Past. Tommie Lessing

23-8-2015

Kliek hier om na ‘n opname van hierdie preek op Youtube te luister.

Inleiding

‘n Paar jaar gelede was die bekende dr. Lester Sumrall gevra om ‘n jong Fillipynse meise te bevry. Die meisie was baie erg demonies besete en daar was niemand wat haar kon help nie. Hoewel sy nie ‘n woord Engels kon praat nie, het die demoon in perfekte Engels met dr. Sumrall gepraat. Hy het eers God die Vader vervloek, toe God die Seun en toe God die Heilige Gees. Daarna het hy die Bloed van Jesus vervloek. By ‘n Full Gospel Business Vergadering in Chigago daarna, het dr. Sumrall gesê dit was amper asof die Bloed van Jesus lewendig was vir die demoon.

Die lewe is in die Bloed

In Lev 17:14 lees ons, “want wat die siel (nefesh) van alle vlees (basar – liggaam) aangaan, sy bloed is met sy siel verbind.”

In Lev 17:11 lees ons, “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

In Engels lees dit, “For the life of the flesh is in the blood; and I have given it for you upon the altar to make atonement for your souls; for it is the blood that makes atonement, by reason of the life. (RSV)

Uit hierdie Skrif leer ons drie belangrike dinge:

  • Die lewe is in die bloed
  • Die bloed self het geen mag nie en is slegs ‘n draer. Dit bewerk versoening, agv die lewe wat dit dra
  • Omdat Jesus bonatuurlik verwek is, is die bonatuurlike lewe van God in Jesus se Bloed

Wanneer ons hierdie Skrif in gedagte hou, kan mens verstaan hoekom hierdie kragtige demoon so erg reageer het.

Die gesaghebbende Scofield het oor hierdie Skrif gesê :

Die waarde van die bloed word bepaal deur die waarde van die lewe wat dit dra.

“The value of the “life” is the measure of the value of the “blood.” This gives the blood of Christ its inconceivable value. When it was shed the sinless God-man gave His life. “It is not possible that the blood of bulls and of goats could take away sins” (Heb_10:4)…  It is not the blood in the veins of the sacrifice, but the blood upon the altar which is efficacious.”

Jesus Christus se bloed het die lewe van God gedra. Dit maak dat die waarde van Sy Bloed nie bepaal kan word op aarde nie. Dit is veels te waardevol.

Wanneer ‘n kind van God die Bloed toepas deur geloof, dan vlug die Satan en sy trawante, want die Bloed van Jesus is lewendig. Die lewe is in die bloed! Die duiwel haat dit wanneer mens selfs net die Bloed van Jesus noem. Voorbeelde daarvan is deur verskeie gevalle van bevryding al gevind. Sommige demone het gereageer, ‘moenie dit sê nie, moenie dit sê nie!’ ‘n Ander een het gesê,’Hoekom het jy DIT gesê?’ so asof ons iets verskriklik gesê het. Pastor Whyte vertel van ‘n voorval waar hy deel was van die bevryding van ‘n vrou wat haar sinne verloor het. Die bevrydingspan se strategie was om die bloed van Jesus te pleit. Onmiddelik het daar ‘n vreemde stem deur die vrou gepraat: ‘Moenie dit sê nie!’ Hulle het egter aangehou om die Bloed te pleit en die demoon het later gesê, “Julle kan dit maar sê, ek gee tog nie om nie. Dis tog alles opgedroog!” Daarmee het hy uit die vrou gegaan en sy het tot haar sinne gekom.

Die Bloed bewerk versoening vir die siel

Toe Adam en Eva uit Eden verban is, het God nie die Vyeblaar klere wat hulle aangegaan het, voldoende gevind as ‘n bedekking vir hulle nie. Hy het twee diere doodgemaak en die velle vir hulle gegee as bedekking. Hier sien ons weereens dat daar bloed moet vloei vir ‘n effektiewe bedekking. Geen ander bedekking was aanvaarbaar nie.

Wanneer die mens aan homself oorgelaat word, vind hy godsdienste uit wat funksioneer sonder dat die storting van bloed vereis word. Sulke godsdienste is ‘vyeblaar godsdienste’. Heb 9:22 lees, “En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.”

In 1 Joh 5:6-8 lees ons, “Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Ons moet nie die krag van die Bloed van Jesus onderskat nie. Hoekom nie? Want die bloed bewerk versoening vir die siel (Lev 17:11). Hoe bewerk die bloed versoening vir die siel? Strongs se woordeboek vertaal die woord ‘versoening’ eerstens met ‘bedekking’ of ‘covering’.  Die Bloed bewerk dus eerstens ‘n bedekking vir die siel. Wanneer God na die mens kyk deur Jesus se Bloed, dan bedek die bloed die mens se siel en staan die mens in vrede met God. Die Hebreeuse woord vir ‘versoening’ verwys na ‘n bedekking so dig soos pik of teer, maw dit is waterdig en mens kan ook glad nie daardeur sien nie.

Hierdie bedekking met Bloed moet nie net ‘n teologiese begrip vir ons wees nie, maar ‘n werklikheid waarvolgens ons daagliks ons lewens inrig.

Die Bloed praat

In Gen 4 lees ons die verhaal van Kain wat vir Abel doodgeslaan het. In vers 10  roep God vir Kain tot verantwoording vir die moord op sy broer. God sê dat Abel se bloed om wraak roep: “En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.” (AOV)

In Heb 12:24 lees ons, “en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.”

In die Engels vertaal dit, “to Jesus the Mediator of the new covenant, and to the blood of sprinkling that speaks better things than that of Abel.”( NKJV)

Ons sien dus dat bloed praat. Wanneer ons deur die Bybel lees, lyk dit of alle bloed met God praat.

In hierdie geval het Abel se bloed om wraak geroep. Wanneer ons die Bloed van Jesus pleit, praat Sy Bloed met God en pleit dit vir genade, barmhartigheid en beskerming. Dit is beter dinge as wraak.

Wanneer ‘n Christen die Bloed van Jesus hardop praat, sing of pleit, veroorsaak dit ook konsternasie in die geesteswêreld. Satan het baie moeite gedoen om die mens te verblind sodat hy nie die krag van die Bloed van Jesus raaksien nie. Vandag nog is daar baie mense wat sê dat hulle niks met ‘n ‘slagpale godsdiens’ te doen wil he nie. Daar is godsdienste sonder die Bloed (en daarom die Lewe) van Christus in dit. Daarteen het die Satan geen beswaar nie.

Sodra ons egter aktief en daagliks die Bloed van Jesus gebruik en ons eie maak, is dit soos ‘n vuur in ‘n perdebynes. Geen wyse Christen sal bv. ooit ‘n bevryding onderneem sonder die Bloed van Christus nie.

Die pleit van die Bloed

Ons lees in Exodus 12:22  hoe die bloed as beskerming gebruik is. Dit gee aan ons ‘n goeie aanduiding hoedat ons dit vandag moet gebruik: “En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.”

Die hissop takkie wat ons vandag gebruik om die Bloed mee aan te wend, is ons geloof.

Wettige pleit

In ons aardse howe is daar verskeie pleite wat ons kan pleit in ‘n hof, bv. ‘skuldig’, ‘onskuldig’, ‘autrefois convict/acquit’ ens. In die hemelse hofsaal is daar egter ‘n ander, addisionele pleit: Die Bloed van Jesus.

Die Satan kla ons gereeld voor God aan (die Bybel sê hy is die aanklaer van die broers – Op 12:10). Wanneer ons die bloed van Jesus pleit, dan kyk Vader God deur die Bloed van Jesus na ons. Omdat die Bloed ons dan bedek, sien Hy nie die sonde raak nie, en sodoende word ons onskuldig bevind. As jy dus so aangekla voel oor ‘n sonde wat jy al lankal bely het of oor ‘n saak waarin jy onskuldig voel, kan jy die Bloed van Jesus pleit en sodoende die aanklagte teen jou oorwin.

Slot

Ek lees ‘n rukkie terug ‘n boek met getuienisse oor die krag van die Bloed. ‘n Vroue pastor vertel dat sy en haar man in ‘n sekere area in Kalifornie bedien het. Daar was onder ander ‘n ‘trailer park’ (soos ons plakkerskampe) waar arm mense gewoon het. Een aand het sy sterk gelei gevoel om te preek oor die krag in die Bloed en dat mens dit ook kan pleit vir beskerming. Laat daardie nag het ‘n sterk aardbewing oor daardie gebied plaasgevind met ‘n groot verlies aan lewens en eiendom. Die mense wat daardie aand die Bloed gepleit het, se eiendomme het geen skade gehad nie en daar was geen lewensverlies nie. Die grootste verwondering wat egter plaasgevind het, was dat ‘n dogter van een van die gemeentelede, die Bloed van Jesus gepleit het oor die ‘trailer park’ net toe die aardbewing begin het. Behalwe vir twee karavane, was daar absoluut geen aardbewing skade in die park nie!

Ek het al van baie getuienisse gehoor en gelees oor groot wonderwerke wat plaasgevind het wanneer mense aktief en respekvol die Bloed van Jesus in hulle lewens gepleit het – oor hul finansies, gesinne, eiendomme, gesondheid, geestelike welstand en nog baie meer.

Die goue draad wat vir my deur al die getuienisse geloop het, was dat ons dit nie soos ‘n ‘magic charm’ moet gebruik nie. Dit is nie ‘n rympie wat toorkrag besit wanneer mens die Bloed van Jesus pleit nie. Die Bloed van Jesus is kragtig wanneer dit daagliks in geloof aangewend word deur kinders van die Here met die eerbied en respek wat dit verdien.  (as daar tyd is, lees getuienisse op bl. 40 van PB)

AMEN.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.