Tommy Lessing

2016/07/24

Wat beteken dit om te identifiseer met iemand? Priester Al-Bazi van Irak het dit met ‘n skok uitgevind. Moslem terroriste het sy kerk en sy motor voor hom opgeblaas. Daarna het hulle sy tande, neus en sy rug met ‘n hamer gebreek. In nog ‘n insident word vertel van ‘n Christen vrou wie se man teen hulle huis se voordeur gekruisig is omdat hy Jesus nie wou verloën nie. Ons het byna almal al fotos gesien of berigte gelees van hoedat Christene vervolg word omdat hulle met Jesus identifiseer. Mense se kele is afgesny, hulle is in hokke gesit en in swembaddens verdrink, hulle babas is voor hulle verbrand. Die probleem is egter dat dit nie net in Oosterse lande gebeur nie. Ook in die tradisionele vrye wêreld is die vervolging van Christene aan die toeneem. Selfs in SA het dit al begin. Die groep FOR SA van pastor Andrew Salley is juis gestig om die vervolging van Christene is SA te moniteer en teen te staan

Identifikasie is nie net wanneer jou lewe in gevaar is nie. Wanneer jy vanaand saam met jou vriende kuier, met wie identifiseer jy? Kan hulle in jou leefstyl sien met wie jy identifiseer? By die huis? Kan jou vrou, kinders of bediende getuig met wie jy identifiseer?

Identifikasie met die Persoon

Wat beteken dit om met iemand met te identifiseer?  Dictionary.com beskryf dit vir my baie mooi (ek vertaal vrylik):

  1. Identifikasie is die proses waardeur ‘n persoon die kwaliteite en karaktertrekke van ‘n ander persoon, aan homself toeskryf.
  2. Om iemand anders te beskou as ‘n verlenging van jouself.

In die konteks van Christen wees, kan ons daarom sê dat, omdat ek met Jesus identifiseer, ek die kwaliteite en karaktertrekke van Jesus aan myself kan toeskryf. Hoekom? Want die Woord sê dat ek met Christus gesterwe het. Dit is dus nie meer ek wat lewe nie, maar Christus in my. Die vlees en sy begeertes sal eendag sterwe, maar my lewe is verborge in Christus. Jesus het ‘n verlenging van myself geword. Dit is daarom dat daar geen veroordeling meer is vir ons wat in Christus is nie (Rom 8:1).

Kom ons lees hierdie Skrifte:

Rom 6:8  As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe

Rom 8:17  En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Kol 3:3  Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Wanneer ons die definisie van identifikasie verstaan, (om Christus te beskou as ‘n verlenging van jouself), dan word hierdie Skrifte makliker om te verstaan:

  • Ons het met Christus aan die kruis gesterf
  • Ons lewe is daarom met Christus verborge in God
  • Ons is met Christus
  • Omdat ek met Christus gesterwe het, lewe ek nie meer nie, maar Hy in my.

Identifikasie met die Naam

Wanneer ons wedergebore word,  staan ons in ‘n Nuwe Verbond met God. Daardie verbond werk amper dieselfde as ‘n ander verbond wat ons beter ken, naamlik die huweliksverbond.

  • Net soos wat jy in die huweliksnag een word met jou maat, word jy EEN met Christus in Sy kruisiging, begrafnis en opstanding deur die wedergeboorte en die doop. Deur die doop roep jy die Naam van Jesus aan en proklameer jy Sy Heerskappy in jou lewe. Daardeur identifiseer jy jouself in die openbaar met Hom.
  • Na jou troue is jy nie meer vry om te lewe soos wat jy wil nie, want jy het jouself verbind aan jou huweliksmaat. Net so met Christus is jy nie meer vry om te doen wat jy wil nie, want jy het jouself verbind deur die Nuwe Verbond aan Hom.
  • Net soos wat jy in die huwelik die reg en die gesag kry om die naam van jou man aan te neem en te gebruik, kry jy die reg en gesag om Jesus se Naam aan te neem en te gebruik. Daarom staan die gebruik van Jesus se Naam saam met die Groot Opdrag in Mark 16:15-18

En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.  (16)  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.  (17)  En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,  (18)  slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Jy het die reg verkry om daar die Naam as jou eie te gebruik. Die gesag en krag agter daardie Naam, staan nou agter jou omdat jy identifiseer met Jesus. Dit is daarom belangrik dat ons verstaan: Die Opdrag om Jesus se Naam te gebruik was nie gebaseer op mense se aanvaarding of verwerping daarvan nie. Dit was gebaseer op mense se behoefte om die Goeie Nuus te hoor.

  • Daar is Redding in daardie Naam
  • Daar is Verlossing in daardie Naam
  • Daar is Genesing in daardie Naam
  • Daar is Oorwinning in daardie Naam

Identifikasie met die Heiliges van God

Daar is nog ‘n definisie van identifikasie waarby ons vinnig gaan stilstaan: Sosiale Identifikasie. Dit is om  waardes en belange van ‘n sosiale groep as jy ou eie waardes en belange te aanvaar. In die Apostoliese Geloofsbelydenis lees ons van die Gemeenskap met die Heiliges. Dit is om te identifiseer met daardie mense wat saam met jou deel in die Goeie Nuus van die Koninkryk van God. Ons het mekaar nodig om te oorleef in hierdie dae. Ons het mekaar se gebed en ondersteuning nodig. Ons moet daarom deel vorm van die Gemeenskap met die Heiliges van God.

Met Wie Identifiseer Jy?

In vandag se dae is daar baie stemme wat opgaan om die uitverkorenes van God te mislei. Dit is in ooreenstemming met Bybelse Profesie. Selfs die Woord van God en die Absolute waarhede daarin word betwyfel en aangeval. Mense word versoek om nie in die openbaar langer te bid in die Naam van Jesus nie. Liewe Leser en Luisteraar, die tyd gaan kom waar ook jou keuse getoets gaan word – dalk tot die dood toe. Gaan dink na en ontleed jou lewe. Wanneer ander mense en Christus na jou lewe kyk, wat sal hulle sien? Met wie identifiseer jy? As dit nodig, maak nou die regstellings en aanpassings, voordat dit te laat is.

 

8 thoughts on “Met Wie Identifiseer Jy?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.