Past. Tommie Lessing

24/6/2015

Honger na God

Hoekom het so baie gelowiges nie ‘n diep, intieme verhouding met God nie? Wat hou hulle terug? Wat sal hulle passie aansteek in antwoord op Sy roepstem om saam met Hom in die tuin te wandel?  Die antwoord is nie kompleks nie: dit is ons honger en dors om Hom te ken (Ps 42:2).

Baie mense bid, ‘Here, gee vir my ‘n honger en dors na U!”.  Ek het al self baiekeer so gebid. Ek het egter agtergekom dat dit nie baie akkuraat is nie, want dit is ons wat die maat van ons honger bepaal en nie Hy nie!

Die versadigde siel

Ons lees in Spreuke:

‘n Versadigde siel vertrap die heuningstroop, maar vir ‘n hongerige siel is alles wat bitter is, soet.

(Spr 27:7 AOV)

Wat beteken hierdie Skrifgedeelte? Ek kan dit beter verduidelik wanneer ons dink aan ‘n fees by ons, soos bv. Kersfees. Ons honger onsself al voor die tyd uit en eet nie ontbyt nie sodat ons ekstra honger is met middagete. Dan, op die regte tyd, word die heerlikste disse soos skaapboud en slaaie en bruinpoeding en vla opgedien. Ons eet onsself knuppeldik aan al die kos.

Daardie aand gaan ons by vriende of familie kuier en hulle haal weer die heerlikste bakke val kos uit, selfs nog lekkerder as wat ons met middagete geëet het. Wat is egter nou ons reaksie? Ons bedank dit en neem dalk net ietsie kleins agter die lekkerte aan. Daardie groot honger wat ons ‘n paar ure terug gehad het, is egter nou weg, en DIT is die boodskap wat hierdie Skrif wil oordra. Ons mag dalk nie die volgende maaltyd verag nie, maar ons neem dit nie so ernstig op nie.

Let daarop dat dit nie is WAT ons eet nie, maar eerder DAT ons eet, wat die maat van hongerte bepaal.

Dit werk dieselfde met ons geestelike lewe. In vandag se tyd met moderne tegnologie, kan ons, ons siele voed met TV, Smartphones, Facebook, Twitter, Rekenaars, Series, Flieks, vriende, motors en ‘n horde ander dinge wat ‘n paar jaar gelede nie moontlik was nie. Wanneer jy jou siel versadig het met sulke ‘disse’, sal die ‘dis’ van Tyd met God jou miskien nie afsit nie, maar jy sal net nie so baie lus wees daarvoor nie.

Wees egter vir ‘n dag of twee sonder kos en die kos waarvoor jy gister nie lus was nie, lyk nou weer begeerlik lekker.

Dit is ook wat in ons kerke ‘n probleem is. Mense sê dat hulle honger na God, maar hulle SMAG nie na Hom nie. Hulle is nie soos die man wat ‘n paar dae laas geëet het nie, maar eerder soos die man wat ‘n groot ete gehad het net ‘n paar ure gelede.

Materialisme en Honger

Die maat waarmee jy jouself besig hou met die dinge van die lewe, sal jou respons op God se roepstem bepaal.

In Openbaring lees ons

En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. (Openb 3:14-17 AOV)

Jesus praat hier van ‘n lewensuitkyk en nie dat dit verkeerd is om goed versorgd te wees nie. Dit het relatief goed met hierdie gemeente gegaan. Elkeen het ‘n dak oor die kop gehad, kos om te eet en dinge om hulle mee besig te hou. Hulle woorde het egter hulle tekort aan passie (hulle was louwarm) verraai: hulle siele was versadig – ongelukkig nie in Hom nie maar in dinge.

Is die probleem dan dat ons te veel geld of besittings het?

Ek glo nie dat dit is wat Jesus bedoel het nie. In 1 Kron 22:14 oorhandig koning Dawid aan Salamo die volgende:

Onder al my swaarkry het ek vir die huis van die Here drie duisend vier honderd sewe en twintig ton goud en vier en dertig duisend twee honderd en sewentig ton silwer opsy gesit, en ‘n massa brons en yster, te veel om te weeg. Ek het ook hout en klip gereed gemaak, en jy kan daar nog byvoeg.  (1 Kron 22:14 Afr Nuwe Vert)

Hy was dus nie ‘n arm man nie. Tog, wanneer Dawid met die Here praat, lees ons:

“HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig. “ (Psa 86:1 AOV)

Ons weet dat hy nie fisies arm was nie, tog was hy bewus van sy behoefte aan God . Hy het geweet dat hy sy hongerte na God moet beskerm. Hy was desperaat vir God se antwoord. Hy was honger en dors vir intimiteit met God.

Die gemeente in Laodisea se probleems was dus nie soveel materiele dinge nie, maar dat hulle toegelaat het dat materiele dinge hulle siele versadig het tot op die punt waar hulle slegs lou was vir intimiteit met God. Dit was hieroor dat Jesus aanstoot geneem het. Dawid daarenteen, het dit nie toegelaat dat sy groot rykdom sy siel versadig nie.

Verstaan mooi wat ek kommunikeer: Smartphones, TV, Internet ens is nie bepalend tot ons honger, maar eerder die wyse hoe ons dit hanteer.

Ons kan ons vinger op die pols hou van wat om ons gebeur, maar dit moet nie die bron word wat my siel voed of bevredig nie.

  • Die verhaal van die twee groepe Indiane.
  • Openb 3:20 – geskryf vir reeds wedergebore Christene. Hy wil inkom en jou voed!

Bepaal jou honger

Honger is die sleutel na ons intimiteit met God. Ons moet altyd onthou dat ons in beheer is van ons aptyt, en nie God nie. Ons kan nuwe aptyte en voorkeure (‘cravings’) aankweek. Daar is ‘n belangrike geestelike beginsel wat hier werk:

Ons sal honger wees (‘lust’) na dit waarmee ons, onsself voed.

  • Oorgang van Junk food na gesonde kos
  • Dieselfde geld vir ons siele:
    • ‘n dieet van sport sal ons laat lus na Sport TV
    • ‘n dieet van series en flieks sal ons laat lus na nog downloads, tydskrifte ens.
    • ‘n dieet van sake en die sakewêreld sal ons daarna laat verlang
    • As jou passie klere is, of bikes, of karre of huise, sal jou oë ophelder as iemand dit bespreek.
  • ‘n Konstante dieet van God se Woord en gereelde daaglikse afsprake met Hom, sal maak dat ons na tyd met Hom verlang en geestelike dinge sal meer natuurlik begin vloei.

Volgende keer

Laaste in ons reeks oor Intimiteit met God (4): Die Vrees van die Here.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.