Tommy Lessing

2016-01-31

Die evangelis John Paton was baie jare gelede ‘n sendeling op die Hebrides eilande. Dit word vertel dat hy begin het om die Bybel in die plaaslike dialek te vertaal, maar hy kon net nie die regte woord vind om ‘geloof’ te beskryf nie. Eendag was hy op ‘n jagtog saam met sommige van dorpie se inwoners. Hulle het ‘n groot bok gejag en dit moeitevol met die bergpaadjie af na die dorpie toe gesleep. By die huis aangekom het die jagters hulle op sommige van die dekstoele op die stoel uitgestrek. Een jagter het uitgeroep, ‘Sjoe, dit is lekker om jouself hier uit te strek en te rus!’

John Paton het dadelik opgespring en die man se woorde neergeskryf. In sy finale vertaling van die Nuwe Testament was dit die woord wat hy gebruik het om die idee van vertroue en geloof oor te dra:

“Strek jouself uit op die Here Jesus Christus en jy sal gered word…” Hand 16:31

Die Basis van ons Geloof

Die integriteit van ‘n voorwerp verwys na sy eienskappe: die tipe laste wat gebruik is, die manier waarop dit ontwerp is en die kwaliteit van die materiaal wat gebruik is. Die jagters in die verhaal hierbo moes volle vertroue gehad het in die integriteit van die dekstoele. Hulle het hulleself, sonder om daaroor na te dink, op die dekstoele gaan uitstrek. Hulle het geweet dat die stoele sterk genoeg was om hulle gewig te dra. Hulle het dit geweet uit vorige ondervinding. Dit was nie nodig om die stoele weer te toets of dit sterk genoeg was voordat hulle daarop gaan lê het nie.

Die integriteit van ‘n persoon verwys ook na sy eienskappe: sy betroubaarheid, sy morele en etiese waardes en sy karakter. Jesus se integriteit as ‘n Persoon moet bo verdenking wees. Mens moet op Hom kan staatmaak sonder om daaroor te wonder. Dit moet wees soos om op jou gunsteling stoel te gaan sit: jy weet jy kan dit vertrou. Net so behoort dit nie nodig wees om Jesus se integriteit eers te toets voordat ons, onsself “op Hom uitstrek nie”. Jy moet weet dat jy Hom kan vertrou.

Jesus vertel hierdie gelykenis in Matt 7:24-27

Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. (Matt 7:24-27 AOV)

Jesus verwys hier na die integriteit van die huis. Wanneer mens ‘n huis bou, is die bou van die fondasie belangriker as die manier waarop die huis ontwerp is of die kwaliteit van die materiaal wat gebruik is. Die huis op die rots het ‘n vaste, onwankelbare fondasie gehad. Mens kon daardie huis in ‘n storm gebruik sonder om bekommerd te wees of dit gaan bly staan.

Die huis waarvan Jesus praat, is ons geloof. Die fondasie waarna Hy verwys, is die manier waarop jy glo. Die manier waarop jy glo, is belangrik want dit vorm die integriteit of basis van jou geloof. Ons probleme is baiekeer nie in ons geloof nie, maar in die manier waarop ons glo.

Waterstrome en Winde

Jesus leer ons dat daar in ons daaglikse wandel, waterstrome en winde gaan kom. As jou huis op die rots gebou is, is jou fondasie se integriteit betroubaar en sal jou huis nie val nie. Die waterstrome en winde wat teen die Huis van ons Geloof waai, kom soms in die vorm van vrae vol vertwyfeling:

  • Hoe weet ek of my versoek wel God se perfekte wil vir my is?
  • Is dit nou die regte tyd om dit te ontvang?
  • Is ek dalk te sondig of doen ek dalk iets verkeerd sodat ek nie ontvang nie
  • Ek weet van mense wat nie genees is nie/nie ontvang het nie. God antwoord dus nie altyd “JA” nie.

Sulke vrae is geneig om die basis van ons geloof baie effektief aan te val. Ons hou dan op bid of glo. Die manier waarop ons glo, maak ruimte vir twyfel. Ons kan onsself daarom nie meer vol vertroue “uitstrek op die Here Jesus Christus” nie. “ Geloof word deur Vrees vervang. Die Bybel is duidelik oor wat God se wil is vir ons. Hier is Sy wil in drie kritiese areas van ons lewens:

Gesondheid:

wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. (1 Pet 2:24 AOV)

Finansies:

En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

(Fil 4:19 AOV)

Verhoudings:

en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. (Heb 10:24-25 AOV)

 

Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.  (Gen 2:18 AOV)

 

Die Eerste Sleutel

Ons sien dus dat die manier waarop ons glo, die basis of fondasie van ons geloof vorm. Wanneer ons die fondasie kan vertrou, kan ons met selfvertroue onsself “op die Here Jesus Christus uitstrek”, want ons weet dat Hy daar gaan wees vir ons. In lees hieroor in Jak 1: 5-8

En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie— so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. (Jak 1:5-8 AOV)

Vervang die woord ‘wysheid’ met wat jou behoefte ook is – finansies of genesing of deurbrake in jou verhoudings. Die sleutel vir “om te bid sonder twyfel” lê nie in jou geloof of hoe sterk dit is nie, maar in die manier hoe jy glo. Vertwyfeling vernietig Geloof. Hulle is vyande. Jy MOET jou fondasie se integriteit kan vertrou.

As dit vir jou moontlik word om te bid sonder om te twyfel – dan kan jy die fondasie onder jou eers vertrou en jou “uitstrek op die Here Jesus Christus”. In my eie lewe het ek dit vir myself uitgemaak dat God altyd vir my sal gee wanneer ek vra. Daar is voldoende Skrifte in die Bybel waarop ek my aanname kan berus. Hier is nog so ‘n belofte van God:

En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het. (1 Joh 5:15 AOV)

Wanneer daar tye moeilike tye voorlê of daar ‘n probleem gaan wees, glo ek dat Hy my betyds sal waarsku.

Hierdie manier van glo werk vir my en skakel baie vertwyfeling uit. Dit spreek vanself dat ek nie vir God dinge sal vra wat direkte sondes is of wat deur die Bybel verbied word nie. Ek ondersoek ook my motiewe (veral as ek vir dinge of finansies bid), want ons word direk in Jak 4:3 daaroor gewaarsku:

Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? (Jak 4:1 AOV)

Daar is natuurlik tye wanneer ons versoeke aanmatigend of gekkigheid is. Ek verwys nie na sulke gebede nie.

Slot

Net soos wat ons op ons gunsteling stoel gaan sit sonder om dit elke keer te toets of dit gaan hou, behoort ons vir Christus te kan vertrou sonder om elke keer te toets of Hy gaan antwoord. Ou vriende en oud-getroudes weet dat hulle mekaar kan vertrou en dat die ander een hom of haar betyds sal waarsku as dit nodig sou raak. Wanneer ons volgens God se wil (wat in Sy Woord staan) bid, sal Hy ons antwoord.  Laat ons hierdie week binnegaan met die vaste wete dat Christus vertrou kan word in en met elke situasie in ons lewens.

2 thoughts on “Sleutels tot Groot Geloof (1): Die Basis Van Ons Geloof

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.