Tommy Lessing

2016/02/28

Jare gelede was daar ‘n vrou wat ‘n Bougainvillea rankplant geplant het. Sy het gehoor dat dit so pragtig kan blom en het baie moeite gedoen met die plant. Die plant het gegroei en sterk geword, maar dit wou eenvoudig nie blom nie. Naderhand het die plant so gerank dat mens die heining nie meer kon sien nie, maar geen enkele blom was sigbaar nie. Die vrou was baie teleurgesteld. Op ‘n dag het sy haar buurvrou ontmoet en die het vir haar gesê, ‘Ek het jou Bougainvillea se pragtige blomme so geniet! Nog nooit het ek ‘n plant met sulke mooi en groot trosse blomme gesien nie!’ Die plant het mooi dwarsdeur die heining gegroei en aan die anderkant van die heining geblom. Dit is soms dieselfde met ons geestelike lewe. Ons werk hard en doen moeite. Ons bid en bid en ons word moedeloos. Ons dink dat niks gebeur nie, maar ons harde werk en gebede sal wel vrug dra en blom. Iewers sal jou harde werk, moeite en gebede wel vreugde bring aan harte wat lank daarop gewag het.

Kwellinge

Wie van julle het al gesien hoe totaal ‘n kind homself kan oorgee aan sy ouers se voorsiening? Veral tieners kan ‘n yskas en koskas so erg stroop dat die ouers soms wonder wat van al die kos geword het. Tog het ek nog nooit ‘n kind elke dag op sy kniee voor sy ouers gesien smeek, ‘Gee groot asseblief vandag vir my kos en klere en slaapplek’ nie. Kinders aanvaar sulke dinge as vanselfsprekend. Wanneer hulle dit nodig het, sal dit maar daar wees. Ons leer in die Woord dat ons op dieselfde wyse die Here moet vertrou vir ons lewensnoodsaaklikhede:

Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  (Matt 6:25-33)

Die eerste ding wat my uit hierdie vers opval, is die woord ‘Moenie’. ‘Moenie jou sussie so pes nie!’ ‘Moenie so op die banke spring nie!’ is alles woorde wat aan ouers en kinders wel bekend is. Moenie beteken eenvoudig dat mens dit nie moet doen nie. ‘Moenie’ is ouers se eerste manier om vir kinders te leer dat besluite gevolge het. ‘Moenie’ beteken dat, as jy dit aanhou doen, daar gevolge gaan wees. Die Here Jesus het gesien hoedat kwellinge ‘n mens gedaan kan maak. Hy weet dat dit nie goed is om mens so aanmekaar te kwel nie. Daarom begin Hy deur te sê, ‘Moenie!’

Die tweede ding wat my uit die vers opval, is  die woord ‘kwel’. Kwel (Grieks= ‘merimnahoo’) is dieselfde woord wat in Engels as ‘fret’ vertaal word. Dit beteken om sigbaar angstig te wees, soos bv. om jou hande te vryf of heen en weer te loop, of om nagte wakker te lê. Ek het ook ‘n ander betekenis van die woord gevind: Om iets geleidelik deur te  skaaf of te knaag. ‘n Rivier se water kan byvoorbeeld ‘n pad deur ‘n rotslaag kwel.

Termiete het ‘n manier om hout te kwel. Wie het al gesien hoe lyk ‘n stuk hout wat deur termiete gevreet is? Dit is voel gate en verpoeier. Al waarvoor die hout goed is, is om verbrand te word.  Wanneer ons ongehoorsaam is aan die Woord en onsself kwel oor dinge waaroor ons nie moet nie, dan begin dit aan ons vreet en knaag totdat ons siek en moedeloos raak.

Jesus sluit af deur te sê, dat net soos ‘n kind sy pa kan vertrou vir hierdie dinge – ons die Hemelse Vader kan vertrou dat Hy eenvoudig sal voorsien wanneer ons dit nodig het. Ons hoef onsself nie daaroor te bekommer nie. Hy sal voorsien soos wat aardse ouers voorsien.

Soek die koninkryk van God

Jesus sluit af in vers 33 dat ons eerder die koninkryk van God moet soek. Maar hoe soek mens die koninkryk van God?

Ons kry 4 leidrade in Psalm 37:3 Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,

Vertroue is die eerste manier om die konkinkryk van God te soek

Die woord ‘vertrou’ beteken eerstens om nie alleen deur te lewe te probeer gaan en alles self te wil doen nie. Vertrou impliseer ‘n afhanklikheid van ‘n groter bron van krag. Vertrou beteken om eenvoudig op God te vertrou soos wat ‘n kind op sy ouers vertrou vir sy behoeftes. Wanneer ‘n kind se skooltas stukkend is, gaan sê hy net vir sy ma of pa daarvan. Hulle sal self sien dat die tas reggemaak word of vervang word. Hulle vertrou hulle ouers ten volle vir hulle behoeftes.

Om goed te doen

Dit is vir God belangrik dat ons, as Sy kinders en verteenwoordigers, goed sal doen aan andere. Die Bybel leer ons dat dit meer geseend is om te gee as om te ontvang:

Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.  (Luk 6:38)

Ons het soms so ‘n nare geneigdheid in ons om nie jammer te voel vir mense wat swaarkry nie. Wanneer jy egter vir die koerantverkopertjie sê dat hy maar die kleingeld mag hou, dan laat jy die koninkryk van God vir hom kom. Ons lees in Handelinge van ‘n Italiaanse offisier wat graag aalmoese vir die armes gegee het en gereeld tot God gebid het. Die Here het so baie van die man gedink dat ‘n engel aan hom verskyn het en hom in ‘n gesig bemoedig het. Julle kan die hele verhaal in Handelinge 10 lees.

Bewoon die aarde

Jy mag maar die aarde bewoon. God het jou hier op aarde geplaas om dit te bewoon. Hoekom is belangrik? Ons dink soms dat ons nie vir die Here mag vra vir iets soos ‘n plekkie om in te bly nie. Jy mag maar die Here vertrou vir ‘n ordentlike blyplek. Daar is ‘n ou Afrikaanse gesegde, “blom waar jy geplant is”. Bewoon en bewerk die aarde daar waar jy geplant is. Soek daar geleenthede om God se koninkryk te laat kom. Wanneer jy ‘n ordentlike plekkie het om in te bly, is dit tot eer van God en tot getuienis vir die ongelowiges.  In die KJV lees hierdie vers

Trust in the LORD, and do good; so shalt thou dwell in the land, and verily thou shalt be fed. (Ps 37:3)

Daar vind ons dieselfde belofte waarvan Jesus gepraat het: Voorwaar, jy sal gevoed word!

Beoefen getrouheid

Die Here stel ‘n groot premie op getrouheid. Getrouheid dui op twee dinge:

Eerstens dui dit daarop dat jy ‘n stel waardes het waarvolgens jy lewe. Daardie waardes bepaal die grense waarbinne jy veilig en gemaklik voel.  As jy bv besluit het dat dit ‘n waarde in jou lewe is om nie drank te misbruik nie, sal jou getrouheid aan daardie waarde jou veilig hou. Die waarde self het nie krag nie. Dit is jou getrouheid wat die verskil in jou lewe sal maak. Stel dus vir jou waardes vas waarvolgens jy veiig kan leef. Skrywe dit neer en maak dit deel van jou leefwyse. Dit is ‘n kenmerk van getrouheid.

Tweedens dui getrouheid op deurlopendheid. Die Here Jesus het gesê dat ons nie moet omkyk wanneer ons eers ons hand aan die ploeg geslaan het nie.  Die rede daarvoor is, dat wanneer ons omkyk, dan ploeg ons skeef. Ons moet deurlopend fokus op die einddoel voor ons. Alles wat ons doen, dink of sê, moet wees met die oog om ons einddoel te bereik. Jou einddoel is om jou skeppingsdoel uit te lewe deur dit te definieer en daarna die leiding van die Heilige Gees te volg om dit te bereik.

Slot

Om af te sluit, moet ek gou die verskil tussen behoeftes en begeertes verduidelik:

Behoeftes is daardie dinge wat ons nodig het om ons lewensdoel te bereik en uit te lewe. Dit sluit in hulpbronne soos finansies, mannekrag en ‘n ondersteuningsnetwerk.

Begeertes is sterk wense of verlange om iets te verkry of dat iets moet gebeur. Waar behoeftes die koek is, is begeertes die kersie op die koek. Dit is die lekker dinge wat dit sommer die moeite werd maak om te lewe.

In die volgende vers , vers 4 – leer ons die gevolge wanneer ons die koninkryk van God laat kom:

en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Wanneer ons die koninkryk van God sal kom, sal Hy nie slegs ons behoeftes vervul nie, maar aan ons gee die begeertes van ons hart!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.