om sy beloftes te glo en daarop te reageer.

Is daar ongeloof in jou lewe? Het jy dalk vergeet van al die wonderwerke wat God in jou lewe gedoen het en kies jy om nie te glo nie?

Geloof, net soos ongeloof, begin met ‘n kwaliteit besluit. Besluit een keer, en bestuur daarna daardie besluit vir die res van jou lewe. Wanneer die twyfel jou beetpak, herinner jouself dat jy mos reeds besluit het. Jy kan dus nie weer besluit nie. Jy gaan nou staan by jou besluit en onthou: God is ‘n beloner van die wat Hom soek.

Gebed: Vader, ek bid dat elkeen wat hierdie stuk lees, ‘n kwaliteitsbesluit sal neem om vir die Koninkryk te kies en dan sy of haar lewe gelowig daarvolgens in te rig. Amen.

One thought on “Ongeloof

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.