Sleutels tot Groot Geloof(2):  Ken die stem van jou gees

Tommy Lessing

2016-02-07

Gilbert Stuart was ‘n beroemde skilder wat bekend was vir die helder kleure wat hy gebruik het wanneer hy skilder. Eendag het Benjamin West, ‘n mede skilder wat ook beroemd was, met sy studente gesels oor Gilbert Staurt. “Dit help nie om Stuart se verf te steel nie.” het hy gesê. “As jy soos Stuart wil skilder, moet jy sy oë steel!” Dit is dieselfde wanneer ons so hard probeer om soos Jesus te lewe, maar dit nie regkry nie. Ons kan nie die helder kleure waarmee Hy gelewe het, na-aap en dink dit gaan werk nie. Om soos Jesus te lewe, het ons Sy aard en Sy natuur binne ons nodig, sodat ons soos Hy kan sien en dink. Sonder die Heilige Gees hier binne kan ons nie soos Christus daar buite lewe nie.

Die Ware Jy

Liggaam

Ek het vir lank gedink dat my liggaam, die ware ek is. Ek kan dit tog sien, voel, ruik en proe.  In Rom 12:1 lees ek egter

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.  (Rom 12:1)

 

My liggaam kan nie my liggaam stel nie. Iets of iemand anders moet my liggaam stel as ‘n welgevallige offer.  Die ware ek is dus nie my liggaam nie.

Verstand

Is die ware ek dan my verstand? In Rom 12:2 lees ek

En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [verstand], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. (Rom 12:2 AOV)

 

Ons moet ons verstand (gemoed) vernuwe. Om deur Jesus gered te word, moet ons egter wedergebore word, ‘n nuwe skepsel word. Dit is iets wat net die Heilige Gees kan doen. Dit is nie iets wat ons self kan doen nie. Ons moet self ons verstand vernuwe.  Ons sien dus dat ons verstand ook nie die ware ek is nie.

Gees

Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.  (Joh 4:23 AOV)

Die Vader soek ware aanbidders wat Hom in gees en waarheid sal aanbid. Let op dat die woord ‘gees’ in klein letters is. Dit is omdat dit nie na die Heilige Gees verwys nie. Waarna verwys dit dan? Ons vind ‘n leidraad in 1 Pet 3:4

maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. (1Pet 3:4 AOV)

In 1 Kor 14:14 maak Paulus ook ‘n duidelike onderskeid tussen sy verstand en gees:

Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.  (1 Kor 14:14)

‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.  (1 Kor 15:44 AOV)

Dit is jou gees wat wedergebore word.

Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. (Joh 3:6 AOV)

Dit is jou gees wat bid wanneer jy in ‘n taal bid. Dit is jou gees wat God in waarheid moet aanbid.

Uit hierdie Skrifte, en ander soortgelyke Skrifte, word dit duidelik dat die ware jy, jou gees is. Dit is belangrik om dit te verstaan as ons die stem van ons gees wil leer ken.

Die stem van jou gees

In Spreuke 20:27 kry ons ‘n belangrike leidraad om die stem van ons gees te leer ken:

Die gees van die mens is ‘n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste. (Spr 20:27 AOV)

Die ‘verborge mens van die hart’ of die gees van die mens het ‘n geestelike liggaam (1 Kor 15:44). Hierdie liggaam het ‘n stem. Daardie stem het verskillende maniere waarop dit kommunikeer: die gewete, intuïsie, innerlike leiding of ‘n innerlike getuienis. Wanneer ‘n wedergeborene sy gees oefen en ontwikkel, word die stem van sy gees meer en helderder hoorbaar. Ons wêreld in moderne tye het meer liggaamsbewus en sielbewus geword, maar die gees van die mens is byna onaangeraak gelaat. Tog is dit die gees van die mens wat die lamp van die Here is.

Mens kan jou gees opvoed net soos wat jy jou siel kan opvoed. Jou geestelike liggaam kan geoefen word en sterker word net soos wat jou natuurlike liggaam by die gim sterker kan word. Ongelukkig kan iemand wat nie wedergebore is nie, nie die stem van sy gees volg. Sy gees is nie wedergebore nie. Sy gewete sal hom nie toelaat om so iets te doen nie. Wanneer jy egter die natuur van God in jou het, sal jou gewete jou weer nie toelaat om te doen wat jy wil nie.

Wanneer jy wedergebore is, woon die Heilige Gees in jou gees. Hy kommunikeer nie direk met jou verstand nie, want Hy woon nie daar nie. Hy woon in jou gees. Hy kommunikeer met jou gees. Jou gees kommunikeer weer met jou verstand.

  • Met ons gees maak ons kontak met die geestelike wêreld
  • Met ons siel kontak ons die intellektuele wêreld
  • Met ons liggaam kontak ons die fisiese wêreld

Gelei deur Gevoel en Tekens

In Rom 8:16 lees ons Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom 8:16 AOV)

As die Gees nie saam met jou gees getuig nie, het jy probleme!

  • Gevoel is die stem van die liggaam
  • Logika (reason) is die stem van die siel of verstand
  • Gewete en die innerlike getuie is die stem van die gees

As jy deur jou gevoelens of emosies gelei word, is jy in groot moeilikheid! Baie mense sê, ‘dit voel nie vir my of God my hoor nie’ of ‘dit voel dan nie of ek gered is nie’. Dit maak nie saak wat jy voel nie. As die Woord van God dit sê, is dit waar, of jy so voel of nie. Wanneer God in Sy Woord sê dat Hy jou gebed gehoor en geantwoord het, dan het Hy. Baseer jou geloof op die Woord, en nie op gevoelens nie.

Om vir die Here ‘n teken te vra as bewys dat jy iets moet doen of nie doen nie, is net so gevaarlik. Die duiwel kan ook mos ‘n teken vir jou gee, dan word jy maklik mislei om te dink dat die Here gesê het jy kan dit maar doen. Die gees van die mens is die lamp van die Here (Spr 20:27) – nie tekens nie.

Gevoelens en Tekens is nie veilige en goeie maniere om die leiding van God te soek nie. God het ‘n spesiale manier van kommunikasie met jou wat veilig is. Net soos met enige ander kommunikasie stelsel soos ‘n radio of nuwe slimfoon, moet jy dit egter leer ken en daarmee oefen voordat jy dit goed sal kan gebruik.

Wag op die Here

Ons lewe in ‘n kits wêreld waar alles vinnig gebeur. As ons ‘n antwoord op gebed soek, wil ons dieselfde beginsel toepas – God moes al gister geantwoord het! Omdat ons altyd die vinnigste en maklikste pad soek, het ons begin ophou om verantwoordelikheid vir onsself te neem. Tog is dit by ons waar die verantwoordelikheid lê. Ek het al baiekeer vir mense hoor bid,’Here, as U wil hê dat ek dit moet doen, maak die deur oop. As ek dit nie moet doen nie, maak die deur toe.’ Ek het inteendeel self al in hierdie slaggat getrap. Hoekom is dit so maklik om daarin te trap? Want dan skuif die verantwoordelikheid vir ons besluite na God toe. Ons ontduik die verantwoordelikheid en neem daarna vir God kwalik as dinge nie reg uitwerk nie.

Ons is nie bereid om op die Here te wag nie. Tog is dit die wat op die Here wag, wat nuwe krag kry (Jes 40:31). Dit is hulle wat die antwoorde kry en die strategie. Om op die Here te wag, beteken om tyd te neem om stil te word in jou liggaam en verstand. Het jy al agtergekom hoedat jou liggaam moeg is, maar jou brein wil net nie afskakel nie? Dit is net so wanneer mens wil stil word voor die Here. Jou brein wil nie afskakel nie. Om stil te word, is ‘n kuns wat ons afgeleer het. Dit is ongelukkig in daardie stilte wat die stem van jou gees helderder word en jy waarlik met God kan begin kommunikeer. Ons moet weer leer om op die Here te wag en om stil te word.

Die innerlike getuie

Indien ons die moeite sou doen om ons gees behoorlik te oefen, sou dit selfs in die kleiner dinge van die lewe, maklik wees om te weet of dit ‘n NEE of JA is. Ons spandeer amper ons hele leeftyd in die fisiese en intellektuele realms. Ons verstand is baie meer ontwikkel as ons gees. Ons gees, wat die lamp van die Here is; en wat ons moet lei, is weggesluit en word byna glad nie toegelaat om te funksioneer nie.

Die innerlike getuie gee leiding aan ons verstand. Ons weet almal dat daar honderde klein dingetjies is wat ons anders sou gedoen het as ons net na die innerlike getuie wou luister. Ons sou nie in verkeerde verhoudings beland het nie. Ons sou ook nie verkeerde finansiele besluite geneem het nie.

Hoe herken ek my innerlike getuie? Dit is redelik maklik: Wanneer jy oor ‘n sekere saak bid en daaroor nadink; gebeur dit soms dat daar ‘n ongemaklikheid in jou gees kom oor die saak. Dit is soos ‘n rooi lig of ‘n alarm wat skreeu om jou te waarsku om iets nie te doen nie – dit is jou innerlike getuie.

Soms moet mens egter wag en stil word sodat jou gedagtes af skakel en dit stil genoeg word voordat jy die stem van jou gees helder hoor. Iemand mag dalk vra, “Hoe weet ek dat dit my gees of die Heilige Gees is wat met my praat? Onthou die Skrif is Spr 20:27 – Die gees van die mens is die lamp van die Here. Die Here sal deur jou gees met jou kommunikeer. Nou mag hy dalk antwoord, “Maar dalk is dit net ek wat dit wil doen – dalk is dit net my eie gedagtes.”

Jy behoort in staat te kan wees om te onderskei wanneer dit die vlees of uiterlike mens is wat iets wil doen, of jou gees of innerlike mens. Die uiterlike mens wil gewoonlik verantwoordelikheid ontduik, die maklike uitweg vat of dit is nie lus nie. Dit begeer gerief, gemak en maak bymekaar.

Die innerlike mens daarteenoor, sien deur die oë van Jesus. Hy dink soos Jesus, daarom tree hy op soos Jesus. Hy probeer om seën en God se liefde in elke situasie vry te laat. Die vrug van ‘n geesbeheerde lewe is dat so ‘n persoon sy lewe verf met dieselfde helder kleure wat Jesus gebruik het.

Word Stil

Neem  elke dag tyd om stil te word voor God en op Hom te wag. Dit is in die stilte waar God is. Hy is nie in die storm of in die aardbewing nie. Begin met net 15 minute op ‘n dag. Maak dit meer na ‘n week. Oefen jou gees. Jy sal verstom staan oor die resultate.

Advertisements

2 thoughts on “Ken die stem van jou gees

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.